SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Walter Meyer het 'sy lewe omgedraai'
Een van die laaste Kalahari-landskappe wat Walter Meyer geskilder het in Suzette Kriel se huis waar hy rus en vrede gevind het.Foto: Suzette Kriel

“Al wat ek kan sê, is hy het sy lewe heeltemal omgedraai. Hy het besef wat vir hom belangrik is en dat hy moet werk.”

Só sê Raymond Padmaker, buurman en vriend van die bekroonde landskapskilder Walter Meyer, op ’n snikhete Oujaarsdag in Upington.

Die seer en woede oor Meyer se dood lê vlak.

Padmaker praat met deernis oor dié wroegende, skugter, vriendelike man wat sy liefde vir rose gedeel het.

“Hy het geweet hy sal nie na Carla (Meyer se 5-jarige dogter) kan kyk as hy dit nie doen nie,” sê Raymond oor die noodsaak vir die ommekeer.

Meyer is op 22 Desember na bewering deur sy vrou, Sophia, met ’n mes doodgesteek.

Die Padmakers, wat aan die luidrugtige rusies en drinkery in die Meyers se huis gewoond was, het nie dadelik besef dat ’n tragedie gebeur het nie.

Eers toe hulle die flitsende ligte van die ambulans sien, het hulle uitgevind dat Meyer dood is.

“Hy het in die agterdeur gelê met sy voete na buite en sy hand op sy bors,” sê Nancy Padmaker.

Hierdie toneel van die oewer van die Oranjerivier is die tweede laaste landskap wat uit Walter Meyer se kwas vasgevang is. Die skildery is kort ná sy dood by Suzette Kriel se huis kom haal.Foto: Suzette Kriel
Stillewe: Suzette Kriel het dié foto geneem van die kamer waarin Walter Meyer sedert September geskilder het. Op die tafel is sy kwaste netjies uitgepak en op die stoel neffens die tafel lê sy palet met hopies verf.Foto: Suzette Kriel
Dalk die laaste foto wat van Walter Meyer geneem is. Suzette Kriel het hom dié dag in die tuin gekry waar hy rustig ontspan en ’n boek lees. Op die tafel langs hom lê sy geliefde hoed. “Hy het so rustig gelyk en ek moes die oomblik net vasvang,” sê Kriel. Foto: Suzette Kriel

Nancy en haar kinders, Raymond en Lynette, het hulle soontoe gehaas.

Nancy, ’n verpleegster, het aangebied om te help, maar van die nooddienste verneem dat dit te laat is.

“Carla het verwese buite die deur in die agterplaas gestaan en huil. Ek het die polisie gevra om haar weg te vat. Ek wou nie hê sy moes Walter so sien nie,” sê Nancy.

Die ergste skok was dat die mense in die huis aangehou drink het terwyl die nooddienste by Walter was.

Wat dié aand se beweerde rusie tussen die Meyers ontketen het, weet die Padmakers nie.

“Al wat ek weet, is dat hy Carla wou kom haal. Walter het vir my gesê hy het ’n plekkie buite die dorp gekry waar hy weer hard begin werk het. Hy het sy lewe met mening probeer omdraai en hy wou Carla saamneem,” sê Raymond.

“Daai man het soveel respek vir ander mense gehad. Hy het almal dieselfde gehanteer,” vertel Nancy.

Hy het sy lewe met mening probeer omdraai en hy wou Carla saamneem.

Die heining tussen die Padmakers en die Meyers is met ’n blou skadunet toegespan.

Nancy het dié skadunet uit radeloosheid oor die gereelde chaotiese drinkery en rusies opgesit.

“Dis ook die rede waarom hulle uit Keidebees moes trek. Walter het gesê die inwoners het die een of ander versoekskrif opgestel om hulle oor die drinkery en omdat Sophia en haar familie so gemors het daar weg te kry. Dis toe dat hulle hier ingetrek het,” sê Nancy.

“Hy hét erg gedrink. Hy het die rooi prop (Gordonia Special-wyn) gedrink, sommer só,” wys sy met haar arm omhoog gelig.

Tog was Nancy besorg oor Meyer en het hulle gereeld oor die heining gesels.

“Hy was lief vir tuinmaak en rose en het baie kennis gehad oor waar die verskillende tipes rose vandaan kom. Hy het selfs vir my van sy boeke oor rose geskenk.”

Sy wys Gardening with Roses trots.

“Ek het ’n mooi oranjegeel roos in die tuin waaroor Walter met groot opgewondenheid gesels het,” sê Raymond.

“Die trane het skielik oor sy wange begin rol toe hy die roos in sy hande hou. Toe sê hy vir my: ‘Sophia was ook eens ’n roos, maar toe het sy in ’n kaktus verander.’

Skildersdoek en sagte lig. Hier het Walter Meyer weer inspirasie gekry om te skilder. Foto: Suzette Kriel
Raymond Padmaker, Walter Meyer se buurman, staan by die heining wat met blou skadunet toegespan is. Nancy Padmaker wou keer dat haar kleinkinders die bure se rusies en drinkery aanskou. Foto: Anena Burger

“Hy het so mooi gelyk daardie aand. Hy was steeds vervalle, maar hy was skoon en jy kon sien hy het weer na homself begin kyk,” sê Nancy.

Sy vee trane weg as sy oor die dag in September praat toe ’n verwese Walter uit die huis gegooi is.

“Hy was regtig lief vir Sophia, maar daardie dag het sy en haar skelmpie hom op straat gesit. Hy het buite op die sypaadjie met sy bruin tassie gestaan.

Almal wil net oor die slegte goed praat, maar daar was die goeie tye ook.

“Sy het nog vir hom ’n hand vol papiere aangegee en gesê hy moet loop. Daardie gesig sal my nooit verlaat nie. En toe is hy hier weg.”

Meyer is na die huis van ’n vriendin, Suzette Kriel, sowat 30 km buite Upington geneem.

Sy het Meyer, wat in ’n bedenklike toestand was, herberg gebied.

Hoewel Kriel, wat met depressie worstel en borskanker oorleef het, dit self nie breed het nie, het sy haar oor Meyer ontferm.

Kriel gesels by ’n allemintige houttafel wat sy tydens haar stryd met kanker gemaak het.

Telkens raak haar stem sag en skep sy moed voor sy haar sinne voltooi.

“Almal wil net oor die slegte goed praat, maar daar was die goeie tye ook. Hy het maar sleg gelyk toe hy hier aangekom het, maar hy het regtig weer hard begin werk. Soms sommer aan ’n paar skilderye op ’n slag.”

Suzette Kriel gesels oor die tyd toe Walter Meyer by haar ’n herberg gevind het. Foto: Anena Burger

Op ’n toer deur die huis wat sy vir Walter ingerig het sodat hy in vrede kon werk, vertel sy hy het goeie en slegte dae beleef.

“Party dae het hy gesê: ‘Ek is sommer weer lus vir werk.’ “Dan was daar die dae dat hy glad nie sy kwaste wou optel nie.

“Dan het ek vir hom gesê dit is oukei, dat hy dit dan moes los.”

Kriel vertel sy het Meyer telkens in die tuin met ’n boek aangetref. Hy sou die gras halm vir halm uitpluk of met sy vinger sy hare krul terwyl hy lees.

“Hy het die gras so gepluk dat ek sy stoel geskuif het, want daar sou seker niks van die grasperk oorgebly het nie.”

Sy stoot die deur van die kamer oop waarin Meyer die afgelope maande aan sy laaste skilderye geverf het.

’n Groot esel staan in die middel van die vertrek.

Met die eerste oogopslag tref ’n uitknipsel van ’n selfportret van Vincent Van Gogh teen die esel jou.

En bo dit ’n foto van een van die laaste landskappe wat Meyer uit sy kwas sou laat leef.

Nancy Padmaker, Walter Meyer se buurvrou, het haar na die toneel gehaas waar hy op 22 Desember na bewering deur sy vrou, Sophia, met ’n mes gesteek is. Foto: Anena Burger

Dis ’n oewertoneel van die Oranjerivier, maar dié skildery is kort ná sy dood kom haal.

In die sag beligte kamer heers kalmte. Foto’s van Meyer se kinders pryk teen die muur.

’n Kartondoos vol aantekeningboeke met aantekeninge en sketse is op ’n rak.

Sy palet met ’n hoop vermengde kleure, in nat olieverf, herinner vreemd aan Van Gogh se Die Sterrenag.

Kriel vat aan haar oor en beduie hoe Meyer sy linkeroor in Duitsland gesny het nadat sy huwelik met sy eerste vrou, Simone, op die rotse geloop het. Hy was dae lank in erge pyn.

Kriel meen dat hy met depressie geworstel het.

Sy het soms wakker geword wanneer Meyer rusteloos in die huis was. “Een aand het hy met sy vuiste teen die muur geslaan en geskree: ‘Sophia, Sophia, moenie!’ Dit was hartverskeurend.”

Meyer het ’n paar dae voor sy dood terneergedruk gevoel.

“Ek het vir hom gesê dis oukei om te huil. ‘Huil jou hart uit, dan voel ’n mens beter.’ ”

Op die laaste dag wat hulle mekaar gesien het, het sy vir hulle visbroodjies gemaak.

“Hy het soveel waardering vir alles gehad en nog vir my gesê hoe lekker dit is. Daarna het hy teen die pad gaan staan en hike.

“Toe hy vir my met daardie groot glimlag totsiens waai, het ek nooit gedink dat ek hom nie weer sou sien nie,” sê sy bewoë.

“Hy het dit regtig nie verdien nie.”

Hy het dit regtig nie verdien nie.
Raymond Padmaker wys die roos waaroor hy en Walter Meyer gesels het en wat Meyer tot trane gedryf het. Foto: Anena Burger
Nancy Padmaker, Walter Meyer se buurvrou in Augrabies Park in Upington, sit met boeke oor rose wat Meyer aan haar en haar seun, Raymond, gegee het. Meyer het ’n groot liefde vir tuinmaak gehad en was veral gaande oor rose.Foto: Anena Burger
’n Afdruk van Vincent van Gogh se selfportret en ’n foto van een van die laaste landskappe wat Meyer geverf het.Foto: Anena Burger
Walter Meyer se palet in die kamer waarin hy sedert September verlede jaar gewerk het. Foto: Anena Burger
Walter Meyer het altyd ’n aantekeningboek by hom gehad waarin hy sketse en aantekeninge gemaak het. In die kamer in Suzette Kriel se huis waar hy gewerk het, is minstens twee kartondose vol aantekeningboeke.Foto: Anena Burger
Volgens Suzette Kriel, by wie Walter Meyer sedert September tuisgegaan het, het hy ’n goeie humorsin gehad. Hy het gereeld komiese sketse op die swartbord gemaak. Dit was een van die laaste.Foto: Anena Burger
Meer oor:  Walter Meyer  |  Kunstenaar  |  Doodgesteek  |  Huldeblyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.