Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Vullishouers kon verhoed dat kinders giftige kos eet’
Die polisie Maandag op die toneel in Motherwell waar kinders glo ’n giftige middel ingekry het nadat hulle kos op ’n onwettige stortingsterrein opgetel en geëet het. Foto: Verskaf

Eenvoudige vullishouers wat in informele nedersettings beskikbaar is, sou moontlik ’n voorval kon voorkom waarin vier kinders in Port Elizabeth dood is nadat hulle glo ’n giftige middel ingekry het toe hulle iets geëet het wat hulle opgetel het.

Dit is die mening van die ACDP se Lance Grootboom, ’n raadslid en lid van die komitee vir openbare gesondheid in die Nelson Mandelabaai-metro, oor die vier kinders, tussen drie en 11 jaar oud, wat die afgelope naweek dood is.

Die polisie het vroeër gesê die kinders het naby hul huise gespeel en blykbaar kos tussen bourommel op ’n onwettige stortingsterrein opgetel en geëet. Hulle het almal Sondagaand in die Motherwell-gesondheidsentrum vermoedelik weens vergiftiging gesterf.

“Daar is gerugte van skyfies en kaas wat die ronde doen, maar die polisie sal eers ’n beter benul van die oorsaak van hul dood hê nadat die lykskouing afgehandel en forensiese toetse gedoen is,” het kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, gesê.

Die slagoffers is as Alunamda Mqawu (3), sy suster, Zintle (10), asook nog ’n paar sibbe, Alizwa Rhwayibana (5) en sy ouer suster, Asive (11), geïdentifiseer.

Asiphile Grootboom (7) is met soortgelyke simptome as die oorledenes in die sentrum opgeneem en het oorleef.

Tshonono Buyeye, waarnemende burgemeester, het Dinsdag namens die munisipaliteit sy medelye met die slagoffers se families betuig.

“Dit is ’n skok vir ons almal. Ons omgewingsgesondheids-beamptes is dadelik na die toneel nadat ons van die hartseer voorval verneem het. Hulle werk ook saam met die polisie.”

Leiers van die metro het reeds die gesinne besoek.

Daar is gerugte van skyfies en kaas wat die ronde doen, maar die polisie sal eers ’n beter benul van die oorsaak van hul dood hê nadat die lykskouing afgehandel en forensiese toetse gedoen is.

“Die saak is nou in die hande van die polisie om die feite vas te stel,” het Buyeye gesê.

Maar Grootboom sê die munisipaliteit moet juis nou introspeksie doen en na sy tekortkomings kyk.

“Dit is tragies dat ons steeds sukkel met onwettige stortingsterreine, terwyl die metro in Augustus reeds groepe aangestel het om onder meer dié stortingsterreine oor die stad heen op te ruim.”

Volgens hom kos dié driejaar-projek meer as R100 miljoen.

“Die werk van die groepe is om te verseker dat gebiede, veral die onwettige stortingsterreine, opgeruim word.”

Dié voormalige burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid sê die groot aantal onwettige stortingsterreine in die metro dui daarop dat die owerhede nie voldoende toesig gehou het oor waar die brandpunte is nie.

“Ek verneem die tragiese voorval het in ’n informele nedersetting gebeur, waar baie opslaanhuise oor die afgelope paar maande opgerig is.

“Dit is belangrik om ten minste vullishouers te plaas in gebiede waar dienste nie gelewer word nie en dit weekliks leeg te maak.”

Die optrede van ’n spesiale taakspan, wat aangestel is om inwoners vas te trek wat hulle aan onwettige storting skuldig maak, is volgens Grootboom ook treurig.

“Meer moet gedoen word om kos aan minderbevoorregte kinders te voorsien, en inwoners moet oor die gevolge van onwettige stortingsterreine ingelig word.

“Al die dinge sou gehelp het om te voorkom dat kinders goed eet wat op onwettige stortingsterreine lê.”

Yolisa Pali, die metro se burgemeesterskomiteelid vir openbare gesondheid, het gesê sy gaan nie met die media praat nie en het alle navrae na Mthubanzi Mniki, die metro se woordvoerder, verwys.

Mniki het gesê die metro volstaan by Buyeye se verklaring en gaan nie verder daarop uitbrei nie.

Meer oor:  Lance Grootboom  |  Giftige Kos  |  Vergiftiging  |  Kinders Dood  |  Vullishouers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.