Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Vrye Weekblad’ herleef binnekort digitaal

Dit is vir Max du Preez simbolies betekenisvol dat die progressiewe anti-apartheidskoerant Vrye Weekblad wat 25 jaar gelede moes sluit, van April in digitale formaat gaan herleef.

Max du Preez: Sy loopbaan van 'n onversetlike "waarheid versus mag"-benadering is steeds ná kwarteeu van demokrasie 'n verhaal van waagmoed en beginselvastheid. Foto: Liza van Deventer

Dié veteraanjoernalis het Dinsdag op die vooraand van die amptelike bekendstelling van die nuwe Vrye Weekblad, gesê die model gaan dieselfde as sy voorganger wees. Dis ’n hierdie keer 'n uitsluitlik Afrikaanse aanlyn publikasie wat van 5 April weekliks sal verskyn.

“Ons fokus hoofsaaklik op progressiewe, ernstige, goeie gehalte en betroubare joernalistiek wat nogtans toeganklik sal wees. Ons skryf soos mense praat. Die beginsels soos feite en balans sal altyd geld, maar ons sal ook vrolik wees en skryf oor leefstyl, kos en gesondheid.

“Ja, daar sal baie ondersoekwerk wees, maar ons wil plaaslike en internasionale nuus in elke moontlike sfeer soos omgewing, munisipaliteite, behuising, water en politiek ontleed, verklaar en binne konteks plaas. Ons fokus is dieper, nié om die dag tot dag bloed, misdaad en bekendes se streke te dek nie. Ons lesers is mense wat nie noodwendig vinniger wil weet nie, maar meer wil weet.”

Met ’n kernspan van net vier mense by Vrye Weekblad, wat nie binnekort meer gaan word nie, is dit ideaal om kundiges van buite te vra om te help met die skryfwerk.

“Ons wil nie in ’n borrel funksioneer waar almal dieselfde dink nie,” sê Du Preez.

“Daar is beslis ’n gaping in die nuusmark vir ’n platform waar met vars oë na sake van die dag gekyk word, wat nie net ’n sekere kant van enige saak of spektrum verteenwoordig nie.”

Ons wil nie in ’n borrel funksioneer waar almal dieselfde dink nie.

Mense vra Du Preez al jare hoekom hy nie die Vrye Weekblad laat herleef nie.

“Ek en Jacques Pauw (die ondersoekende joernalis) het verlede jaar hieroor gesels en daarna met Tiso Blackstar. Ons het besluit dis nou tyd om die leemte in die mark te vul.”

Tiso Blackstar is ’n maatskappy wat onder meer verskeie Engelse publikasies uitgee en digitale nuusplatforms verskaf. Tiso finansier die nuwe Vrye Weekblad, terwyl die publikasie die maatskappy se platforms sal gebruik.

Du Preez en Pauw sal vir Vrye Weekblad skryf. Die skrywer en joernalis Anneliese Burgess sal die publikasie bestuur. Adri Kotzé, ’n joernalis wat nou in Londen woon, sal die Europese korrespondent wees. Pauw is ook aan die stuur van ondersoeke.

Die publikasie se teikenmark is nie net Afrikaanssprekendes wat “regtig wil verstaan wat in hul omgewing en die wêreld aangaan nie,” sê Du Preez.

“Swart, bruin en Indiër Engelssprekendes het reeds laat blyk hulle stel belang om dit te lees. Ons fokus ook op talle Suid-Afrikaners in die buiteland.”

Toegang tot die Vrye Weekblad se webtuiste sal die eerste ses weke gratis wees, maar lesers sal daarna moet opdok. Du Preez kan nie nou al sê wat dit gaan kos nie. Behalwe die volledige uitgawe wat elke Vrydag verskyn, sal lesers wat op die webtuiste aanmeld en hul e-posse verskaf, ook van Maandag tot Donderdag kort nuusberigte per e-pos ontvang.

“Dit sal kort nuusbrokkies, kommentaar of opsommings van nuusgebeure insluit,” sê Du Preez.

“Van tyd tot tyd sal ons ook nuwe stories per e-pos breek.”

Meer oor:  Max Du Preez
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.