Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou wil nou polisie toe ná ‘honde-bedrog’

Shirley Swanepoel wou net ’n spesiale hondjie vir haar jongste seun koop – toe loop sy nie net een nie, maar twee bloutjies met vermeende bedrieërs.

Elke keer het die “onderhandelings” en die kooptransaksie vlot verloop – totdat sy op die nippertjie ingelig is dat die vervoerdiens “skielik” ’n ekstra paar duisend rand kort.

Due to the Bad weather notification from our Meteorological Centre, We can’t use your crate to transport the Puppy in for security reasons, It has been evaluated by our pet specialist and confirmed with us that it is not good for the Atmospheric conditions this period. Your Puppy will need a Temperature Regulator Crate to be shipped to you, (SIC),” het die boodskappe gelui.

’n Foto van die hond wat Jack sou heet.

“En elke keer tydens die transaksies het ek seker gemaak of daar versteekte koste is, en elke keer was die antwoord ‘nee’,” sê Swanepoel.

Sy het nou die private ondersoeker Mike Bolhuis gevra om te help en gaan ook die polisie nader.

Dié Pretoriase ma was sedert Augustus op soek na ’n rooi “toy”-poedel, ’n baie klein poedelras wat min allergiese reaksies veroorsaak, vir haar agtjarige seun.

“Ek het verskeie mense wat geadverteer het, gekontak. Toe reageer ’n vrou genaamd Vivian per e-pos en sê sy het ’n hondjie beskikbaar,” vertel Swanepoel.

“Vivian Buttle”, luidens die identiteitsdokument-afskrif wat sy vir Swanepoel gestuur het, het egter “baie vereistes” gehad omdat sy nie die hondjie “in verkeerde hande” wou laat beland nie.

Sy het vir Swanepoel op 1 September ’n e-posboodskap gestuur met foto’s van die honde, en bygevoeg hulle soek ’n omgee-huis waar hulle bederf sal word.

Swanepoel moes haar verseker dat sy nié ’n teler is nie.

Curt. Dié foto is per e-pos aan Shirley Swanepoel gestuur.

Vivian het “al die regte goed” gesê: die nege weke oue hondjies is klaar huismaniere geleer, kan aan ’n halsband stap, het al hul inentings gehad en is Kusa-geregistreer.

Sy sou saam met die dier ook die registrasiedokumente, veearts-papiere, leiband, kos en speelgoed en ’n pamflet stuur.

Die hondjie sou ook ’n mikroskyfie hê.

Maar Swanepoel moes eers antwoord hoe gereeld sy tuis is, of sy kinders het, hoeveel ervaring sy met diere het en of sy naby ’n veearts is.

“Die Vivian het geklink na ’n regte diereliefhebber,” sê Swanepoel.

Sy het uit die foto’s wat Vivian gestuur het, een gekies: Curt.

Vivian se e-pos aan Shirley Swanepoel.

Aangesien Vivian op Swellendam bly, sou Curt die volgende dag na Gauteng gevlieg word. Swanepoel moes net die R2 500 vir die hond betaal en R500 vir die lugreis.

Op 2 September het die koerierdiens egter ’n e-posboodskap gestuur wat lui dat die krat nie geskik is nie en dat sy R5 000, waarvan R4 495 terugbetaal sou word, vir ’n temperatuur-gereguleerde krat betaal.

“Ek het ongemaklik gevoel en Vivian gebel. Sy het gesê ons kan die koste deel. Ek het besef dis ’n verneukspul dié en gesê ek soek my geld terug.

“Vivian het onderneem om die geld terug te betaal, wat sy nie gedoen het nie.”

Swanepoel het weer haar soektog na ’n hond begin, dié keer deur ’n organisasie, Petsfind SA.

Ene Kayla het vanaf ’n “Petsfind SA”-epos dié boodskap en foto’s op Shirley Swanepoel se navraag oor ’n hondjie gestuur.

“Die webblad lyk so professioneel, ek het gedink dit is ’n wettige maatskappy, maar steeds spesifiek gevra of daar enige versteekte onkoste is, soos ’n kratfooi.”

Ene Kayla Londiwe kon die hond aan Swanepoel besorg vir altesaam R4 800. Soos met die eerste voorval moes Swanepoel die geld elektronies oorbetaal.

Vrydag sou klein Jack per vliegtuig versend word. Toe bel ’n ander koerierdiens: Swanepoel moes R13 500 vir ’n spesiale krat betaal.

Erg agterdogtig het Swanepoel vir Kayla gebel en gesê sy sal ’n vriendin stuur om Jack by die lughawe in Kaapstad by die koerierdiens te gaan haal.

Kayla was ontsteld, want sy was glo in die hospitaal en die hond was by ’n huis op Upington.

’n Egte troeteldier-koerierdiens, Life Unleashed, se waarskuwing op sy webblad.

Toevallig het Swanepoel daar ook ’n vriendin gehad – wat na die adres is.

Dit was ’n vals adres.

“Terugskouend het die vroue se stemme in albei gevalle, sowel as die koeriermense s’n, baie dieselfde geklink. Die stories was elke keer dieselfde.

“My hart is gebreek. Ek wou so graag my seuntjie verras met ’n hondjie. Nou het ek R7 800 verloor. Genadiglik het ek nie die ‘kratfooie’ betaal nie,” sê Swanepoel.

Dit was toe dat sy afgekom het op waarskuwings op HelloPeter en ander webblaaie teen die spesifieke “koerierdienste” en “verskaffers”.

“Ek dink nie een van die persone het eens regtig hondjies gehad om te verkoop nie,” sê Swanepoel.

Dié “bewys” van “Jack” die hond se vliegtuigkaartjie is ook aan Shirley Swanepoel gestuur.

Kayla het telefonies aan Netwerk24 bevestig dat sy van “Petsfind SA” is en in ’n swaar en moeilik hoorbare aksent Swanepoel se bewerings ontken. Sy het toe gesê sy bestuur en gevra dat Netwerk24 haar later terugbel.

Sy het nie weer die foon geantwoord nie en die foon het nie ’n stemposfunksie nie.

Vivian se foon was eers af, maar sy het later geantwoord. Sy het, nadat die joernalis haarself geïdentifiseer en gevra het of sy die persoon is wat honde verkoop, geantwoord: “I don’t know what you are saying?” en die gesprek beëindig.

Kayla, na bewering van Petsfind SA, se reaksie op Shirley Swanepoel se WhatsApp-boodskappe nadat die “koerierdiens” skielik duisende rande ekstra versoek het.

Die “koerierdiens” wat Vivian sou gebruik het, was “Life Unleashed Pet Movers”.

Die selfoonnommer wat aan Swanepoel verskaf is, is nie beantwoord nie.

Tik ’n mens egter die “diens” se naam in op Google, duik ’n webblad met dieselfde logo op, maar met ’n groot waarskuwing: “Beware of Pet Travel Scams

Kayla het “SA Pet Express” gebruik. Die regte koerier se Internet-blad rig egter ’n soortgelyke waarskuwing.

’n Man met ’n vreemde aksent het die foon geantwoord en bevestig dat hy van “SA Pet Express” is. Hy het egter sy naam onhoorbaar gesê en toe hy gevra is om dit te herhaal, het hy die foon neergesit.

Baie sulke klagtes, sê Bolhuis

Die private ondersoeker Mike Bolhuis sê Swanepoel se geval is een van baie klagtes wat hy ontvang oor dieselfde beweerde bedrogspul.

“Dit word gewoonlik bedryf deur ’n sindikaat, wat enigiets sal ‘verkoop’ – van leerbaadjies tot honde tot seksuele afpersing. Dit is meestal Nigeriërs met baie lyne in die kuberruim.

Van die oorspronklike “vriendelike” Whatsapp-boodskappe wat Kayla, glo van PetsFind SA aan Shirley Swanepoel gestuur het oor die “hond wat op pad was”

“Hulle vind ’n skuiwergat in die mark – in dié geval Suid-Afrikaners se liefde vir troeteldiere. Sindikaatlede het vals webblaaie, verwysings en foto’s, asook vals identiteitsdokumente.

“Dit is ’n goed geoliede masjien waar dieselfde mense agter verskillende webblaaie en sogenaamde koerierdienste is,” waarsku Bolhuis.

Volgens hom teer die sindikate veral op emosies.

“Jy raak verlief op die dier of kledingstuk op die foto – wat gedokter of van die internet afgelaai is. Dit is ’n verleidingstegniek.”

Daarby behels die bedrog gewoonlik “kleiner” bedrae geld.

“Hulle vat net soveel dat dit vir hul prooi nie die moeite werd is om op te tree nie, maar eerder vrede met die verlies te maak.

“Die sindikaatlede weet ook dat die publiek vertroue in die polisie verloor het én ken die polisie se onvermoë om iets te doen.”

Bolhuis stel voor dat voornemende kopers ander mense in die bedryf kontak en vrae stel oor die spesifieke “verkoper of diens”.

“Fynkam die internet vir waarskuwings van ander slagoffers en as ’n adres gegee word, laat iemand soontoe ry en gaan kyk.

“As ’n aanbod te goed lyk om waar te wees is dit gewoonlik nié waar nie,” waarsku hy.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Hond  |  Slenter  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.