Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vuurwapen-amnestie: Eerste skote klap

Bheki Cele, minister van polisie, het hom nie aan briewe, telefoongesprekke of vergaderings met die Suid-Afrikaanse jagters-en-wildbewaringsvereniging (SA Jagters) gesteur of belang gestel om belangegroepe by die probleme met vuurwapens te betrek nie, sê Fred Camphor, hoof van SA Jagters in ’n ope brief aan Cele.

Camphor sê in die brief die organisasie probeer die polisie al sedert Junie 2018 help om die probleme rondom vuurwapenlisensies op te los.

Volgens Camphor se brief het hy die minister reeds in Junie 2018 gevra om ’n vergadering om die moontlikheid van amnestie te bespreek.

Camphor en regsverteenwoordigers van die ministerie het in Julie 2018 vergader. Toe is belowe dat hy binne twee weke terugvoering sal kry. Dit het nooit gebeur nie.

Hy skryf hy het in Februarie vanjaar gevra om met die minister te praat.

En elke keer het SA Jagters aangebied om die polisie te help om die probleme met vuurwapenlisensies op te los.

Op 26 April vanjaar het SA Jagters ’n brief aan die presidensie geskryf en pres. Cyril Ramaphosa gevra dat ’n vergadering met belanghebbendes belê word.

Hy sê SA Jagters het op die vergadering, wat Ramaphosa vir 29 April gereël het, vuurwapeneienaars se hulp aangebied.

Op 4 Junie het Camphor en SA Jagters ’n brief van die presidensie ontvang waarin hulle aangeraai is om eerder met die polisie te praat.

Camphor sê in die brief dat hy ook op 13 Junie ’n brief aan Cele geskryf en gevra het om met hom te vergader.

Die ministerie het ontvangs van die brief erken en daar is belowe dat ’n vergadering gereël sou word.

Camphor sê die vergadering is nooit gereël nie en hy het op 13 Augustus weer ’n vergadering versoek. Hy het ook heelwat oproepe na die minister se kantoor gemaak.

Op 15 Augustus het Cele ’n brief aan die speaker geskryf waarin hy vir amnestie vanaf 1 Oktober 2019 tot 31 Maart 2020 vir vuurwapeneienaars gevra het.

Cele het ook gevra dat amnestie nie toegelaat word vir ’n vuurwapenaansoek waar geen bewys gelewer kan word van wie die vorige eienaar is nie.

Op 11 September het die polisie se topbestuur die parlementêre portefeuljekomitee oor die moontlike amnestie ingelig.

Camphor sê tot op hede het die komitee nog nie oor die amnestie gestem nie.

Die portefeuljekomitee het die amnestie ondersteun maar op voorwaarde dat die minister ’n afsonderlike proses vir die hernuwing van vuurwapenlisensies afkondig.

Die adjunkminister het daartoe ingestem, sê Camphor.

Hy beskuldig Cele in die brief daarvan dat die kennisgewing in die Staatskoerant dieselfde kennisgewing is wat Cele in Augustus aan die speaker gestuur het. Net die datum is verander.

Cele het nie die komitee se insette in die kennisgewing in die Staatskoerant vervat nie, sê Camphor.

Hy skryf voorts dat die polisiebestuur die parlement mislei deur te kenne gee dat polisielede opgelei is, terwyl opleiding eers verlede week op 5 Desember verskaf is.

Camphor beweer ook Cele het die parlement mislei omdat daar aan die portefeuljekomitee gesê is dat ’n afsonderlike proses vir die hernuwing van lisensies terselfdertyd ingestel sal word, terwyl die kennisgewing wat hy geteken het reeds in Augustus opgestel is en dat geen oorweging aan die portefeuljekomitee se voorstel gegee is nie.

Camphor skryf verder dat Cele die publiek mislei het toe hy op ’n mediakonferensie gesê het dat daar ’n tydperk van ses maande is waartydens vuurwapens, waarvan die lisensies verval het, hernu kan word.

Camphor sê die amnestie wat afgekondig is, maak nie daarvoor voorsiening nie. Dit maak net voorsiening vir nuwe lisensie-aansoeke van vuurwapens wat ingedien is.

Die ministerie het teen Maandagmiddag nog nie op medianavrae gereageer nie.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Ope Brief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.