Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou neem eie lewe ná sy glo deur 5 verkrag is

’n Saamtrek is Donderdagaand vir ’n jong vrou van Uitenhage in die Oos-Kaap gehou wat blykbaar deur ’n groep mans verkrag is en toe haar eie lewe geneem het.

Sowat 200 inwoners, asook plaaslike raadslede, het saam met die familie en vriende van die 21-jarige Sue-Ann Klaasen by haar ouerhuis in Rosedale bymekaargekom om haar lewe te vier.

Klaasen is Donderdagoggend in die provinsiale hospitaal in Uitenhage dood.

Sue-Ann Klaasen. Foto: Facebook

Sy is op 7 September in die hospitaal opgeneem nadat haar ouma haar bewusteloos op haar bed aangetref het.

Volgens die polisie se inligting het Klaasen se ouma haar met die hulp van die bure na die hospitaal geneem waar sy in die hoësorgeenheid opgeneem is.

Intussen word daar bespiegel dat Klaasen ’n dag of twee voordat sy haar eie lewe geneem het om die beurt deur sowat vyf mans verkrag is. Die voorval het na bewering by ’n huis gebeur waar ’n partytjie gehou is.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die polisie is bewus van die gerugte oor ’n verkragting aangesien dit op sosiale media versprei word, maar sê nog geen amptelike verkragtingsaak is geopen nie.

Dit is ’n verskriklike situasie, nie net vir die familie nie, maar vir die gemeenskap in geheel.

Ná Klaasen se dood het die polisie ’n geregtelike doodsondersoek geopen, sê Swart.

“Die oorsaak van haar dood sal deur die lykskouing bevestig word. Dit sal ook bepaal of sy verkrag is.”

Die lykskouing sal na verwagting Maandag gehou word.

Ondanks bewerings dat Klaasen reeds in die hospitaal vir die beweerde verkragting ondersoek en behandel is, sê Swart die dokter het bevestig dat hulle Klaasen slegs vir die selfdoodpoging behandel het.

Familie, vriende en gemeenskapslede het Donderdagaand kerse aan die brand gesteek ter viering van Sue-Ann Klaasen se lewe. Foto: Skermgreep

Georgen Miggels, DA-raadslid in die gebied, sê die Klaasen-gesin is nog erg geskok oor die voorval. Hy sê die saamtrek was in opstand teen misdaad, om Klaasen se lewe te vier en om oor die beweerde verkragting te praat.

“Dit is ’n verskriklike situasie, nie net vir die familie nie, maar vir die gemeenskap in geheel. Mense is baie ontsteld oor die voorval.”

Volgens hom beplan die gemeenskap om Sondag omstreeks 15:00 ’n optog teen misdaad in die gebied te hou.

’n Familievriend van die Klaasen-gesin het Vrydagoggend by hul huis gesê dat die familie nog nie gereed is om met die media te praat nie.

Meer oor:  Uitenhage  |  Oos-Kaap  |  Geweld Teen Vroue  |  Verkrag  |  Geslagsgeweld  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.