Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou verloor alles ná huisbrand in Pellissier

’n Vrou van Bloemfontein het Woensdag al haar besittings verloor nadat haar huis in Pellissier binne minute afgebrand het.

“Alles daarin is weg. Ek het niks oor nie,” het ’n verslae Maria Duvenage (54) gesê nadat haar huis in Besemboslaan, Pellissier, in ’n brand vernietig is.

Haar staffordshire-terriër, Welgun, is na veiligheid gebring nadat die brandweer en ander mense wat op die brand gereageer het, betyds die hekke kon oopmaak.

Duvenage het verslae buite die huis gestaan en telkemale haar kop in haar hande laat sak en soms ook trane afgevee terwyl die brandweer die vlamme, wat haar huis verswelg het, geblus het.

’n Emosionele Maria Duvenage reageer Woensdag oor haar huis in Besemboslaan, Pellissier, wat deur ’n brand verwoes is. Foto: André Damons

Die brand het tussen 10:00 en 11:00 ontstaan en die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens was binne minute op die toneel.

Duvenage, ’n administratiewe beampte, bly alleen in die huis en was by die werk toe die brand uitbreek.

Braam van Zyl, afdelingsoffisier van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens, sê die brand het aan die voorkant van die huis begin en vinnig na agter versprei.

Die grasdak van die bure se lapa het ook aan die brand geraak en die brandweer moes vinnig keer om die vlamme te stuit.

“Ek voel verlore. Alles wat ek gehad het, het gebrand. Ek het niks oor nie. Ek nader my aftreeouderdom, so hoe gaan ek kan herstel?” sê sy.

’n Verslae Maria Duvenage hou Woensdag haar kop vas buite haar huis in Besemboslaan, Pellissier, wat deur ’n brand verwoes is.Foto: André Damons
Lede van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens spuit Woensdag die vlamme dood by ’n huis in Pellissier, Bloemfontein. Foto: André Damons

Sy gaan vir eers by haar dogter, Ronel de Wit, bly.

Volgens Van Zyl is twee gassilinders en vuurwapens uit die huis verwyder.

“Met ons aankoms op die toneel was die brand in ’n gevorderde stadium. Ons het twee brandweerwaens en ’n watertenker op die toneel gehad en 13 bemanningslede het die brand geblus,” sê Van Zyl.

Volgens hom is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.

Duvenage sê haar duur houtmeubels, -vloere en -plafonne het waarskynlik daartoe bygedra dat die brand so vinnig versprei het.

Polisiebeamptes en lede van die AfriForum-buurtwag het ook gereageer nadat hulle die rook gesien het.

Van Zyl sê daar was goeie samewerking tussen lede van die verskeie veiligheidsmaatskappye, buurtwaglede, die polisie en die brandweer.

Forensiese ondersoekers van die brandweer en die polisie sal Donderdag hul ondersoek by die huis voortsit om die oorsaak van die brand te probeer bepaal.

’n Brandweerman spuit Woensdag deur ’n venster vlamme dood by ’n huis in Pellissier wat vroeër deur ’n brand in puin gelê is. Foto: André Damons
’n Lid van die Mangaung-brandweer-en-reddingsdiens klim Woensdag deur ’n venster om vlamme in die huis in Pellissier te blus. Foto: André Damons
Meer oor:  Pellissier  |  Huisbrand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.