Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vuurwerk dalk oorsaak dat huis afbrand

Hy het in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag wakker geskrik toe bolle rook by sy slaapkamer begin inborrel.

Die brandende huis in Randburg. Foto: Verskaf

Toe was die helfte van Laurence Upton (48) se huis in Randburg reeds in ligte laaie, nadat dit vermoedelik deur ’n vuurwerk getref is.

“Ek het na my ma (Christine, 76) toe gehardloop – sy woon in ’n woonstel aan die huis – en ons het die twee honde gegryp. My dogter (Scheugnet, 20) was nie daar nie,” sê Upton.

“Mense sê hulle dink ’n vuurwerk het die brand veroorsaak, want daar is vuurwerk naby my huis geskiet, maar die brandweer kon dit nie aan my bevestig nie.”

Die huis is in Sentraalweg in Jacanlee in Randburg geleë.

Nadat Upton sy ma en die twee honde, Chewee en Nuschka, na veiligheid gebring het, is hy terug die brandende huis in om sy beursie te kry.

“Ek het deur die enigste venster geklim wat nie diefwering het nie en seker ’n halwe meter van die vlamme af gestaan om my beursie te gryp. Dit was so warm, die koperpype het gesmelt. Die yskas het ook gesmelt,” sê hy.

Hy was hierna “van kop tot toon” pikswart van die roet.

Toe begin die stryd om die brandweer in die hande te kry.

’n Vuurwerk het moontlik die brand by die Uptons se huis veroorsaak. Foto: Verskaf

“Ek het eers 10111 geskakel. Ná 15 minute se aanhou, het hulle my deurgesit na iemand wat steeds nie die brandweer was nie. Toe moes my ma en die honde ry om die brandweer by die stasie te gaan haal.”

Hy sê toe die brandweer uiteindelik by sy huis aankom, “was alles byna kisboude” gebrand.

Volgens Upton het die brandweer omtrent 50 minute ná die noodoproep by sy huis opgedaag.

Nana Radebe, woordvoerder vir die EMS in Johannesburg, het bevestig die noodoproep het omstreeks 04:20 na die Randburg-brandweerstasie deurgekom, “maar hulle het nie ’n brandweerwa nie, die skid (voertuig met ’n brandbestrydingsapparaat) het gereageer”.

Die reaksievoertuig het solank die brandweerwa van die Roosevelt Park-brandweerstasie ontbied en die brand by die huis begin bestry.

Volgens Radebe was die brandweerwa om 04:45 op die toneel.

Die huis is in puin gelaat. Foto: Verskaf
Daar is byna niks oor van Laurence Upton se huis nie, nadat vuurwerk vermoedelik tot ’n brand gelei het. Foto: Verskaf
Die vuur was so warm die koperpype het glo gesmelt. Foto: Verskaf
Laurence Upton se huis het nie meer ’n dak ná die brand vroegoggend nie. Foto: Verskaf
Laurence Upton het feitlik alles verloor in die brand by sy huis vroegoggend. Foto: Verskaf

Meer oor:  Nuwejaarsdag  |  Randburg  |  Vuurwerk  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.