Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vuurwapens: SVR-hoof ‘óf onkundig óf moedswillig’

Die feit dat die hoof van die sentrale vuurwapenregister (SVR), brig. Lucky Mabule, wapeneienaars vir die agterstand in die verwerking van die aansoeke om lisensies wil blameer, wys dat hy nie weet hoe die stelsel werk nie, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Belanghebbendes in die vuurwapensektor is op 6 September ingelig dat die SVR probleme ondervind met onvolledige aansoeke wat van polisiekantore ontvang word.

Mabule sê dit is aansoekers se plig om te verseker dat die aangewese vuurwapenoffisier die inligting volledig op die stelsel invoer.

Groenewald het by navraag gesê dit dui op Mabule se onkunde óf moedswilligheid en dat aansoekers nie eens toegelaat word om op die rekenaar te kyk wanneer die aansoeke ingedien word nie.

Hy het gesê die aangewese polisielid is verantwoordelik daarvoor dat die inligting korrek ingevoer word.

Volgens Groenewald wil dit lyk asof Mabule die blaam vir die chaos in die SVR op vuurwapeneienaars wil plaas.

Hy het gesê daar is onkundigheid by die polisielede en daar is al voorheen bewys dat inligting nie korrek in die polisiekantore by die stelsel ingevoer word nie.

Hy meen dit is ’n swak verskoning van Mabule, en as hy die verantwoordelikheid op die vuurwapeneienaars wil plaas, moet daar ’n stelsel soortgelyk aan dié van Suid-Afrikaanse Inkomstediens wees waarmee aansoekers hul eie aansoeke kan indien.

Fred Camphor, uitvoerende hoof van die SA Jagters-en-wildbewaringsvereniging (SA Jagters), wat sowat 44 000 jagters en sportskuts verteenwoordig, het gesê dit is belaglik om van die aansoekers vir vuurwapenlisensies te verwag om toe te sien dat die inligting op die stelsel korrek aangebring word.

“Dit is die werk van die aangewese polisieoffisiere in die polisiekantore en dit is waarvoor hulle betaal word.”

Die polisie en die SVR het onlangs hul prestasieverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor die polisie voorgelê.

Camphor het gesê volgens dié verslag is daar ’n agterstand van 188 296 aansoeke vir bevoegdheidsertifikate wat nog verwerk moet word.

Uit die verslag blyk dit ook dat daar ’n agterstand van 138 908 nuwe aansoeke is wat wag om verwerk te word – en dit sluit nie hernuwings in nie.

Dit bewys dat dit moontlik is om die proses binne ’n redelike tyd af te handel indien almal hul werk doen.

Camphor het verder gesê dat 29 758 vuurwapens gedurende die 2019-amnestieperiode ingedien is waarvoor eienaars heraansoeke vir lisensiëring ingedien het.

Nog net die helfte van dié aansoeke is verwerk.

Tydens die 2020-’21-amnestieperiode is 75 363 vuurwapens ingehandig waarvoor lisensie-aansoeke ingedien is. Volgens die polisieverslag is nog net 5,6% (4 241) van hierdie aansoeke afgehandel.

Camphor het gesê SA Jagters se ondervinding is dat dit tussen 12 en 18 maande neem om ’n vuurwapenlisensie uit te reik.

Die hernuwing van ’n vuurwapenlisensie neem ses tot agt maande, mits die aansoeker se bevoegdheid geldig is.

Hy het gesê daar is wel gevalle waar aansoeke binne drie tot vier weke afgehandel is.

“Dit bewys dat dit moontlik is om die proses binne ’n redelike tyd af te handel indien almal hul werk doen.”

Volgens Camphor is wetsgehoorsame vuurwapeneienaars raadop met die polisie en die SVR se gesloer.

Hy het gesê die portefeuljekomitee oor die polisie het in April met belangegroepe vergader en belowe om behoorlike samesprekings met dié groepe te hervat.

“Dit is nou vyf maande sedert die April-vergadering en ons wag steeds dat samesprekings tussen die polisie en die vuurwapenbedryf hervat word.”

Meer oor:  Polisie  |  Vuurwapenregister  |  Vuurwapen  |  Vuurwapenwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.