Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vryery in sepies nou verbode

Dis nie net die wêreld se verliefdes wat honger is vir aanraking nie – gemaskerde Suid-Afrikaanse akteurs smag ook na die dae van ’n warm vryery voor die kamera.

7de Laan karakters Gabby en Esti met hul maskers na ’n toneel verfilm is. Foto: Elizabeth Sejake

“Ek dink ná Covid-19 gaan akteurs vra vir intieme tonele terwyl hulle dit voorheen soms liewer wou vermy,” spot Reandi Grey oftewel Esti in die SABC2-sepie7de Laan. Nes talle ander sepies het verfilming van die Laan se manewales weer op 1 Mei begin onder streng Covid-19-inperkingsregulasies.

“My liefdestaal was nog altyd aanraking. Maar nou moet ons maskers dra en ons koors word gemeet wanneer ons by die werk aankom.

“Dit was baie vreemd om weer terug te kom op stel nadat ons vir so lank weg was en ek kon nie vir almal ’n drukkie of high five gee nie,” sê Grey.

Maar dit beteken nie die einde van Esti en Rickus se verhouding nie.

Haar karakter in die sepie is in ’n verhouding met Rickus (André Lötter), maar nes die res van Suid-Afrika moet sepiesterre ook 1,5 m uitmekaar staan – selfs voor die kamera. Hulle het darem die vergunning dat hulle hul maskers mag afhaal, maar die tegniese span moet dit ophou en net vier akteurs word per toneel toegelaat.

“Maar dit beteken nie die einde van Esti en Rickus se verhouding nie. Soos met talle ander storielyne moet ons nou hul verliefheid uitbeeld sonder dat hulle aan mekaar raak,” sê Heather Cooke, een van die regisseurs.

“Daarom maak ons nou meer as ooit staat op gesigsuitdrukkings, lyftaal en stemtoon om dieselfde effek te kry. Ons fokus veral op oë in skote en sny en blok tonele sodat kykers by die huis nie sal kan sien dat akteurs ver van mekaar staan of ’n verskil agterkom in die getal mense in ’n toneel nie,” sê Cooke.

Gemaskerde akteurs tydens een van die onlangse opn
Gemaskerde akteurs tydens een van die onlangse opnames van die gewilde RSG -radiosepie Hartebreker, wat Maandae, Woensdae en Vrydae om 09:50 uitgesaai word. Van links na regs is Wildré Klopper (Loftus), Charlie Bouguenon (Sebastiaan), Mari Molefe van Heerden (Shoki), Henriëtta Gryffenberg (Colette) en Solomon Cupido (Kardoesie).

Gewoonlik sou daar meer as 20 mense agter die skerms wees wanneer ’n toneel geskiet word en gemiddeld tot tien akteurs. Maar nou is selfs ekstras op stel taboe en tegnici spring in wanneer nodig.

Die teks moes aangepas word en alles word heeltyd skoongemaak voordat akteurs iets aangee – van ’n koppie in die koffiekroeg tot ’n klerehanger in die boetiek.

Tans is daar geen planne om die Covid-19-pandemie deel van die storielyn te maak nie.

“Ons hoop eerder dat die normaliteit in die sepie vir mense ’n ontvlugting kan wees. In 7de Laan kan mense darem nog ‘op ’n vliegtuig klim’ en ons hoop dat dit mense daarbuite ook hoop sal gee dat dinge weer na normaal sal terugkeer,” sê Cooke.

Dis egter nie net die televisiestories wat moes aanpas by die nuwe omstandighede nie . . . dis selfs op die draadloos ’n neukery, sê Leon van Nierop, skrywer en regisseur van die RSG-radio­sepie Hartebreker.

“In ons geval sit een van die hartebrekers boonop in die Kaap! Rolanda Marais, wat die rol van Nadia vertolk, kan nie nou heen en weer vlieg vir ons maandelikse opnamesessies nie. Dit word een keer per maand in Johannesburg gedoen en dan neem ons 16 episodes van sowat ses minute elk op. Toe ek destyds opdrag gekry het om die sepie te skryf, is daar vir my gesê dit moet so lank wees soos wat dit vat om ’n koppie tee te drink,” sê Van Nierop.

“Ons moes ook alles aanpas by die nuwe regulasies. Voorheen sou al die karakters om ’n tafel sit en elke episode bespreek. Dan is opnames in die ateljee gedoen, waar drie karakters saam om ’n mikrofoon staan.

“Nou moet elkeen sy eie mikrofoon en ateljee hê en daar is geen interaksie nie. Hulle kan mekaar net hoor,” sê Van Nierop.

Henriëtta Gryffenberg, wat die rol van Colette vertolk, sê vir haar as aktrise is dit eintlik ’n goeie uitdaging omdat sy weer geleer het om mooi te luister na die spelers wat teenoor haar speel.

“Nes luisteraars kan ek nou my oë toemaak en my inleef en verbeel ek is deel van die toneel wat afspeel en nie vaskyk in iemand anders se bad hair day nie,” skerts sy.

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Henriëtta Gryffenberg  |  Heather Cooke  |  Hartebrekers  |  Sepies  |  Inperking  |  7De Laan  |  Rsg  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.