Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou nog in waakeenheid ná 28 uur in wrak

Die jong vrou van Mbombela in Mpumalanga wat ná ’n ongeluk 28 uur in ’n motorwrak vasgekeer was, sal minstens nog ’n week in die waakeenheid van die Mediclinic in die stad behandel word.

Selanna Biggs (19) het Dinsdagmiddag ’n operasie aan haar gebreekte linkerfemur ondergaan. Sy het ook een van haar tone gebreek.

Haar ma, Melissa, sê volgens die dokters sal sy die volgende drie maande geen gewig op haar been kan sit nie.

Selanna Biggs (19) van Mbombela het 'n motorongeluk oorleef. Foto: Facebook/Selanna Biggs

Selanna, wat verlede jaar matriek voltooi het, het ook ’n harde stamp teen haar kop gekry toe haar motor sowat 150 m teen ’n helling buite Kaapschehoop afgerol het.

Sy was vasgepen in die Suzuki S-Presso totdat sy Sondag omstreeks 16:30 gekry is.

Hasjimoto se siekte (chroniese limfositiese tiroïditis), ’n outo-immuunsiekte wat die tiroïedklier aantas, is vyf jaar gelede by Selanna gediagnoseer.

Haar ma sê sy is al deur baie swaarkry en pyn in haar lewe. Selanna het besluit om vanjaar slegs op haar gesondheid te fokus nadat sy veral verlede jaar erg deur haar siekte geraak is.

“Ons liewe Vader het haar lewe gespaar. Sy het ’n doel in die lewe.”

Dit was hel. Terwyl ons nie geweet het waar sy is nie, het sy alleen, bang en koud en in ontsettende pyn in haar motorwrak gelê.
Melissa Biggs en haar dogter, Selanna (19), van Mbombela. Foto: Facebook/Selanna Biggs
Die motorwrak van Selanna Biggs (19) van Mbombela in Mpumalanga.

Selanna was erg ontwater en nie by haar volle bewussyn nie toe Albert Gryvenstein van Bossies-gemeenskapsveiligheid en ander reddingswerkers op haar afgekom het.

Haar ouers het haar as vermis by die polisie aangemeld en ’n enorme deurnagsoektog na haar is begin.

Melissa sê dankie is nie voldoende om die gemeenskap van Mbombela te bedank wat gehelp het om na haar dogter te soek nie.

Selanna het Saterdagmiddag na Kaapschehoop, sowat 30 km buite Mbombela gery, soos wat sy gereeld doen. Melissa sê haar dogter sê sy het haar oë vir ’n oomblik van die pad gehaal en al wat sy onthou, is dat sy beheer oor die motor verloor het.

Die motorwrak waarin Selanna Biggs (19) 28 uur vasgekeer was.

Sy het slegs ’n kortbroek en T-hemp aangehad in die koue nagtemperature wat kenmerkend is van Kaapschehoop.

“Dit was hel. Terwyl ons nie geweet het waar sy is nie, het sy alleen, bang en koud en in ontsettende pyn in haar motorwrak gelê,” het Melissa gesê.

’n Man het Sondagmiddag toevallig die motorwrak gesien toe hy op die pad na Kaapschehoop was. “Hy het gesien daar is baie motors en motorfietse wat heen en weer op die pad ry. Hy het van die mense voorgekeer en gevra of hulle na iemand soek wat in ’n ongeluk was. Dít is hoe daar by haar uitgekom is.” Sy is per helikopter na die Mediclinic Mbombela geneem.

Meer oor:  Mbombela  |  Mpumalanga  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.