Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou sien rooi oor dié skade
Carin Verhoef in die Mercedes A200-leenvoertuig Sy oefen tans retensiereg uit op die voertuig totdat haar kar volledig herstel is. Foto: Elizabeth Sejake

Haar bloedrooi Mercedes-Benz moes net ’n nuwe sensor kry, maar ’n “klein ongelukkie” en maande later het ’n Bloemfonteinse sakevrou en ’n werknemer van ’n motorhandelaar mekaar nou by die polisie gaan verkla.

Carin Verhoef (49) beweer iemand by die John Williams Mercedes-handelaar in Bloemfontein het haar handtekening op ontvangsdokumente vervals om verantwoordelikheid te probeer ontduik vir skade wat haar motor in hul sorg opgedoen het.

Daaroor het sy Maandag ’n klag van vervalsing by die polisie gaan indien.

Volgens kol. NP Mbambo, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het ’n bestuurder van John Williams, Ronald Ramsoomar, ook ’n klag teen háár aanhangig gemaak.

“Dis vir die gebruik van ’n motorvoertuig sonder die eienaar se toestemming weens haar weiering om ’n Mercedes A200-leenvoertuig aan die handelaar terug te besorg.”

Verhoef is woedend. “Hulle weet ons oefen retensiereg uit op hul voertuig totdat my kar ten volle herstel en terugbesorg is.”

Dit het alles in Augustus begin toe sy haar 2007-model Mercedes B200 Turbo na die handelaar geneem het omdat die enjin begin oorslaan het. “Hulle het gesê dis net ’n sensor wat vervang moet word.

“Ek het die volgende oggend my kar ingevat. Die enigste vorm wat ek moes teken, was die standaard-Covid-19-klaring.”

Sy is van daar kantoor toe.

“Ek het gesukkel om hulle in die hande te kry, maar uiteindelik met ’n dienskonsultant gepraat. Sy het gesê: ‘Dit was toe die sensor, maar ons het ’n ongelukkie gehad. Die kar het geval, ag ek bedoel agteruit geloop en iets getref.’ En toe begin die probleme,” sê Verhoef.

Die dienskonsultant het volgens Verhoef gesê die handelaar het ’n duikklopper ontbied om die skade te ondersoek.

“Ons het daarop aangedring om na my kar te gaan kyk, maar toe ons daar aankom, was die kar gedeeltelik met ’n seil bedek. Hulle het net die regtervoordeur vir ons gewys.”

Daar was ’n duik in die deur.

Die duik in Carin Verhoef se 2007 B200 Turbo.

Die volgende week het sy die handelaar weer gekontak.

“Dieselfde dienskonsultant het gesê hulle moes die sensor bestel, maar die kar gaan solank paneelklopper toe. Daar was ’n klein duikie aan die kattebak agter wat ek self veroorsaak het. Ons besluit toe om dit ook te herstel terwyl die kar in is en gaan toe paneelklopper toe om ’n aparte kwotasie vir ons eie rekening aan te vra,” sê Verhoef.

“My man, Ivor, het gesien daar is fout agter. Die kar se lyne agter was nie in lyn met mekaar nie. Daar was gapings tussen van die panele. Hulle (die handelaar) het gesê hulle gaan net dit wat hulle beskadig het herstel – die deur en die skarniere,” sê Verhoef.

Sy sê dié skade het R19 182 beloop.

Die egpaar het die dienskonsultant vir die kringtelevisie-beeldmateriaal van die “ongelukkie” gevra. “Sy het gesê daar is nie van daardie dag enige beeldmateriaal beskikbaar nie. Hoekom weet ons nie.”

Verhoef sê teen 4 September het die herstelwerk nog nie begin nie. “Die paneelklopper het gesê hulle wag nog vir magtiging om te begin.”

Op 23 September het die Fiat wat die handelaar vir haar geleen het, se diensliggie aangegaan. “Hulle belowe toe ek sal ná die naweek ’n ander leenvoertuig kry om te gebruik tot my kar reg is.” Dit het egter eers gebeur nadat haar man op 2 Oktober sy stem gaan dik maak het.

“Ivor het vir hulle gesê hulle moet vir my ’n kar gee waaraan ek gewoond is of beter. Toe kry ek die Mercedes A200.”

Carin Verhoef

Die handelaar beweer toe Verhoef haar motor vir die vervanging van die sensor gebring het, het sy ’n dokument onderteken waarin sy erken die ander skade aan die voertuig is reeds daar.

“Ons het ’n handtekening­deskundige van Pretoria se hulp ingeroep. Oudkol. Frik Landman het 47 jaar se forensiese ervaring in die polisie. Hy het bevind die handtekening is vervals,” sê Verhoef.

Rapport het sy verslag gesien.

John Williams se bestuurder, Thabo Mokoena, het Rapport verwys na Nduvho Ramovha, ’n senior bemarking-en-kommunikasiebestuurder van die Barloworld-groep. Sy het Vrydag ’n verklaring gestuur wat lui: “Ons tegnikus het die regtervoordeur per ongeluk teen ’n staalpilaar gestamp.” Ramovha sê die handelaar hou vol hulle het nie Verhoef se handtekening vervals nie, maar ’n interne ondersoek is steeds aan die gang.

Nes Mokoena wou Ramovha nie vrae oor die beeldmateriaal beantwoord nie. Sy het Rapport na Mercedes-Benz verwys.

Meer oor:  Carin Verhoef  |  Ongelukkie  |  Leenmotor  |  Motorhandelaar  |  Mercedes-Benz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.