Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vrou wil van polisie eis ná motor met klippe bestook is
Die motor van Marika Muller van Steynsrus in die Vrystaat is erg beskadig toe betogers dit met klippe bestook het. Foto: Verskaf

’n Vrou van Steynsrus in die Vrystaat oorweeg regstappe teen die polisie omdat beamptes glo “geen poging aangewend het nie” om hulp te verleen toe betogers haar motor met klippe bestook het.

Marika Muller (51), haar suster, Anna-Marie van Tonder (59), en dié se tienjarige kleinseun was Vrydag kort ná 14:00 onderweg na die township by Steynsrus om ’n 13-jarige seun af te laai wat ’n saamrygeleentheid by hulle kry.

Drie polisiebeamptes, wat die pad na die woonbuurt beman het, het gesê hulle kan nie in die township inry nie omdat betogers klipgooi.

Hulle het omgedraai en daarna op die Senekal-pad gery. Sowat 150 m vanwaar die polisie hulle gestop het, is hul motor deur ’n groep betogende jeugdiges met klippe bestook.

“Sowat 150 jeugdiges het op ons afgestorm en die klippe op my kar laat neerreën. Die polisiebeamptes kon sien wat gebeur, maar hulle het nie ’n poging aangewend om te help nie.”

Muller het die voorval as skokkend beskryf. Haar motor is afgeskryf, sê sy.

“Ek is nou bang vir daardie pad. Die kinders in die kar was histeries. Ons almal sal berading moet kry. Ek kon sedertdien nie slaap nie,” sê Muller.

Haar sleutelbeen is beseer waar ’n klip wat deur die motor se voorruit gegooi is, haar regterskouer getref het.

Van Tonder het ’n sny aan haar hand opgedoen waar glasstukke haar gesny het. Haar kleinkind is met ’n klip teen die rug getref.

Volgens haar was van die klipgooiers so jonk soos 12 jaar oud.

Die ander seun is nie beseer nie.

“Wat nou van my kar? Dit is afgeskryf. Dit kon verhoed gewees het as die beamptes vir ons gesê het daardie pad is ook nie veilig nie. Ek was nog nooit in my lewe so bang nie.

“Ek gaan beslis ’n eis teen die polisie instel,” sê Muller.

Volgens haar was van die klipgooiers so jonk soos 12 jaar oud.

Van Tonder sê sy is teleurgesteld in die polisie wat hulle nie gehelp het toe hulle in “ ’n lewensgevaarlike situasie” beland het nie.

“Daardie betogers was aggressief. As ons stilgehou het, was ons dood. Die polisie het nie eers alarm gemaak toe ons aangeval is nie.”

Teen druktyd kon geen kommentaar van die polisie verkry word nie.

Die betogers het Donderdag omstreeks 21:00 drie vragmotors op die R76 uitgebrand.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het toe gesê een van die vragmotors is gebruik om die pad te versper. ’n Ander vragmotor het bevrore hoenders vervoer en dit is deur betogers gestroop. ’n Bestuurder het geringe beserings opgedoen.

Klag van openbare geweld word ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.