Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou sterf ná gebruik van insekdoder in huis

Familie en vriende van Martie van der Westhuizen is geskok nadat sy Maandag onverwags dood is nadat sy vermoedelik gasse van ’n insekdoder ingeasem het.

Willie en Martie van der Westhuizen. Foto: Verskaf

Martie (59) se man, Willie, is ook deur die gasse oorval en sterk nog in ’n hospitaal in Potchefstroom aan. Willie (59) boer met soja, mielies en skape op die plaas Klippan sowat 20 km buite Koster in Noordwes. Die gasse het die egpaar in hul plaashuis oorval.

Die Van der Westhuizen-familie het Dinsdag in ’n verklaring gesê daar is nie nou meer besonderhede beskikbaar oor wat presies gebeur het nie.

“Martie was ’n aktiewe en betrokke lid van die gemeenskap en het baie mense se lewe aangeraak. Sy sal beslis in baie kringe gemis word.”

Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie doen ’n geregtelike doodsondersoek. Volgens haar het die Van der Westhuizens Vrydag insekdoder (vir die beheer van plae) in hul huis toegedien. Dis nie seker hoe hulle dit gedoen het en watter soort gif hulle gebruik het nie.

“Hulle was die naweek weg en het Sondag teruggekeer. Die huis se vensters was toe,” sê Funani.

Willie en Martie van der Westhuizen en van hul familielede. Foto: Verskaf

Volgens haar het Willie duiselig en baie moeg gevoel toe hy Maandagoggend wakker word. Hy kon Martie nie wakker kry nie. “Hy het hul predikant gebel. Die predikant is na die plaas en ’n ambulans is ontbied, maar sy is op die toneel dood verklaar.”

Ds. Danie Booyens, predikant van die Gereformeerde Gemeente in Koster, sê hy wil uit respek vir die familie en omdat die polisie die gebeure nog ondersoek, nie kommentaar lewer nie.

Fred Volker van die onderneming Pest Control Professionals in Potchefstroom sê hoewel hy hom nie kan uitlaat oor wat presies skeefgeloop het in die Van der Westhuizens se geval nie, is plaagbeheer altyd gevaarlik en moet dit met groot omsigtigheid gedoen word.

“As jy nie seker is hoe dit gedoen moet word nie, kry eerder professionele mense. Lees ook altyd die vervaardiger van die insekdoder se etikette deeglik en volg al die riglyne en voorsorgmaatreëls. Dis uiters belangrik om beskermende klere te dra.”

Volker sê mense is soms in die versoeking om self plaagbeheer toe te pas. “’n Mens moet egter weet wat jy doen, en onder meer watter plaagdoder en hoeveel in ’n bepaalde ruimte gebruik moet word.”

Martie word ook oorleef deur vier kinders, vier skoonkinders en vyf kleinkinders. “Haar skoonkinders was soos haar eie,” sê haar familie in die verklaring.

Die begrafnisreëlings sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.

Meer oor:  Koster  |  Gas  |  Sterfte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.