Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou ontsteld ná buurman glo 3 honde skiet

’n Kaapse vrou is hewig ontsteld nadat haar drie gesinshonde Woensdag na bewering deur die huurder van ’n buurplaas naby Melkbosstrand doodgeskiet is.

Die beagle wat Woensdag geskiet is.

Nikki Thurgood, een van die eienaars van Thandeka Stables, sê die verdagte hou vol dat hy die twee rifrughonde en ’n beagle geskiet het omdat hulle glo sy skape doodgebyt het.

Thurgood sê haar seun het Woensdagoggend skote van die buurplaas se kant af gehoor en gesê hulle moet kyk waar die honde is.

Sy sê dit is nie die eerste keer dat die man op haar honde skiet nie.

Hulle het eers net een van die honde se karkas gekry, maar later ook op die ander twee afgekom.

“Hy wou nie vir ons of die polisie op die plaas toelaat om te kyk of die skape regtig vrek is nie. Hy het vir die polisie gesê hy het reeds die skape geslag.

“Ek is platgeslaan. Niemand het die reg om net ons honde vrek te skiet nie. Dit is siek.”

Daar is deesdae nie meer ’n draad tussen die twee plase gespan nie en dit veroorsaak probleme, sê sy.

Thurgood sê sy glo nie dat die honde die skape vrekgemaak het nie. “Hulle was dikwels tussen kinders, katjies en hoenders, wat niks oorgekom het nie.”

Kapt. Frederick Van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê hulle ondersoek ’n saak van kwaadwillige saakbeskadiging.

Hy sê die Kaap de Goeie Hoop Dierebeskermingsvereniging (DBV) het die karkasse na ’n staatsveearts geneem vir ’n outopsie. Die uitslag sal bepaal of nog klagte bygevoeg moet word.

Die toneel waar een van die honde se karkas Woensdag gevind is.
Een van die rifrughonde wat Woensdag geskiet is.

Niemand is al in hegtenis geneem nie.

Van Wyk sê sodra die ondersoek afgehandel is, sal ’n besluit oor vervolging geneem word.

Jaco Pieterse, ’n senior inspekteur van die DBV, sê hulle kan in dié stadium nie sê of die honde gely en of hulle onmiddellik gevrek het nie.

“Die DBV sal klagte van wreedheid teenoor diere byvoeg sodra ons die outopsie-verslag terugkry en lyding kan bewys.”

Pieterse sê die DBV het Donderdag ’n klag ontvang van nóg ’n hond wat in dieselfde gebied geskiet is. Dié hond het die voorval oorleef.

Die DBV ondersoek ook dié voorval.

“Die bure glo die hond is deur dieselfde persoon geskiet.”

Pieterse sê die DBV keur dit nie goed dat “probleemhonde” geskiet word nie omdat daar ander maniere is om die probleem op te los. Die honde behoort aan iemand. Die persoon moes die saak eerder met die eienaars bespreek het as om tot so ’n drastiese stap oor te gaan, sê Pieterse.

Meer oor:  Honde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.