Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou wat deur njala beseer is, verjaar in hospitaal

Die diereliefhebber van Phalaborwa wat meer as ’n week gelede deur ’n njalabul beseer is, het Sondag haar 53ste verjaardag in die hospitaal gevier.

Barbara Boshoff se familie het haar verjaardag in die Mediclinic Tzaneen met besoeke, geskenke en ballonne opgevrolik.

Dr. Wessels Boshoff (68), haar man, word ook steeds in dié hospitaal in Tzaneen behandel.

Barbara Boshoff het Sondag haar 53ste verjaarsdag in die MediClinic Tzaneen gevier.

Zander Osmers, ’n seun van Barbara uit ’n vorige huwelik, sê dit “gaan al beter” met sy ma en stiefpa.

“Daar lê egter nog ’n baie lang pad na herstel vir hulle voor,” sê Osmers.

Hy sê sy ma sukkel om te loop. Sy het ernstige wonde aan haar bene opgedoen toe die njalabul, wat sy op hul hoewe buite Phalaborwa grootgemaak het, haar bene met sy horings deurboor het.

Dr. Wessels Boshoff (68) van Phalaborwa sterk steeds aan in die Mediclinic Tzaneen nadat ‘n njalabul hom beseer het.

Die njalabul, wat hulle Seun genoem het en wat sowat vier jaar oud was, het uit ’n kamp gebreek waar hy op die hoewe aangehou is. Toe Barbara probeer om die bok terug in die kamp te kry, het hy haar bestorm.

Die bok se horings het haar in haar lies en ook in haar bene onder die knieë deurboor. Barbara het terwyl die bok se horings in haar bene gesteek het, die dier om sy oë gevryf in die hoop dat hy sou bedaar en die aftog blaas.

Boshoff, wat die bok van sy vrou probeer wegkry het, het ’n wond in sy maag en aan sy regterskouer opgedoen.

Barbara het baie bloed verloor en het ’n flou polsslag gehad toe die ambulans eers sowat 90 minute nadat dit ontbied is, by die hoewe opgedaag het. Die ambulans moes van Tzaneen af, sowat 110 km vanaf Phalaborwa, ry omdat daar nie ’n hospitaal in Phalaborwa is nie.

Die egpaar het verlede week operasies ondergaan en is ná etlike dae in die waakeenheid na ’n private saal van die Mediclinic Tzaneen oorgeplaas.

Osmers sê sy ma kry elke dag behandeling by ’n fisioterapeut.

“Dit gaan Wessels ook lank vat om te herstel. Hy is nog baie bleek, maar ons is dankbaar dat dit al beter gaan met hulle.”

Dit is nog nie duidelik wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan sal kan word nie.

Dr. Wessels Boshoff en sy vrou, Barbara, van Phalaborwa in Limpopo. Foto: Facebook/Barbara Boshoff
Barbara en dr. Wessels Boshoff van Phalaborwa by ‘n jagluiperd op ’n wildplaas. Hulle is groot diereliefhebbers.Foto: Facebook/Barbara Boshoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.