Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Vyf lyke gevind ná boot op Vaalrivier omslaan
’n Snuffelhond is ingespan om te help soek na lyke. Een is gevind kort nadat die foto geneem is. Foto: Brümilda Swartbooi

Die lyke van al vyf mans wat Saterdag verdrink het toe die motorboot waarop hulle op die Vaalrivier gevaar het, omgeslaan het, is teen Sondagmiddag gevind.

Die mans was na verneem word almal vriende.

’n Man en vrou wat saam met hulle op die boot was, het net ligte beserings opgedoen.

Een lyk is Saterdag kort ná die ongeluk gevind. Polisieduikers het Sondagoggend hul soektog voortgesit en net ná 14:00 die tweede lyk gevind.

Polisieduikers soek Sondag na die lyke van die mans wat verdrink het toe hul boot Saterdag op die Vaalrivier omgeslaan het. Foto: Brümilda Swartbooi

Teen sononder is die ander drie ook gevind.

Vriende en familie van die vermiste mans het Sondagoggend vroeg by die rivier opgedaag waar hulle op kampstoele die hitte getrotseer het terwyl hulle die soektog in die water dopgehou het.

Ross Campbell van die ER 24-nooddiens het Saterdagaand gesê hul paramedici, die polisie en lede van die Metro-nooddiens het om 17:50 op die toneel naby Spider Valley en Mario Milaniweg in Vereeniging opgedaag en verneem dat vyf mans verdrink het.

“Die oorlewende man het verduidelik dat die boot water geskep en omgeslaan het,” het Campbell in daardie stadium gesê.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse provinsiale polisiewoordvoerder, het Sondagoggend gesê die sewe mense het van die Sam Gross-bootoprit by Drie Riviere die rivier ingevaar.

“Die polisie ondersoek die voorval en ’n dossier vir ’n geregtelike doodsondersoek is geopen,” het Peters gesê.

Volgens haar was die mense aan boord van 30 tot 45 jaar oud.

Familie en vriende van die vermiste mans het Sondagoggend vroeg reeds die polisiesoektog dopgehou. Foto: Brümilda Swartbooi
Lede van die polisie se watervleuel het Sondagoggend hul soektog na vier lyke in die Vaalrivier voortgesit. Foto: Brümilda Swartbooi

Dit was sterk skemer toe die Scimitar-motorboot omslaan. Dit het weggedryf en die polisie het dit Sondagoggend net meer as ’n kilometer verder gevind en teruggesleep.

Polisieduikers het intussen die rivier bly fynkam. Teen 14:00 het hulle ’n snuffelhond ingespan om saam met ’n polisieduiker op ’n geel rubberboot verder te soek.

Kort daarna is die tweede lyk gevind.

Daarna is die ander lyke ook gevind.

Reëls op die water

Johan Jansen van die Suid-Afrikaanse vereniging vir klein vaartuie en eksaminator van die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) sê die dra van reddingsbaadjies deur almal aan boord is net verpligtend ter see.

Reddingsbaadjies op riviere en damme is net verpligtend vir kinders jonger as 12, mense wat nie kan swem nie, in die nag of in gure weer, of as ’n passasier volgens die skipper se diskresie oud of gestremd is.

“Die skipper moet ’n baadjie aanbied, maar hy kan nie iemand ouer as 12 in normale omstandighede verplig om dit aan te trek nie.”

Minstens een van die sewe mense aan boord van die boot het blykbaar wel ’n skipperslisensie gehad.

“Ek het nie al die inligting oor die voorval nie, maar as ’n boot in normale omstandighede met ’n draaislag water skep, sou dit nie genoeg wees om probleme te veroorsaak nie,” sê Jansen.

Familielede op die toneel wou nie met die nuusmedia praat of die identiteit van die oorledenes bekend maak nie.


Ongeluk op Vaaldam

Nooddienspersoneel het Saterdagmiddag na die Vaaldam gejaag toe ’n waterponie by die Vaal Marine in Midvaal teen ’n snelboot gebots het.

Campbell sê mense in ’n ander boot het reeds die 41-jarige vrou en die 44-jarige man wat lede van die groep op die snelboot was, aan wal gebring toe die nooddienste kort ná 15:00 daar opdaag.

“Die vrou het ’n kopbesering opgedoen, terwyl die man verskeie ander beserings gehad het. Twee ander mense op die snelboot, ’n jonger man en vrou, is minder ernstig beseer en op die toneel behandel. Die man wat op die waterponie was, is ongedeerd.”

Volgens Shawn Herbst van die Netcare 911-nooddiens, blyk dit dat die man op die waterponie beheer verloor en toe teen die snelboot gebots het.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Bootongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.