Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou veg dat reklamebord oor Pistorius verwyder word

’n Dag nadat ’n inwoner van Kaapstad ’n reklamebord vir ’n nuwe dokumentêre program oor Oscar Pistorius in Stellenbosch gesien het, is dit deur die bestuur van die winkelsentrum verwyder.

Jolene Samuels het Vrydag gesê sy was in die parkeerterrein van Stellenbosch Square in Jamestown, Stellenbosch, toe sy die lewensgrootte reklamebord sien.

Dit het haar so ontstel dat sy onmiddellik die telefoonnommer van SB Outdoor, die mense wat die bord opgerig het, geskakel het. Sy sê dit het vir haar gou duidelik geword dat hulle nie belang stel in die redes vir haar ontsteltenis nie.

Die reklamebord wat Jolene Samuels van Kaapstad so ontstel het dat sy werk daarvan gemaak het om dit te laat verwyder. Foto: Facebook

Sy het daarna die bestuur van Stellenbosch Square gebel. Hier het sy met Liesl Stals gepraat, wat na haar geluister het.

“Ek het vir haar gesê hoekom dit my ontstel, veral gegewe ons in die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders is en vroue en kinders hulle aanhoudend moet verdedig teen mans en die geweld waaraan hulle hul slagoffers onderwerp.”

Samuels het gesê sy besef dat ESPN, die vervaardiger van die dokumentêre program, dit wil bemark, maar dit kan nie ten koste van Reeva Steenkamp en haar ouers wees nie.

“Hulle gebruik boonop ’n foto van hom in die hof waarin hy huil. En dan skryf hulle: ‘The life and trials of Oscar Pistorius’

“Verwag hulle dat ons simpatiek moet staan teenoor hom? Wat van Reeva se ouers, wat van Reeva se lewe wat hy geneem het? Wat van die duisende ander vroue wat hul lewe aan die hand van hul mans en lewensmaats verloor?”

Oscar Pistorius, voormalige Paralimpiese atleet en veroordeelde moordenaar, tydens sy verhoor. Foto: Argief

Sy het Stals gevra hoe kan hulle iemand bemark wat ’n vrou vermoor het. “Hoe kan ons so iets goedpraat? Ons mag nie.”

Samuels het ook ’n foto van die reklamebord op haar Facebook-profiel geplaas, waarna honderde boodskappe ter ondersteuning van die verwydering van die reklamebord ingestroom het.

Pistorius het die model Reeva Steenkamp, met wie hy in ’n verhouding was, in 2013 op Valentynsdag in sy huis in Pretoria doodgeskiet.

Die voormalige Paralimpiese atleet dien tans 13 jaar tronkstraf vir die moord uit.

Pistorius se verweer in die hofsaak was dat hy gedink het Steenkamp is ’n inbreker.

Die prokureur Tania Koen, woordvoerder van Reeva se ouers, Barry en June Steenkamp, het Vrydag gesê Samuels se optrede het die Steenkamps weer hoop gegee.

“Dit is vir June en Barry ’n riem onder die hart dat gewone mense soos Jolene Samuels en ander lede van die publiek hulle soveel ondersteuning gee.”

Reeva Steenkamp is op Valentynsdag 2013 deur haar kêrel, die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius, vermoor.

Koen sê pres. Cyril Ramaphosa het self gesê Suid-Afrika gaan gebuk onder ’n pandemie van geweld teen vroue en kinders. “Dit is een van die redes waarom Barry en June ná Reeva se dood die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting op die been gebring het. Hulle wil met die stigting elke dag lig op dié pandemie werp.”

Koen is ook die uitvoerende hoof van die stigting.

Sy sê June en Barry kan nie uitgepraat raak oor Samuels se optrede nie.

“Hulle vind dit verblydend dat ’n gewone vrou opgestaan het en haar stem hard genoeg laat hoor het. Dit is vir ons ’n bewys dat as ons as ’n gemeenskap saamstaan, kan ons wel ’n verskil maak.”

Koen sê Samuels het ook aan die stigting geskryf om hul aandag op die reklamebord te vestig. Sy het ook laat weet toe dit verwyder is.

Die BBC het in Oktober vanjaar ’n promosie-insetsel van die nuwe dokumentêre reeks oor Pistorius se lewe onttrek nadat dit sterk kritiek ontlok het omdat Steenkamp se naam nie daarin genoem word nie.

Die dokumentêr, The Life and Trials of Oscar Pistorius, is deel van ESPN se bekroonde 30 for 30-reekse, en handel oor Pistorius se lewensverhaal as internasionale held wat talle geïnspireer het met sy deursettingsvermoë as Paralimpiese atleet tot waar hy later op die moord van Steenkamp teregstaan.

Navrae is aan SB Outdoor gerig. Hul reaksie sal bygewerk word sodra dit ontvang word. Die bestuur van Stellenbosch Square is ook om kommentaar genader. Dit sal ook bygewerk word sodra dit ontvang word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.