Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou ‘stukkend’ ná man eie lewe neem

“Hy het sy arms styf om my lyf gegooi, klap gesoen en sy liefde aan my verklaar, min wetende dat dit die laaste keer sou wees dat ek my man lewend sou sien.”

Lieb en Linda Liebenberg. Foto: Linda Liebenberg/Facebook

So sê Linda Liebenberg (53), vrou van ao. Lieb Liebenberg, wat hom Saterdagoggend in sy motor op die Jagersfontein-pad buite Bloemfontein geskiet het.

Liebenberg (57), ’n polisiebeampte by misdaadintelligensie in Bloemfontein, is Saterdag omstreeks 10:00 dood nadat hy homself om die lewe gebring het.

Hy was die afgelope sowat 40 jaar ’n polisieman.

Linda (53), sy vrou van die afgelope 35 jaar, sê min het sy geweet toe hy Saterdagoggend hul huis verlaat dat dít die laaste sien sou wees.

Volgens Linda het hy niks gesê nie, net dat hy by die Macufe-fees gaan werk.

Sy sê in terugskouing was dit vreemd hoe hy haar gegroet het toe hy die huis verlaat het.

“Hy het my anders as ander tye gegroet. Waar hy my gewoonlik net soen, het hy my omhels en hard gesoen en gesê hy is lief vir my. Dit was seker sy manier om afskeid te neem.”

Linda sê hy sou alles vir haar, hul kinders en kleinkinders doen.

“Hy was ’n wonderlike man, pa en oupa wat homself te kort sou doen sodat sy kinders in oorvloed kon hê.”

Sy sê sy gaan alles van hom mis, veral wanneer hy in die aande vir haar sou sê: “Pappa is baie lief vir jou.”

“Ek is stukkend. Dit was so onverwags. Hoe moes ek ooit weet dat toe jy my vanoggend gegroet het ek jou nooit weer sou sien nie? Hoe gaan ek aangaan sonder jou? Jy was my hele lewe. Rus in vrede. Ek sal jou altyd liefhê.”

Hy was ’n wonderlike man, pa en oupa wat homself te kort sou doen sodat sy kinders in oorvloed kon hê.

Stefan, sy seun, skryf op Facebook hy weet nou wat ’n stukkende hart is.

“Ai Pa. Vanoggend moes net ’n gewone oggend soos altyd gewees het met ’n vinnige groet toe Pa ry, maar min het ek geweet . . .

“Vanaand weet ek hoe voel dit om met ’n stukkende hart te sit. Vir wie gaan ek nou ’n vinnige grappie op WhatsApp stuur of op ’n Saterdag op die skeidsregters skree as die Sharks verloor?

“Daar is nog baie vrae. Ek sit met ’n leë hart vanaand. Ek hoop Pa se seer is nou weg.

“Pa sal altyd in my hart bly.”

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale woordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is begin en geen gemene spel word vermoed nie.

Benewens sy vrou en seun laat hy ook twee dogters, Marelize Lombaard en Linette Claassens, asook twee kleinkinders agter en sy sibbe, Janie Broekman, Gerda Pretorius, Trudie Rautenbach en Henk Liebenberg.

Die begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Selfdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.