Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou wens sy kon ‘meer doen’ om man se lewe te red
Boet Smal (78) en sy lewensmaat, Esther Ackerman Jooste. Foto: Facebook

Sy wens sy kon meer gedoen het om haar lewensmaat, Boet Smal (78), se lewe te red.

“Maar wat meer kon sy doen? Sy het reeds so baie bloed verloor toe sy gaan hulp soek het, ek weet nie hoe ’n beseerde mens só ver kon loop nie,” sê Martie, Smal se skoondogter, oor Esther Ackerman Jooste, sy lewensmaat.

Smal en Jooste is Saterdag laatmiddag deur twee gewapende rowers op hul kleinhoewe in Boschfontein in Heidelberg oorval.

Smal is tydens die aanval sowat drie keer gesteek en sy kop is teen ’n fontein gekap. Volgens Martie het familie tydens die lykskouing Maandag gesien dat hy ook diep snye op sy kop gehad het.

Jooste is in die rug gesteek toe sy Smal probeer help het. Sy het glo al bloeiend in die straat af gestrompel om hulp te probeer kry.

“Dit gaan onder omstandighede oukei met Esther. Sy is baie getraumatiseer en huilerig. Sy het bloed nodig omdat sy so ver moes loop om hulp te kry met daardie wond. Dis ’n probleem, want sy moet die regte bloed kry,” vertel Martie.

Volgens Martie was Jooste nie ten volle bewus dat Smal erg aangerand is nie, en dat sy aanvanklik gedink het dat hy slegs sy kop teen die fontein gestamp het.

“Dit het haar baie erg gevang. Sy wou graag meer doen, maar wat meer kon sy doen?”

Maar wat meer kon sy doen? Sy het reeds so baie bloed verloor toe sy gaan hulp soek het, ek weet nie hoe ’n beseerde mens só ver kon loop nie

Jooste is nog in die Life Parkland-kliniek in Springs.

Martie sê Renier, haar man en Smal se oudste seun, het Maandag gegaan om sy pa se lyk uit te ken. “Dit was glad nie lekker nie. Ons was ook vandag na die kleinhoewe toe. Om te sien hoe alles nog net so staan in die huis was nie maklik nie.”

Smal se ander twee seuns, Johan (54) en Thinus (51), het die onlangse MotoGP-motorfietsren in Italië bygewoon en vlieg eers Dinsdag terug. “Hulle sal so 10:00 land. Ons kan nie wag om almal net saam te wees nie. Ons is ’n baie hegte familie en ons wil net almal saam wees ná die verskriklike ding,” sê Martie.

Sy sê die hele familie is geskok en getraumatiseer.

Volgens Martie is begrafnisreëlings vir Smal nog nie bevestig nie, maar dat dit waarskynlik vroeg volgende week sal wees.

Smal was die eienaar van Heidelberg Bolt and Industrial Supplies en Smal Transport op die dorp.

Hy word oorleef deur Esther en haar twee dogters, sy drie seuns en hul gades, Martie, Debbie en Wendy, sewe kleinkinders, een agterkleinkind, twee broers (Sias en Kobus) en suster, Rina.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, sê die twee vermeende moordenaars is nog nie vasgetrek nie.

“Die polisie ondersoek nog die voorval. Ons is op soek na twee mans. Een jonger man het ’n rooi T-hemp aangehad, en ’n ander man het ’n wit T-hemp aangehad.”

Tshilate doen ’n beroep op enigeen met meer inligting om die naaste polisiekantoor te kontak.

Meer oor:  Boet Smal  |  Heidelberg  |  Misdaad  |  Aanval  |  Kleinhoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.