Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Waarheid Eerste wil ondersoekende joernalistiek só steun
Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers.Foto: Natalie Gabriels

Ondersoekende joernalistiek is een van die hoekstene van ons demokrasie, maar word dikwels weens ’n gebrek aan geld gekortwiek.

Só het Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers, Donderdagaand gesê toe hy die stigting van ’n maatskappy sonder winsbejag ten bate van ondersoekende joernalistiek in Media24 aangekondig het.

Vosloo het in ’n gesprek by die Sentrum vir Studentegemeenskappe aan die Universiteit Stellenbosch gesê die maatskappy Waarheid Eerste is op die been gebring om van die land se voorste ondersoekende joernaliste te help om hul werk voort te sit.

Hy en sy vrou, Anet, het reeds ’n skenking van R3,5 miljoen gemaak om die maatskappy te vestig.

’n Beroep word nou op Naspers-aandeelhouers en alle besorgde Suid-Afrikaners gedoen om ook bydraes aan Waarheid Eerste te maak om ondersoekende joernalistiek op ’n verantwoordelike wyse te help finansier.

“Benewens die finansiële aanpassings wat die nuusmedia wêreldwyd moet maak in die era van die internet en sosiale media, het ons in Suid-Afrika met ’n besonderse uitdaging te kampe,” het Vosloo by navraag gesê. “Ons het ingeligte, bekwame en vindingryke joernaliste wat al vir verskeie opspraakwekkende blootleggings van staatskorrupsie en dies meer gesorg het. Hul vermoë om deurtastende ‘grawe-werk’ te doen, word egter dikwels weens ’n gebrek aan middele belemmer.

“Sulke joernalistieke ondersoeke kan maande duur en geskied buite die daaglikse spyskaart van die nuusmedia. Dit is duur, maar dit is eweneens belangrik dat dié werk in ons bedreigde demokrasie volgehou word.”

Die doelstellings van Waarheid Eerste is onder meer om ondersoekende joernalistiek van gehalte in die openbare belang aan te moedig en ’n eerlike, vrye media te bevorder wat vergrype oopvlek.

waarheid eerste
Waarheid Eerste wil ondersoekende joernalistiek steun .

Dit moet ook tot ’n gevoel van bemagtiging bydra deurdat dit Suid-Afrikaners in staat stel om openbare instellings aanspreeklik te hou.

“As feitlik my hele volwasse lewe ’n joernalis, het ek deur ervaring geleer die sluitsteen van demokrasie in Suid-Afrika is ’n vrye, selfstandige media,” sê Vosloo. “Dit is in die jongste jare oor en oor bewys met dapper en verantwoordelike ondersoekende joernalistiek wat tot die grootskeepse ontbloting van korrupsie en wanbestuur aan ’n wye front gelei het. Dis ’n genade dat ek in die posisie is om ’n bydrae te lewer tot die stigting van Waarheid Eerste. Mag dit ons joernalistiek versterk om sy lewegewende werk in nuwe, moeilike omstandighede suksesvol voort te sit.”

Media24-joernaliste sal ondersoekende projekte wat bykomende middele benodig vir finansiering kan voorlê aan ’n komitee bestaande uit direkteure van Waarheid Eerste. Alle aansoeke sal aan die finansieringsreëls moet voldoen.

Benewens die Vosloo-egpaar is die ander direkteure Joe Thloloe, voormalige persombudsman, Charlene Beukes, hoofbestuurder: News and Lifestyle by 24.com, Adriaan Basson, hoofredakteur van News24, Mondli Makhanya, hoofredakteur van City Press, Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24, en Oloff Sieberhagen¸ ’n prokureur van Marais Müller Hendricks Prokureurs Ingelyf.

“Die grootste geskenk van ’n vrye media is dat die publiek die gerustheid moet hê dat hulle altyd die waarheid sal weet,” sê Anet Vosloo. “Dit is die vertroue wat ons met Waarheid Eerste wil kweek: om te weet dat Media24 uit sy pad sal gaan om te sorg dat lesers deel van ’n eerlike en opregte binnekring is wat die volle storie sal hoor.”

Joe Thloloe, voormalige persombudsman en veteraan-joernalis. Foto: Jeanette Chabalala, News24

Thloloe het Naspers-aandeelhouers geloof vir dié inisiatief om terug te gee, en gesê dit is ’n vernuwende manier om geld vir ondersoekende joernalistiek te bekom

“Ondersoekende joernalistiek word regtig bedreig weens publikasies wat koste besnoei.”

Volgens Thloloe is dit een van die vorme van joernalistiek wat eerste in die slag bly met kostebesnoeiings omdat dit baie tyd en geld verg en dit joernaliste uit die stroom van daaglikse verslaggewing haal.

“Enigiemand wat ondersoekende werk waardeer, sal dié projek wil steun. Die land is waar hy nou is te danke aan die joernaliste wat apartheid en die endemiese korrupsie wat ons tans sien, blootgelê het. Dié joernaliste hou ons op hoogte van dit wat aangaan.”

* Mense wat meer inligting oor Waarheid Eerste wil hê of ’n skenking wil maak, kan ’n e-pos stuur aan oloffs@mmha.co.za

*  Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.

Meer oor:  Ton Vosloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.