Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou trap dogter uit in testament

’n Vermoorde vrou van Pretoria-Oos het haar laaste testament gebruik om haar enigste dogter so uit te trap dat die see haar nie kan afwas nie.

Tania Goldschagg en haar ma, Elbé Oosthuizen, in gelukkige dae. Foto: Facebook

Elbé Oosthuizen (61) is op 8 Augustus 2018 in haar huis in Queenswood vermoor.

Haar kinders het ’n afskrif van ’n getikte testament wat sy in 2013 opgestel het, tussen haar besittings ontdek.

Vir haar dogter, Tania Goldschagg (41), was die testament ’n reuseskok. Oosthuizen het hierin aan Tania gesê: “My kind, in die lewe het jy nooit enige respek vir my gehad of vir enige van my goed nie, dit is waarom jy my so aangerand het, my so sleg gesê het en belieg en bedrieg het. Jy het reeds uit my geswendel sonder my toestemming. Jy weet presies waaroor dit gaan. Sterkte vir jou toekoms.”

Die Pretoriase hooggeregshof het vroeër in Januarie dié dokument as Oosthuizen se laaste testament verklaar, anders sou Tania kon erf onder ’n vorige testament van 1994.

My kind, in die lewe het jy nooit enige respek vir my gehad of vir enige van my goed nie.

Oosthuizen se seuns, Nardo Oosthuizen en Dirk J. Winterbach, het die hof gevra om die 2013-testament as die geldige een te verklaar nadat die meester van die hooggeregshof nie die afskrif wou aanvaar nie.

Oosthuizen het voorheen in Middelburg, Mpumalanga gewoon. Sy en haar man, HVP Oosthuizen, het aanvanklik saam ’n testament gehad wat in 1994 opgestel is. Hulle is in 2010 geskei en elk het in 2013 ’n eie, nuwe testament opgestel. Haar man is in Januarie 2016 dood en hy het die grootste deel van sy boedel aan haar bemaak.

Maar toe Oosthuizen vyf jaar later vermoor is, kon die oorspronklike dokument van haar testament nie opgespoor word nie. Dit was nie in haar huis of by die bankiers, makelaars of prokureurs wat haar deur die jare bygestaan het nie.

Die broers het in die hofaansoek gesê as die afskrif van hul ma se 2013-testament nie aanvaar word nie, is daar ’n kans dat hul suster kan erf. Die broers en Tania se dogter, Eldenique (18), is erfgename in die 2013-testament. Die broers sê hulle en Tania het die 2013-testament bestudeer. Dit is behoorlik opgestel. Hulle glo almal dít is wat hul ma wou hê en dit is haar handtekening (as die testatrise) daarop.

Oosthuizen was kwaai in haar opdragte. Sy het voorgeskryf: “My as moet julle asseblief by Van Kleef se graffie gaan insit – en VERGEET VAN MY.”

Sy het beveel dat as haar kleindogter enige kontrakte wil aangaan, dit niks met Tania te doen mag hê nie. Daar moet verseker word dat die kleindogter se voorstelle uitgevoer word. “Daarvan moet julle baie seker maak!”

Oosthuizen het beveel dat die kleindogter se geld beskerm word. “Tania sal vir Eldenique uit hierdie gelde probeer swendel met haar slim streke – net soos wat sy met my gemaak het.”

Tania het aan Rapport gesê die testament het haar “baie hard geslaan”.

“Dit is omdat ek weet ek en my ma het vrede met mekaar gehad in die laaste tyd. Dit gaan nie vir my oor die erfporsie wat ek nie meer het nie. Ek is en bly haar dogter. Ek is baie lief vir haar en sy was maar lief vir my.”

Sy sê hul verhouding het ’n knou gekry toe sy (Tania) nog met haar gewese man getroud was. “Sy het geglo ek kies hom bo haar. Sy het my tot ’n mate verantwoordelik gehou omdat hy haar geld geskuld het. Maar op die ou end is ek en hy geskei. My en my ma se verhouding het herstel.”

Sy sê daar was wel ’n eenmalige aanrandingsvoorval. Sy en haar ma het ’n rusie gehad. Sy was besig om wasgoed te dra. Haar ma het drank ingehad en aan haar gestamp. “Ek het geval. My reaksie was dat ek omgedraai en haar geklap het. Soms verskil ma’s en dogters maar. Sy het altyd gesê ons is uit dieselfde hout gekap. Ons het gebots omdat ons persoonlikhede dieselfde is.”

Tania sê toe haar ma die 2013-testament opgestel het, was sy nog kwaad vir haar. “Sy wou my seermaak vir wat my eksman aan haar gedoen het.”

Sy sê sy is doodseker haar ma sou later haar testament verander het omdat hulle versoen het.

Haar ma het elke tweede naweek by haar in Middelburg kom kuier, sê Tania. Die dag van haar ma se moord het hulle nog die oggend met mekaar gepraat.

“Sy het gesê sy voel nie baie lekker nie. Ek het gesê sy moet bly lê totdat sy beter voel. Die volgende oproep wat ek gekry het, was dat sy dood is.”

Meer oor:  Elbé Oosthuizen  |  Tania Goldschagg  |  Middelburg  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.