Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
VS-visteelprojek in die Gariepdam-distrik ruik vrot

Miljoene rande se toerusting wat vir vyf van die ses visteelplase in die Gariepdam-distrik onder die vaandel van die omstrede visteelprojek bedoel was, lê in onbruik.

Dié visplase, wat op Fauresmith, Zastron, Koffiefontein, Petrusburg, Springfontein en Bethulie geleë is, is gebou om die Gariepdam-visteelprojek uit te bou en werk vir die inwoners van die onderskeie gemeenskappe te skep.

Volgens die Vrystaatse departement van landbou funksioneer die visverwerkingsaanleg van R15 miljoen op Bethulie wel.

Johannes Moloi (45), een van die begunstigdes wat die visplaas op Fauresmith moes beman, woon hier in haglike omstandighede omdat daar fout was die toerusting wat die vingerlinge (jong vissies) moes help groei. Die departement kon ook nie krag op die perseel geïnstalleer kry nie. Foto: Mlungisi Louw

Netwerk24 het egter gevind dat die aanleg nog nie voltooi is nie en dat geen vis daar verwerk word nie.

Johannes Moloi (45), ’n inwoner van Fauresmith, is destyds aangestel om die 12 teeltenks op die visplaas hier te bestuur en te sorg dat die vingerlinge (jong barbers) vetgemaak word. “Meer as ’n miljard rand is al aan die visteelprojek bestee. Niemand van ons het ’n enkele vis om hiervoor te wys nie.”

Moloi woon steeds tussen die peperduur filters, tenks en ’n stukkende sonkragpaneel en voer ’n haglike bestaan. In een van die vertrekke staan ’n geslote kragopwekker sonder ’n sleutel.

Volgens hom sit Econo Fish Industry met die sleutel.

Dié maatskappy, wat in 2014 deur die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling aangestel is om die visplaas op dreef te kry, het glo nie voldoende navorsing gedoen oor die teel van visse nie.

Deep Aqua Blue is toe in 2015 ingeroep om die saak met bykomende strukture en filters te help beredder.

“Nog ’n paar miljoen is toe spandeer aan nuwe stelsels en filters.”

Navorsers van die Universiteit van die Vrystaat het bevind dit is steeds nie geskik vir varswater-landbou nie.

Viskos wat op 25 Maart 2018 verval het, lê in sakke van 25 kg elk in hemelhoë stapels. Moloi sê dié viskos is nou niks werd nie. Foto: Mlungisi Louw

Die visse het binne drie jaar nooit die 1 kg-merk gehaal om na Bethulie geneem te word om dit markgereed te kry nie, sê Moloi.

Van die visse het gevrek, die res is in die township uitgedeel.

“Ek het my gemeenskap uitverkoop toe ek daardie dokumentasie geteken het.”

Tsidiso Leballo, voorsitter van Letlake Fishery op Zastron, sê hy hou moed want die departement het belowe al ses die visplase word vroeg in Februarie opgeknap.

Zimasa Mbewu, woordvoerder van die Vrystaatse departement van landbou, sê hulle het uitdagings met die projek op Fauresmith ondervind omdat die grond aan die munisipaliteit behoort.

“Ons kon nie krag op die perseel gereël kry nie want die grond is nooit suksesvol op die begunstigdes se name oorgedra nie.”

Miljoene rande se toerusting staan in onbruik op die visteelplaas op Fauresmith in die Vrystaat. Dit is deel van die ses visplase wat die omstrede Gariep-visteelprojek moes uitbou. Foto: Mlungisi Louw

Sy sê daar is planne gereed vir die volgende finansiële jaar om al die visprojekte in die Gariep-distrik “te laat herleef”.

Volgens haar het die visplase op Zastron, Petrusburg en Koffiefontein onder ernstige vandalisme deurgeloop. Sy sê die departement is baie bekommerd oor die visteelprojek.

“Ons het oor die laaste drie jaar tot op hede R2,5 miljoen aan elke projek bestee.”

Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, sê daar word wel visse in die Gariepdam geteel vir die projek, maar nog nie op kommersiële vlak nie.

“Net navorsing word nou en dan gedoen. Dit is jammer dat ’n projek wat moes bydra tot die land se voedselstelsel ’n vermorsing van geld geword het.”

Meer oor:  Roy Jankielsohn  |  Gariepdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.