Die Boland het pas sy tweede daggaklub gekry, kompleet met zol en dagga-pizza op die spyskaart.

Nic Cheyne (links) en Eugene Adrian Kurs by die toonbank van die daggaklub in Stellenbosch waar lede ’n zol kan rook.
Die Paarl, Oudtshoorn en Hartbeespoort het reeds sulke klubs.
Die Nature’s Farmacy Co., op die R44-pad aan die buitewyke van Stellenbosch, is die jongste wat sy deure open danksy ’n skuiwergat in die wetgewing oor daggagebruik. Die konstitusionele hof het in 2018 gesê jy mag dagga in ’n private ruimte kweek en gebruik.
By Nature’s Farmacy is enige volwassene welkom om dagga te bestel solank hy of sy ’n lid word van die klub. Jy mag nie vir daggaprodukte betaal nie, want die wet verbied steeds die handel in dagga.
Dit werk só: As jy ’n lid van die klub word, sal die klub op jou versoek vir jou dagga kweek. Elke klublid besit dus sy eie, “privaat gekweekte” dagga en kan dit na hartelus in die “private ruimte” van die klub geniet. Geen direkte daggatransaksies mag plaasvind nie.
Selfs ’n Springbok of twee is lid.
Die klub finansier sy bedrywighede deur ledegeld van R50 per maand en verkope van nie-daggaprodukte, CBD-olies ensovoorts. ’n Deel van die klub is boonop daggavry. Daar kan nie-gebruikers soos by enige restaurant of koffiewinkel kuier en eet- en drinkgoed bestel.
Die klubs word op ’n konsessiebasis bedryf en is die geesteskind van Bruce Fenthum, direkteur van One Culture National (OCN). Die groep gee klublede die geleentheid om wettig dagga, in watter vorm ook, te verbruik, sê hy.
Hulle het die sakemodel aan senior polisielede voorgelê en daar is selfs gerespekteerde lede van die gereg wat lid is, sê hy. En moenie verbaas wees as jy ’n Springbok-rugbyspeler of twee daar raakloop nie.
Die idee is om ’n “ego-vrye” omgewing te skep waar mense uit verskeie oorde kan saamkom met een ding gemeen – hul liefde vir dagga. Elke klub is uniek.

Obina Nwachukwu en Bruce Fenthum maak ’n daggadampie. Foto’s: Edrea du Toit
By die Stellenbosch-tak word daar byvoorbeeld Saterdae joga-klasse aangebied en soms musiekkonserte. Hulle maak selfs planne vir ’n baan vir hokkie en sokker.
Die Paarl-tak het in sy eerste maand reeds ’n wins gemaak, want daar is ’n gevestigde groep daggaliefhebbers op die dorp, maar weens Covid-19 en rompslomp het die Stellenbosch-tak stadiger gegroei. Hulle moes stoei net om ’n naambord op te sit, want die R44 is ’n erfenispad, sê Fenthum. Nou het hulle reeds meer as 1 000 lede en die studente is nog nie eens terug nie.
Die grootste teenkanting wat hulle tot dusver gekry het, is van onwettige daggasmouse. Fenthum sê hulle hoop om dié handelaars te betrek sodat hulle ’n wen-wen-situasie kan skep.
Die groep het onlangs sy eie niealkoholiese bier begin vervaardig waarby dagga gevoeg word. “Dit is vir my ’n alternatief om iets beter te bied,” sê hy.