Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou smeek om lewe ná betonblok voertuig tref
JC Roos, wat in ’n hospitaal in Johannesburg aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel is nadat ’n stuk beton sy bakkie getref het. Foto: Verskaf

Terwyl haar bebloede man bewusteloos agter die stuurwiel van hul bakkie gesit het, het sy gesmeek om haar lewe.

Claudia Roos van Rustenburg vertel dat ’n stuk beton Donderdagoggend omstreeks 03:30 hul bakkie se voorruit getref het.

Wat volgende gebeur het, sal vir ewig by haar spook.

“Ek het ’n harde slag gehoor. ’n Stuk beton het deur die voorruit die stuurwiel getref en ons het oor ’n bultjie gery en skielik tot stilstand gekom,” vertel Roos.

Claudia, JC en Alliana was op pad na Welkom toe ’n stuk beton van ’n brug gegooi is en hul bakkie getref het. Foto: Verskaf

Roos, haar man, JC (26), en hul 13 maande oue dogtertjie, Alliana, was op pad om vir haar ma in Welkom te gaan kuier. Hulle het die Hartbeespoort-afrit geneem.

In die donker het sy JC bewusteloos agter die stuur gesien en dadelik haar broer gebel.

Claudia en JC Roos.Foto: Verskaf

“Ek het my boetie van die ongeluk vertel en toe ’n klop aan die venster gehoor. Ek het gedink dié man wou help, maar toe hy omloop na JC se kant waar die venster stukkend was, het hy ’n vuurwapen op my gerig.”

Hy het geld geëis.

“Moet my asseblief nie skiet nie. Moet ook nie my dogtertjie skiet nie,” het Roos gesmeek.

Toe Roos sê hy moet liewer haar selfoon vat, het hy daarna gekyk, toe in JC se rigting gekyk en weggestap.

“Dit was die Here se genade. God het ons bewaar.”

Minute later het JC wakkergeskrik.

“Hy het die heeltyd jammer gesê oor wat gebeur het. Hy wou ook weet of ek en sussie (Alliana) oukei is.”

Terwyl voertuie een ná die ander by hulle verbygery het, het ’n hulpelose Roos gehoop iemand kom hulle help.

“Ek het magteloos gevoel en gewonder hoekom niemand dan by ons stilhou nie. Kon hulle nie sien ons was in ’n ongeluk nie,” sê Roos huilend.

Roos sê haar skoonma was eerste daar.

’n Stuk beton het die bakkie getref.Foto: Verskaf
’n Stuk beton wat van ’n brug gegooi is, het op die Roos-gesin se voertuig beland.Foto: Verskaf
Skade aan die voertuig nadat ’n stuk beton die voorruit getref het. Foto: Verskaf

“Ek kon sien hoe hulle op en af verby ons ry. Volgens my skoonma was ons weggesteek agter ’n hoë wal.”

JC is stabiel in ’n hospitaal in Johannesburg.

“Hy is in ’n koma en aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel, maar hy is stabiel. Hoewel hy op sy eie kan asemhaal, wil dokters hê sy longe moet heeltemal herstel en ordentlik funksioneer.

“Sy gesig is ook nog geswel en dokters sal sy hele skedel moet herbou.”

Hoewel daar nog ’n lang pad na herstel is, is Roos dankbaar “hulle al drie is oukei”.

“Dit is verskriklik om vir JC só te sien, veral nadat ek met ’n paar blou kolle en merkies daar uitgestap het.

“Dit gaan goed met hom en die dokters is positief dat hy hierdeur gaan kom.”

Volgens Roos het ’n dokter by die hospitaal in Brits, waar JC aanvanklik behandel is, gesê hulle sien byna elke vierde maand soortgelyke gevalle waar iemand ’n klip of stuk beton by die brug afgooi en ’n voertuig getref word.

Die polisie se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

Meer oor:  Jc Roos  |  Claudia Roos  |  Rustenburg  |  Venster  |  Beserings  |  Betonblok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.