Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vryburgers braai tonne vleis vir bejaardes

Dis genoeg om enige ware Suid-Afrikaner se mond te laat water: 2 000 tjops, 2 600 stukkies wors, 830 hoenderstukkies, 32 braaidromme, roosters van 30 m², 128 braaitange en 1,3 ton hout en houtskool.

Die Vryburger Omgeemense kon nie ’n meer gepaste naam gekies het vir dié Tamaaibraai wat Saterdag by verskillende takke in die land plaasgevind het nie.

Die vleis het behoorlik gesis op die kole van Rustenburg en Bloemfontein tot in George, Ceres en Ermelo.

17 van dié welsynsorganisasie se 22 korpse het by sowat 20 ouetehuise oor die land heen gebraai om “bejaardes uit hul kamer te kry en ’n bietjie te bederf,” sê Jacob Rheeder, nasionale woordvoerder van die Vryburger Omgeemense.

Hulle beskryf hulself as ’n apolitiese, Christelike organisasie wat Suid-Afrikaanse gemeenskappe op verskillende maniere bedien, onder meer deur in hul materiële, geestelike en opvoedkundige behoeftes te help voorsien.

Die Rustenburgkorps van die Vryburger Omgeemense Saterdag by van die hope sosaties en wors wat hulle gebraai het. Die korps se stuurman, Rossie Rossouw, hou die organisasie se kenteken wat hul werk simboliseer, vas.

Rheeder het Woensdag gesê die Tamaaibraai was ’n groot sukses en die bejaardes was baie dankbaar vir die braaivleis. Sowat 2 600 bejaardes het aan ’n vleisie en 1 000 broodhappies soos roosterkoek en braairolletjies gesmul. 650 liter drinkgoed soos sap, koffie en tee is verskaf.

Rheeder sê die korpse het die vleis gekoop met behulp van geldinsamelingsprojekte en skenkings van borge.

Rossie Rossouw, stuurman van die Rustenburgkorps in Noordwes, sê hulle het vir 330 bejaardes van drie ouetehuise gebraai.

“Ons onderstuurman, Sidney Carlsen, het al die logistieke reëlings getref. Dit het ons vier uur geneem om die wors en sosaties vooraf te braai voordat ons dit saam met pap en sous gaan aflewer het.”

Die Rustenburgkorps het net die houers waarin die etes gepak is van borge gekry. Die vleis is gekoop met geld wat hulle deur die loop van die jaar met projekte soos wynveilings en gholfdae ingesamel het.

Rossouw sê die Tamaaibraai is ’n baie emosionele geleentheid omdat die bejaardes so dankbaar is vir die aandag. “Ons lede is almal mans en in ’n stadium was almal van ons in trane. Verlede jaar, met ’n soortgelyke aksie, het een van die tannies na ons gekom en gevra vir nog ’n stukkie skaapvleis omdat sy ’n jaar laas vleis geëet het.”

* Besoek die Vryburger Omgeemense se Facebookblad of die webwerf vryburgers.co.za.

Meer oor:  Bejaardes  |  Braai  |  Vir  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.