Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
VS-Cheetahs spog met Curriebeker in Rosestad
Abongile Nonkontwana hou die beker omhoog terwyl die res van die Cheetahs hom aanmoedig.

Met “We Are The Champions” wat oor ’n luidspreker speel en Cheetah-spelers wat oranje vlae deur die lug laat wapper, het Bloemfonteiners Dinsdagoggend ’n blik op die Curriebeker gekry.

Clayton Blommetjies hou die Curriebeker omhoog terwyl hy en die res van die Cheetahs met die beker in Bloemfontein se strate spog. Foto’s: Mlungisi Louw

Die Vrystaat-Cheetahs het die Leeus Saterdag met 31-28 in die Curriebekereindstryd in die stad geklop.

Terwyl tientalle opgewonde inwoners van die Rosestad op sypaadjies vlae rondgeswaai, danspassies gemaak en “Cheetahs!” geskree het, het ewe opgewonde spelers, afrigters en werkers van die Vrystaat-Cheetahs elke oomblik ingeneem.

Franco Smith, afrigter, het saam met die spelers en die res van die Vrystaat-familie in die Curriebeker-glorie gedeel.

Verskeie van die spelers het video’s en foto’s geneem met Bloemfonteiners op die agtergrond.

Die heelagter Clayton Blommetjies kon nie genoeg van die Curriebeker kry nie en het dit telkemaal omhoog gehou sodat Bloemfonteiners dit kon aanskou.

Die Cheetahs se Springbok-flank Oupa Mohoje het in Moshoeshoeweg “Awê, gogo!” geskreeu toe ’n bejaarde vrou op haar voorstoep danspassies gemaak het terwyl die busse en voertuie van ondersteuners verby haar huis gery het.

Die Vrystaat-Cheetahs het Dinsdag met die Curriebeker in die Rosestad gespog.
Terwyl die vlae wapper en spelers skaars hul opgewondenheid kon inhou, kon die Rosestad die Curriebeker Dinsdag sien. Op die foto hou Oupa Mohoje die beker omhoog, terwyl Abongile Nonkontwana, Junior Pokomela en Tapiwa Mafura by hom staan.
Die Vrystaat-Cheetahs het Dinsdag met die Curriebeker deur die strate van Bloemfontein gery.

Verder af in die straat het hy drie ooms bedank nadat hulle gefluit en hul arms omhoog gehou het toe die Cheetah-gevolg verby hulle ry.

Toe ’n jong vrou vir die vinnige flank ’n soentjie blaas, het hy effe skaam afgekyk.

Terwyl die bus deur die strate in die middestad gery het, het ’n plesierige Joseph Dweba, haker, aan die platejoggie geskreeu dat hy moet aanhou om musiek te speel, terwyl hy danspassies uitgevoer het.

Vir die flank Junior Pokomela was die beker te swaar en hy het nadat hy dit gelig het Mohoje gesê: Hey, bra. Dit is swaar.”

Met hul aankoms by die Vrystaat-stadion het Reinach Venter, stut, hardop gesing: “Alles in die kol, as die Cheetahs hol.”

* Cheetah-ondersteuners wat graag ’n foto saam met die Curriebeker wil neem, kan dit op 20 September by die Castle-dek in die Vrystaat-stadion laat doen.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Curriebeker  |  Rosestad  |  Cheetah-Spelers  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.