Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou sien hoe elektriese hek haar verloofde doodskok

“Hy was ’n bron van lig en liefde. Hy het my lewe gered.”

So sê Danielle Smith (24) oor haar verloofde, Carel van Heerden (28), wat Vrydagaand by sy ouerhuis in Bela-Bela, Limpopo, voor haar oë deur ’n elektriese hek doodgeskok is.

Sy en Van Heerden sou Saterdag getrou het, maar moes hul troue weens Covid-19 tot 12 Junie volgende jaar uitstel.

’n Hartgebroke Smith het Sondag aan Netwerk24 vertel dat sy en Van Heerden Vrydagaand saam met haar ouers van Mafikeng in Noordwes na Limpopo gery het om by Van Heerden se ouers, Piet en Fredrieka, te kuier.

Carel van Heerden, ’n laerskoolonderwyser wat in Noordwes gewerk het, is Vrydagaand by sy ouerhuis in Limpopo doodgeskok.
Carel van Heerden en Danielle Smith sou volgende jaar getrou het. Hy is Vrydagaand voor haar oë doodgeskok.

Smith, ’n veearts, het vanjaar haar gemeenskapsjaar in Mafikeng voltooi en Van Heerden, ’n laerskoolonderwyser, het daarheen verhuis om by haar te wees.

“Ons sou Sondag ’n proeëry by ons trou-venue daar naby gehad het en ons het gedink ons sal sommer ’n familienaweek daarvan maak,” sê Smith, wat in Maart vanjaar aan Van Heerden verloof geraak het.

Carel van Heerden (heel regs) was baie geheg aan sy gesin. Van links is sy kleinboet, Ranier, sy ma, Fredrieka en sy pa, Piet.
Carel van Heerden en Danielle Smith het in Maart vanjaar verloof geraak.

Smith sê hulle het kort voor 20:00 by Van Heerden se ouerhuis stilgehou waar die elektriese hek buite werking was.

Dit is nog onseker waarom daar wel ’n elektriese stroom in die hek was, aangesien dit nie gewerk het nie.

“Ek wou uitklim om die hek oop te maak, maar hy wou nie hê ek moes in die reën staan nie. Toe hy uitklim, het ek na die bestuurdersitplek geskuif sodat ek vinnig kon intrek, want ek wou nie hê hy moes te nat word nie.

Ek het gewonder waarom hy so lank stilstaan en toe besef ek hy is besig om te skok.”

Smith sê sy het uit die motor gespring om haar geliefde te probeer help.

“Ek het geweet ek mag nie aan hom vat nie, maar ek moes hom probeer loskry. Ek het vasgesit toe ek aan hom vat. Dit het swart geword voor my, maar ek kon wonder bo wonder loskom.”

Smith sê haar pa het toe ’n rubberpyp gebruik om Van Heerden los te kry.

Intussen het sy Van Heerden se ouers in die huis gebel.

“Ons het probeer keer, maar sy ma het aan die hek gevat en agteroor geval. Sy het darem net liggies geskok.”

Toe hulle uiteindelik die hek oopkry, het Smith saam met haar pa en Piet vir Van Heerden op Piet se bakkie gelaai en na ’n nabygeleë hospitaal toe gejaag.

Carel van Heerden was volgens sy familie ’n kranige kitaarspeler en sang en musiek was sy grootste passie.

“Ek kon in sy oë sien hy is reeds weg. Nogtans het ek vir hom mond-tot-mond-asemhaling gegee, maar met elke asemteug wat ek ingeblaas het, het dit gevoel hy gaan al verder weg.”

By die hospitaal het personeel gepoog om hom by te bring, maar hy is net ná 21:00 dood verklaar.

“Hy het my lewe gered,” sê Smith.

Sy sê Van Heerden was ’n sagte siel wat ’n manier gehad het om almal spesiaal te laat voel.

“Oral waar hy gegaan het, het hy lewens verander. Hy het almal altyd met respek hanteer en my absoluut op die hande gedra.”

Van Heerden het graag kitaar gespeel en was passievol oor musiek.

“Hy kon baie mooi sing en hy wou graag nog eendag by Afrikaans is Groot sing. Musiek was sy grootste passie.”

Sy sê sy sal sy glimlag die meeste mis.

“Hy het die mooiste kuiltjies gehad. Hy kon net vir my kyk en het dadelik geweet wat ek dink of wat ek nodig het. Dis nie regverdig nie. Ons het ons hele lewe saam beplan.”

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die polisie ondersoek tans die saak.

“Die oorsaak van Van Heerden se dood sal nog bepaal word en die polisieondersoek duur voort.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.