Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Waltloo soek nuwe wyksleier

Sakelui in Waltloo het net mooi genoeg gehad van die voordurende kragonderbrekings wat hulle miljoene rande kos.

Om die regerende party in Tshwane duidelik te laat verstaan presies hoe keelvol hulle is, bedink hulle toe ’n plan.

Oornag het meer as ’n honderd plakkate in wyk 47 verskyn.

Plakkate wat in wyk 47 opgesit is om te wys hoe keelvol sakelui is vir die swak dienslewering.

“Rêrig? Watse ‘progress’ ?” basuin die plakkate uit in reaksie op die DA se tussenverkiesingsplakkate met die woorde “Keep making progress. Vote DA.”

Foto’s van nog ’n klomp plakkate by plekke wat die agteruitgang in die omgewing wys, is ook op sosiale media geplaas.

“Ons het dié drastiese stap gedoen omdat dit absoluut verregaande is dat ons weekliks produksieverliese van miljoene rande ly as gevolg van kragonderbrekings en ander diensleweringsprobleme, net om ná ’n werkdag op pad huis toe met DA-plakkate wat blatant vals is, gekonfronteer te word,” sê Marcus Venter van die Waltloo-nyweraarsvereniging wat die veldtog saam met die Tshwane Money Matters-koukus voer.

Die Waltloo-nyweraarsvereniging verteenwoordig 53 fabrieke, wat saam ’n paar duisend werksgeleenthede skep.

Die twee organisasies gaan nou selfs verder deur na die gemeenskap van Eersterust, waar die meeste van die kiesers in die wyk en werknemers van die betrokke ondernemings woon, uit te reik om ’n gepaste onafhanklike kandidaat te identifiseer om die gemeenskap en sakelui in die volgende verkiesing te verteenwoordig.

Die plan is om die kandidaat se verkiesingsveldtog te help organiseer en te finansier.

“Ons wil nie by politiek betrokke raak nie, maar ons kan eenvoudig nie toelaat dat Waltloo so agteruitgaan nie.

Die Tshwane-metroraad het teen druktyd nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

“Ná twee jaar aan bewind is geen van die beloftes wat die burgemeester gemaak het, nagekom nie.

“Trouens, die buurt gaan vinniger agteruit as onder die ANC. Een van die dae gaan ons dalk nog groter verliese ly deur uit die omgewing te trek omdat die munisipaliteit ons in die steek laat. Dit sal duisende mense werkloos laat.”

Die lang lys van probleme in die wyk sluit in onwettige storting, stukkende straatligte, watertoevoer wat sonder rede afgesny word, onwettige en onveilige kragverbindings, rioolvuil wat in die strate loop en onbegaanbare toegangspaaie.

Venter sê saam met die Tshwane Money Matters-koukus is ’n proses ook begin om hul verliese van die munisipaliteit te begin verhaal.

“Sowat R150 miljoen is na raming met die laaste kragonderbreking wat vyf dae geduur het, verloor. Kragstuwings veroorsaak ook op ’n weeklikse basis skade aan elektriese toerusting. Ons win regsadvies in om verliese deur middel van ’n klasaksie te verhaal.”

Die Tshwane-metroraad het teen druktyd nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

* Gereelde kragonderbrekings in die Doornpoort-omgewing maak inwoners ook briesend.

Deon Venter, ’n inwoner en Beeld-leser, skryf uit radeloosheid: “Die kabels wat krag aan ’n groot gedeelte van Doornpoort voorsien, is weer gesteel en niemand doen iets om dit te beveilig nie.”

Venter sê hy moes al ’n yskas en vrieskas vervang wat weens kragstuwings onklaar geraak het.

“ ’n Mens weet al, as die krag tussen 02:00 en 03:00 in die nag afgaan, dat die kabels weer gesteel is. Wanneer ons bel om te hoor wat gaan aan, word daar net gesê ‘sorry sir’. En ’n verwysingsnommer gegee.

“Ek dink verlede Dinsdag was dit die 11de of 12de keer sedert begin Maart wat ons sonder krag sit in Doornpoort.”

Meer oor:  Kragonderbrekings  |  Politiek  |  Da  |  Sakelui
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.