Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou sterf, 21 vas ná plundery in Kaap

’n Vrou is dood, 21 mense is in hegtenis geneem en vyf ondernemings van buitelandse sakelui het deurgeloop nadat inwoners van Samora Machel in Philippi Sondagoggend vroeg op ’n plundertog in dié gebied gegaan het.

Plaaslike inwoners sê die plundery “is nie noodwendig xenofobie nie”, maar talle buitelandse sakelui het hul deure gesluit uit vrees vir verdere plundering.

samora machel, geweld
’n Polisievoertuig gister buite geplunderde winkels in Samora Machel. Foto: Verskaf

Intussen het hernude geweld Sondagmiddag ook in die Johannesburgse middestad uitgebreek.

Die polisie het skokgranate en rubberkoeëls gebruik op ’n groep wat stokke en kapmesse rondgeswaai en sakeondernemings en eiendom beskadig het. 

Vyf mense is in die geweld en plundertogte beseer en een persoon is dood.

Luidens ’n polisieverklaring wou die groep hê migrante uit Afrika moet die stad verlaat, berig News24.

Minstens 12 mense, waarvan die meeste Suid-Afrikaners is, is die afgelope tyd in vermoedelik xenofobiese aanvalle in Johannesburg, Pretoria en aan die Oos-Rand dood.

Die aanvalle op buitelanders het tot groot spanning tussen Suid-Afrika en talle Afrikalande gelei. ’n Debat oor die aanvalle op buitelanders sowel as die vlaag van moorde op vroue en kinders sal Dinsdagmôre in die parlement gevoer word.

Xolani Jola, ’n inwoner van Samora Machel, het Sondagmiddag gesê sakelui is vreesbevange dat hul onderneming volgende op die plunderaars se lys is.

Volgens hom is een groot winkel, drie winkels met Chinese eienaars en ’n winkel met ’n Somaliese eienaar geplunder.

’n Kitsbank naby een van die winkels is ook beskadig en ’n gebou is aan die brand gesteek.

Volgens Jola was die jong vrou wat dood is ’n Suid-Afrikaner en deel van die groep plunderaars. Sy is glo vertrap deur die plunderaars wat weggehardloop het toe die polisie opdaag.

Hy sê die gemeenskap is ontsteld oor die gebeure, veral diegene wat werk in die winkels wat geplunder is.

“Hulle is nou werkloos, en baie van hulle is erg getraumatiseer, want hulle was in die winkels toe dit geplunder is/ Die eienaars was by hul huise in Wynberg en ander woonbuurte en het eers later daar aangekom.”

Jola sê die gemeenskap word ook ernstig geraak deur die plundering van die kitsbank, aangesien inwoners nou ’n taxi sal moet neem na ’n ander kitsbank.

Volgens Jola is die aanvalle nie noodwendig xenofobies nie. “Ek het self gesien hoe buitelanders aan die plundering deelneem. Ons weet nie wie dit begin nie, maar enigiemand klim in en neem deel. Dit kom nie noodwendig vir my voor asof dit regstreeks op buitelanders gemik is nie.”

Die situasie was teen Sondagmiddag kalm, maar steeds gespanne.

Volgens Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, wil dit voorkom of polisieklopjagte die geweld gisteroggend voorafgegaan het.Hy sê dit is onaanvaarbaar dat burgers amok maak, eiendom plunder en vernietig – ongeag wat daartoe aanleiding gee.

“As hulle hul optrede regverdig deur woede teen geregverdigde polisie-optrede, maak dit my kwaad. Ek word meegedeel dat die polisie in die vroeë oggendure klopjagte op sjebiens uitgevoer het, en dat dié optrede blykbaar die woede en die daaropvolgende vernietiging veroorsaak het.”

Marc Gbaffou, stigter van die African Diaspora Forum (ADF), het intussen ’n beroep gedoen op die Afrika-Unie (AU) en die Verenigde Nasies (VN) om druk op Suid-Afrika te plaas om immigrante te beskerm.

“Ons versoek ’n ondersoek na die xenofobiese aanvalle van Mei 2008 tot Augustus 2019. Ons versoek Suid-Afrika om die slagoffers van die aanvalle te vergoed en dat oortreders voor die hof gedaag word,” sê hy in ’n verklaring.

Intussen het Thabo Makgoba, die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, gesê hy is “geskok en skaam” oor die gewelddadige aanvalle op immigrante in Suid-Afrika.“Het ons die pyn vergeet wat gedwonge verskuiwings tydens apartheid veroorsaak het? Dit is skokkend dat daar nou diegene onder ons is wat dieselfde pyn aan ander wil toedien,” sê Makgoba.

“Ons kan nie onsensitief wees teenoor God se mense wat toevallig van buite ons grense is nie. Ons veroordeel die geweld teen hulle, en as aartsbiskop sê ek ons sal vir die getraumatiseerdes bid.

“Ons innige meegevoel aan diegene wat familielede verloor het.”
Meer oor:  Kaapstad  |  Philippi  |  Geweld  |  Xenofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.