Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou, tienermeisie dood toe bakkie op grondpad omslaan

Die gemeenskap van Upington in die Noord-Kaap en Brackenfell in die Wes-Kaap is Maandag geruk oor ’n ongeluk op ’n grondpad tussen Kakamas en Loeriesfontein waarin ’n vrou en ’n tienermeisie dood is.

Anneke Neser (51) van Upington en Chrisna de Beer (17), ’n gr. 11-leerling van die Hoërskool Brackenfell, is in die ongeluk dood. Chrisna het met Neser se seun, Hein, uitgegaan.

Teen Dinsdagmiddag was daar meer as 300 boodskappe van medelye op die Hoërskool Brackenfell se Facebook-blad en tientalle op Neser se Facebook-blad.

Kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

“Die ongeluk het omstreeks 14:40 op die grondpad tussen Kakamas en Loeriesfontein gebeur. Die bewering is dat die bestuurder van die Isuzu-bakkie beheer oor die bakkie verloor het. Daar was geen ander voertuig betrokke nie.

“Die vroulike bestuurder (51) is in die wrak en die meisie (17) buite die wrak aangetref. Die ander beseerde passasiers (18 en 19) is na die hospitaal geneem.”

Die ongelukstoneel waar Chrisna de Beer (17) en Anneke Neser (51) dood is.

Carin Burger, wat op die ongelukstoneel afgekom het, sê die pad was ure lank gesluit sodat die polisie hul ondersoek kon doen.

“Ons het sowat 10 km van die ongelukstoneel op ’n gestrande ambulans afgekom waarvan die waaierband gebreek was. Ons het verneem ’n ander ambulans is ontbied. Ons moes met ’n ompad om die ongelukstoneel, sowat 80 km buite Kakamas, ry.

“Die Neser-gesin het die naweek op hul plaas in die Boesmanland gekuier. Anneke en haar dogter, Jo-Nel, en haar seun Hein was saam met Chrisna op pad terug na hul plaas buite Upington toe die ongeluk gebeur het. Anneke se man, FJ, en hul ander seun, John, sou hulle later volg.”

Jo-Nel sê die gesin wil nie kommentaar lewer nie. ’n Familielid, Schalk Engebrecht, sê hy sal sy niggie Anneke baie mis.

“Sy was geliefd, iemand wat vir mense omgegee en altyd iemand onder haar vlerk geneem het. Sy was baie by die skool en haar kinders se sportaktiwiteite betrokke.”

Rona Sauer, haar dogter, Chrisna de Beer, en Heinrich Sauer, Chrisna se stiefpa. Chrisna is in die motorongeluk dood. Foto: Facebook/Heinrich Sauer
Jo-Nel (links), is in dieselfde motorongeluk beseer waarin haar ma, Anneke Neser, dood is.

De Beer was volgens haar stiefpa, Heinrich Sauer, en haar ma, Rona, “ ’n sprankelende kind wat altyd gelag en tyd vir ander mense gemaak het”.

Sauer sê Chrisna was ’n talentvolle sportvrou en het in atletiek, landloop en hokkie uitgeblink.

“Sy en Hein het mekaar in Desember 2017 by ’n binnenshuise hokkietoernooi ontmoet en het die laaste ses maande uitgegaan.”

Sauer se Facebook-inskrywing lui: “Waar begin ’n mens in so ’n tyd? Ons is stukkend, my kind. Ons gaan jou so ongelooflik mis. Jou lag en mooi smile en die lekker koffie wat jy altyd gemaak het. Ek sal nooit vergeet wat jy my van liefde, menswees en omgee vir ander geleer het nie. Ek weet jy is in die hemel, want dit is hoe jy gelewe het. ’n Voorbeeld vir almal.

“As ek die boodskappies lees van ouers wat ons nog nooit ontmoet het nie, besef ek hoe jy hul kinders in tye van nood bygestaan het. Ek besef meer en meer watter diamant ons verloor het.

“Ons almal gaan jou verskriklik mis. Nooit in my lewe sal ek vergeet wat jy vir my gedoen en beteken het nie. Dankie, my kind. Mag jy sag rus tot ons mekaar weer sien.

Chrisna word ook deur haar pa, Christiaan de Beer, en stiefma, Nicky, oorleef.

Meer oor:  Chrisna De Beer  |  Anneke Neser  |  Kakamas  |  Boesmanland  |  Upington  |  Bellville  |  Loeriesfontein  |  Padongelukke  |  Motorongelukke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.