Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vroueafrigter gaan haar stalle ontruim

Die geweld en betogings by die Fairview-renbaan in Port Elizabeth waarin een perd dood en talle beseer is, het daartoe gelei dat een van die land se gesogste vroueafrigters haar stalle by dié renbaan gaan ontruim.

Die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting het ook hul stem gevoeg tot dié van talle woedende inwoners in die stad, wat ’n vreedsame optog gehou het teen die geweld en die mishandeling van diere.

Die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting veroordeel die gewelddadige protesoptog by die Fairview-renbaan. Foto’s: Facebook/Reeva Rebecca Steenkamp Foundation

’n Groep van sowat 200 ontevrede huidige en voormalige stalwerkers het die stalle verlede week bestorm en sowat 28 perde vrygelaat tydens ’n geskil oor lone.

Ooggetuies het vertel die betogers het die perseel met messe, pangas, knopkieries, en stokke bestorm.

Die perde word deur Yvette Bremner afgerig, wat Vrydag aangekondig het sy gaan die renbaan na 18 jaar verlaat. Sy gaan ook nie meer perde in die Oos-Kaap afrig nie.

June Steenkamp, ma van wyle Reeva Steenkamp, het in ’n inskrywing op die Reeva Rebecca Steenkamp-stigting se Facebookblad gesê haar dogter sou nie stilgebly het oor die insident nie.

Reeva se pa, Barry Steenkamp, het vir jare ook perde afgerig by die Fairview-renbaan en Reeva het heelwat van haar gelukkige kinderjare by dié renbaan deurgebring.

“Die trauma wat aangerig is aan die majestueuse en onskuldige diere gaan die verstand te bowe. Ons keur enige vorm van geweld en mishandeling ten sterkste af.

“Ons is gekant teen die dreigement van fisiese geweld teenoor die vroueafrigter (Bremner) en enige ander persoon,” sê June.

Die gegriefde betogers wat ’n afgedankte werker se kant gekies het en deel uitgemaak het van die gewelddadige optog, het gedreig om Bremner leed aan te doen toe hulle uitvind dat hulle nie geld by die Werkloosheidversekeringsfonds kan eis nie.

June en Barry Steenkamp saam met een van die perde. Barry het vir jare perde by die Fairview-renbaan afgerig.

Inwoners van die stad wat Saterdagmiddag deel uitgemaak het van ’n vreedsame optog voor die renbaan, het die perseel verlaat toe die polisie dreig om hulle in hegtenis te neem. Optoggangers het voor die renbaan ’n gebed opgesê teen geweld.

Hulle het dadelik gehoor gegee aan die polisie se instruksie, toe hulle ingelig is dat die korrekte en wettige prosedures nie gevolg is om die optog te hou nie.

Die verdagte wat weens verlede Donderdag se optog in hegtenis geneem is, gaan na verwagting Maandag in die landdroshof in Port Elizabeth verskyn.

Dié persoon is weens kwaadwillige saakbeskadiging en openbare geweld in hegtenis geneem.

Wyle Reeva Steenkamp se ma, June Steenkamp, sê Reeva het baie gelukkige kinderjare by die Fairview-renbaan deurgebring.
Die perd wat Donderdag gevrek het nadat ’n groep huidige en voormalige stalwerkers sowat 28 perde by die Fairview-renbaan se stalle uitgejaag het. Daar word nou gesê die perd het gevrek omdat hy sy nek gebreek het. Foto: Cara-Lee Dorfling
Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Perde  |  Ontruim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.