Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou se herstel ná ongeluk ‘sal jaar duur’

Die herstel van 'n jong vrou van Mbombela wat ná ’n motorongeluk 28 uur lank in haar motorwrak vasgekeer was, sal sowat ’n jaar duur.

Selanna Biggs (19) is Dinsdag in die Mediclinic Mbombela geopereer vir haar gebreekte linkerbeen, maar die operasie kon weens ’n infeksie nie voltooi word nie.

Selanna Biggs (19) Foto: Verskaf
Melisa Biggs by haar dogter, Selanna (19), in die Mediclinic Mbombela. Foto: Verskaf

Haar ma, Melisa Biggs, sê Selanna is Vrydagmiddag geopereer nadat sy eers antibiotika moes neem. Die wond is toe toegemaak en daar is ook aan ’n gebreekte toon geopereer.

“Die dokter sê sy het ’n slegte beenbreuk opgedoen. Daar is ’n moontlikheid dat sy dalk oor ’n paar maande ’n been-inplanting sal moet kry. Dit sal slegs gedoen moet word as die been nie behoorlik teruggroei nie. Selanna sal vir talle opvolgbesoeke en X-strale moet gaan. Volgens die dokter sal haar herstelproses sowat ’n jaar duur.”

Hashimoto se siekte (chroniese limfositiese tiroïditis), ’n outo-immuunsiekte wat die tiroïedklier aantas, is vyf jaar gelede by Selanna gediagnoseer. Die siekte sal haar herstelproses beïnvloed.

Selanna Biggs in die hospitaal. Foto: Verskaf

Sy het verlede Saterdag die sowat 30 km uit Mbombela na Kaapschehoop gery toe sy beheer oor haar Suzuki S-Presso verloor het.

Die motor het tussen 100 m en 150 m by ’n helling in ’n plantasie afgerol, het Albert Gryvenstein van Bossies-gemeenskapsveiligheid gesê.

Hy en ’n soekspan het deur die nag na Selanna gesoek. Haar ouers het haar by die Mbombela-polisiekantoor as vermis aangemeld.

Reddingswerkers by die wrak waarin Selanna Biggs ure lank vasgekeer was. Foto: Verskaf

Selanna was 28 uur lank in die motorwrak vasgepen met slegs ’n kortbroek en T-hemp aan. Sy het ook ’n harde hou teen haar voorkop gekry.

Sy is Sondag omstreeks 16:30 opgespoor. Sy was nie by haar volle bewussyn nie en is per helikopter na die Mediclinic Mbombela gebring.

Dit is nog nie duidelik wanneer sy ontslaan sal word nie.

“Ons kon net sowel langs haar graf gestaan het; ons is dus dankbaar dat sy leef en ons langs haar hospitaalbed kan wees,” het Melisa gesê.

Meer oor:  Mbombela  |  Motorongeluk  |  Vermiste Vrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.