Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vroue se sabbatsreis sonder bagasie

Wat gebeur as ’n klomp Vrystaatse vroue alleen ’n lang staptog deur die berge in hitte en stormwind aanpak? Cheréne Pienaar vertel van die trane, lag, skinder en selfontdekking op die Rhodes-Camino in die Oos-Kaap.

Die Oos-Kaapse Hoogland-Camino behels ’n daaglikse skof van 22 km per dag oor drie dae. Stappers slaap in plaashuise oor en hul bagasie word vir hulle vervoer. Francisca de Klerk is hier op die voorgrond op pad na Rhodes. Foto: Naomi Fourie

Die vroue stap ongeërg verby ’n dooie pofadder. Voor lê nog sowat 10 km se klipperige opdraande. Hulle is rateltaai, doodmoeg en dankbaar vir die wegkomkans.

Hier op die kronkelpad van Barkly-Oos tot by Rhodes durf ons 68 km oor drie dae aan om weer mens te word.

Jou bagasie word vir jou van plaashuis tot plaashuis gekarwei, maar vanoggend is dit asof elkeen haar eie las wil afstap.

Muggie Wolfaardt, ’n meubelmaker van Hoopstad, is in beheer en vra kort-kort na almal se welstand.

Dit het net een oproep gekos om die Oos-Kaapse Hoogland-Camino (ook bekend as die Rhodes-Camino) te reël, sê sy, maar jy vermoed dit het heelwat meer voetwerk gekos om die ding te maak werk. Die vroue oorkom vinnig enige klein jakkalsies.

“Ons doen dit as ’n groep . . . goed en sleg,” sê sy en verstel haar breërandhoed.

Elsabe du Plessis, sakevrou van Hoopstad, maak mooi vir die langpad Rhodes toe. Foto: Sunell Wolfaardt

Ons stap op ’n brug en aanskou ’n Xhosa-ritueel onder in die Kraairivier. ’n Hoender word deur die water getrek. Dan word van die dier se binnegoed verwyder en ’n jong persoon word daarmee gesalf.

Die “kerklede” in die water waai vir die vroue en verwelkom die belangstelling.

’n Bergbries syfer deur skares populierblare. Die stiltes tussen die 11 uiteenlopende vroue, hoofsaaklik van Hoopstad in die Vrystaat, is tekenend van binnegesprekke, maar dan word stories oor kinders en uitdagings op die klipperige pad uitgeruil.

Dié groep durf minstens jaarliks so ’n tipe uittog aan, sê Muggie.

Hier op die pad kry jy lewensraad wat jy in jou rugsak wil wegbêre.

Wyshede soos: “Julle moes minstens twee winters en twee somers saam beleef het voordat julle aan trou kan dink,” word die blou lug ingestuur.

En ’n halwe ui teen ’n bytplek trek sommer vinnig die gif uit.

“Jy sit hom op jou bedkassie as jy met ’n virus stoei.”

“Alle paaie lei na Rhodes,” skerts Sunell Wolfaardt, ’n dokter, in die drukkende hitte. Sy deel lang pleisters uit vir die blase wat hulle nou een vir een aanmeld.

“Ek dag eers dis ’n klippie in my skoen,” sê Santie Vorster, verwysend na ’n vars blaas op haar kleintoontjie. Sy is soos die ma van die groep en red ons dikwels uit ’n penarie, soos ’n selfoon wat ná ’n “veldtie” op ’n klip vergeet word.

Stapstokke word aanbeveel vir die klipperige pad van Barkly-Oos na Rhodes. Foto: Naomi Fourie

Mynie Helm bring ’n paar pienk visplakkies te voorskyn om die druk op haar tone te verminder.

Al die vroue bewonder haar bene sonder ’n aks afguns.

Erns Grundling skryf in sy boek Sushi en Shosholoza van twee vroue wat hy op ’n stasie in Japan raakgeloop het. Hulle het 30 jaar gelede ’n week lank saam die Tokaido-roete gestap en het dit ná al die jare weer gedoen.

“Walking is a good way to be friends for a long time,” het Carlie, een van die vroue, gesê.

Jy vermoed dit is ook die geval met dié vroue, wat nie van nature “besties” in die stad sou raak nie.

Later pak ons af op die plaas Franshoek, waar ons die aand sonder sein en sorge Noot vir Noot speel.

Berdine Pienaar, ’n jong boervrou en ma van drie woelige tjokkertjies, tokkel country-klanke op die kitaar.

Sunell sluit haar oë en laat toe dat die musiek deur haar moeë lyf vloei. Vir ’n oomblik kan sy net wees en ’n tree terugstaan uit al die rolle wat sy daagliks moet vervul.

Op dag twee stap ons verby ’n dooie bakoorjakkals. Dan ’n Afrika-muishond. Ook verby die wrakke van twee motors wat dekades gelede al gebots het.

Populierbome langs die pad verfraai die droë distrik. Reën is ook hier van kritieke belang vir die vee. Foto: Francisca de Klerk
’n Xhosa-ritueel onder in die Kraairivier. ’n Hoender word deur die water getrek. Dan word van die dier se binnegoed verwyder en ’n jong persoon word daarmee gesalf. Foto: Sunell Wolfaardt
Die Oos-Kaapse Hoogland-Camino na Rhodes vereis ’n redelike fiksheidsvlak en goeie, gemaklike skoene. Altesaam 11 vroue van Hoopstad in die Vrystaat het die pad verlede naweek aangedurf. Foto: Santie Vorster

“Ons stap die pad van die dood,” sê Santie en lig haar ken om die wolke, wat vanoggend soos dik spatsels verf die lug versier, te waardeur.

Die Draak se stert pronk op elke selfoonfoto. Dit lyk asof ’n sagte kombers oor die berge gegooi is, merk iemand op.

Jou geselsmaat word elke nou en dan vervang deur ’n ander soos wat die staptempo’s langarm dans. Brokke dialoog waai saam met die koel bergwind heen en weer.

“Sampie sê hy gee vanaand vir elke kind ’n bottel Stopain,” sê Mynie. Die vroue lag. Ook ons kan doen met pynmedikasie, maar die Rhodes-Camino is ’n tipe balsem vir ’n stapper se siel.

Dié jong Camino (wat blootweg “voetpad” in Spaans beteken) is op die openbare pad en kort-kort ry ’n boer verby met ’n kopknik en ’n wuif.

’n Plaaswerker in ’n oorpak kom tot stilstand en draai sy venster af.

“Ek sien julle is op pad boontoe. Wil julle nie sommer vir God vir ’n bietjie reën vra nie?”

Ons stap verby die bord wat die Tiffendell-ski-oord aanwys. Die droogte het ook in hierdie wêreld sy tande ingeslaan.

“Hoe mooi sou die berge lyk met die spruite wat daar afloop,” merk Elsabe du Plessis, ’n sakevrou van Hoopstad, op.

’n Ander stapper druk haar toon in die vertrouenswaters met ’n broodnodige biegsessie.

Altesaam 11 vroue van Hoopstad in die Vrystaat het verlede naweek die pad aangedurf. Foto: Sunell Wolfaardt

As sy en haar man baklei, is dit ontsaglik moeilik om bes te gee en die mindere te wees, sê sy.

“Dis net sowel jy vra my om ’n més deur my eie hand te druk. Ek kan nie!”

Die verligting spoel duidelik oor haar as sy hoor ’n medestapper en vriendin, wat sy geglo het “sondeloos” is, ook daai huwelikskursus in November saam met haar man gaan bywoon.

Almal ken die ongeskrewe reël; sekere dinge bly net tussen die Camino-vroue.

Ons gooi anker in ’n ou skoolkoshuis op Rhodes. Dié dorp het altesaam 27 permanente inwoners. Twee paartjies is glo van plan om hierheen te trek.

Daar was ook tyd vir skoene uitskop en musiek maak. Boer Kobus Buitendag van die Steepside-gasteverblyf op die plaas Carbury neem deel aan Noot vir Noot. Foto: Sunell Wolfaardt

Elizma den Heyer, ons gasvrou, sê sy en haar man wou destyds net vir drie maande Suid-Afrika toe kom om te trou toe hulle in Londen gewoon het. “En 22 jaar later is ons stééds hier!”

Sy bedink die heel tyd planne om voete in Rhodes te kry. Fietstoere, high teas, en etes by die boere in die distrik is deel van haar strategie.

Met elke tree wat teen die einde van ons staptog swaarder raak, deel elkeen haar stukkie hemel en hel.

“Toe my skoonpa vir Buks vra waar ek vandaan kom, sê hy Postmasburg, Kuruman se wêreld,” sê Francisca Jooste de Klerk. “Toe sê hy: ‘Jy kan haar maar trou, sy kan die droogte goed vat.’ ”

Ons word by ons voertuie in Barkly-Oos afgelaai, waar ’n man zen-agtige strepe in die stof voor ons eerste herberg hark.

“Daai man met die drie tande is vreeslik in sy noppies om te sien ons het dit oorleef,” skerts Mynie met die wegtrek huis toe.

Van die jonger vroue lyk skielik bedruk en tik naarstiglik op hul slimfone.

“My skoonouers is nog van daai wat glo ’n man en vrou doen álles saam,” sê een.

Maar almal is dit eens: Soms het ’n vrou die berg se koel bries en langpad-vriendinne nodig om haar las behoorlik weg te dra.

Indien moeg, stop/rus. Francisca de Klerk geniet die soel waters van die Oranjerivier ná ’n 22 km lange staptog na Rhodes in die Oos-Kaap. Foto: Berdine Pienaar
Van die vroue het hul staptog met die Drakensberge op die agtergrond verewig. Foto: Santie Vorster
Muggie Wolfaardt en Berdine Pienaar poseer by ’n ou gebou op een van die plase op pad na Rhodes. Foto: Francisca de Klerk
Berdine Pienaar, Francisca de Klerk en Muggie Wolfaardt, almal van die Vrystaatse platteland, geniet ’n vrolike oomblik op hul staptog tussen die Oos-Kaapse berge. Foto: Muggie Wolfaardt
Muggie Wolfaardt, die groepleier, sê die Rhodes-Camino is beter as wat sy verwag het. Foto: Sunell Wolfaardt
’n Groep vroue het verlede naweek die Rhodes-Camino in die noordelike Oos-Kaap aangedurf. Foto: Francisca de Klerk
Die waterstraaltjie is maar dun hier in die noordelike Oos-Kaap. Foto: Francisca de Klerk
Berdine Pienaar, Muggie Wolfaardt en Elsabe du Plessis, almal van Hoopstad in die Vrystaat, geniet ’n blaaskans ná ’n lang dag se stap. Foto: Sunell Wolfvaardt
’n Bord wat jou in Rhodes in die Oos-Kaap verwelkom. Foto: Sunell Wolfaardt
’n Bord wat vra dat jy Rhodes se rustige atmosfeer respekteer. Foto: Sunell Wolfaardt
Een van die aanwysings op die roete. Foto: Sunell Wolfaardt
Francisca de Klerk en Naomi Fourie van Bothaville staan aan die beginpunt van die Rhodes-Camino, net buite Barkly-Oos. Op die agtergrond word ’n Xhosa-ritueel in die Kraairivier uitgevoer. Foto: Sunell Wolfaardt
Van die vroue het ’n plaaswerker omgekoop om hul moeë voete ’n ruskans te gee. Mynie Helm, Santie Vorster en Retha Nel kry vashouplek agterop die sleepwa. Foto: Naomi Fourie
Berdine Pienaar gaan maak kennis met die perde op ’n plaas naby Rhodes. Foto: Francisca de Klerk
Klein veldblomme oorleef nog ’n droë seisoen in die noordelike Oos-Kaap. Foto: Francisca de Klerk
Ná ’n dag se stap het die vroue Noot vir Noot gespeel om die rustigheid sonder sein en sorge te geniet. Foto: Jorina Venter
Retha Nel van Kaapstad geniet die langpad saam met Sunell Wolfaardt, haar ou kamermaat in Soetdoring aan die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein. Foto: Sunell Wolfaardt
’n Stormwind het die tweede dag op die Camino ’n uitdaging gemaak. Ook in dié distrik het die droogte sy kloue ingeslaan. Foto: Francisca de Klerk
Francisca de Klerk en Muggie Wolfaardt is van die groep vroue wat die Rhodes-Camino gestap het. Foto: Sunell Wolfaardt

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Staproete  |  Camino
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.