’n Buspassasier moes Maandagoggend inderhaas help om ’n baba in die lewe te bring toe ’n jong vrou skielik begin kraam het.
Marlene Reineke, eenheidsbestuurder by die trauma-en-noodeenheid van die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein, het nie net die babameisie in ’n bewegende bus gevang nie, maar boonop haar lewe gered toe sy ná die geboorte nie asemgehaal het nie.
Reineke en haar man, Theo, was op pad terug van ’n vakansie in Durban toe sy buite Bloemfontein die vrou se noodkrete vanuit die bus se toilet hoor.

Marlene Reineke sluit haar loopbaan op ’n hoë noot af nadat sy ’n baba se lewe gered het toe haar ma skielik in ’n bewegende bus gekraam het. Foto: Mlungisi Louw
Sy het bo-oor haar man gespring om die vrou te gaan help. Die baba se kop en naelstring het reeds uitgesteek.
Met geen mediese toerusting nie en met slegs ’n plastieksak, ’n skêr en verband kon Reineke die meisie, wat op 28 weke gebore is, in die lewe bring.
“Die baba was potblou en het geen teken van asemhaling getoon nie. Ek het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, haar voetjies gevryf en haar hartjie gedruk totdat sy op haar eie asemgehaal het,” sê Reineke, wat 30 jaar laas ’n baba gevang het.

Marlene Reineke Foto: Mlungisi Louw
Sy het haar nuwe trui uitgetrek, die baba toegedraai en haar styf teen haar gehou totdat die ambulans hulle na die hospitaal geneem het.
Reineke sê die geskokte ma wou net weet of die baba oukei is en wat die geslag is.
“Sy het geglimlag toe ek sê die baba is oukei en gesê die baba lyk net soos haar pa.”
Reineke sê alles het teruggekom en sy kon nie glo dat sy met iets só wonderliks gehelp het nie.
“Wat ’n manier om my loopbaan ná 40 jaar af te sluit. Ek was op die regte plek op die regte tyd en is dankbaar dat ek nie net gehelp het om iemand in die lewe te bring nie, maar ook om haar lewe te red.”
Sy sê die passasiers het ná die tyd gespot dat dié baba sommer Greyhound moet heet na die bus waarin sy gebore is.
Volgens Reineke gaan dit goed met die baba en haar ma.