Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Walvis sluk man in

Die donkerblou seeoppervlak van die Indiese Oseaan het gekook van die sardyne wat spartel terwyl malgasse, pikkewyne en robbe op hulle jag maak. Die buitelewe-fotograaf Rainer Schimpf (51) was ook in die water om die jagtog af te neem.

Toe gebeur die ondenkbare. ’n Walvis kom uit die donker dieptes en Schimpf beland in sy bek.

Vir ’n sekonde en ’n half was dit donker rondom Schimpf. Hy was saam met ’n swetterjoel vis vasgedruk in die kake van die walvis.

‘Al wat ek gesien het, is iets groot en donker.’

Op foto’s wat die fotograaf Heinz Toperczer van die ongelooflike oomblik in Februarie geneem het, sien jy Schimpf duidelik. Net sy onderlyf hang by die reus se bek uit.

Net so vinnig soos die nagmerrie begin het, het dit geëindig. Die bedremmelde Schimpf is soos die Bybelse Jona uitgespoeg, dié keer in die see.

Die bisarre see-drama het hom afgespeel sowat 25 seemyl (46 km) vanaf Port Elizabeth.

Die vis was ’n Bryde-walvis (Balaenoptera brydei) wat meestal van mikroskopiese seelewe leef, maar soms ook smul aan kleinerige skoolvisse.

Schimpf se vrou, Silke, was aan die stuur van hul boot terwyl Toperczer foto’s geneem het van Schimpf en ander snorkelduikers in die water.

Gelukkig was Toperczer se kamera op Schimpf gefokus en gestel om aaneenlopend foto’s te neem, so daar was ’n hele reeks foto’s, want anders het niemand hulle seker geglo nie.

Toperczer het Saterdag gesê hy het gedink hy sien dolfyne uit die dieptes kom. “Ek het binne 1,8 sekondes vyftien foto’s geskiet. Al wat ek gesien het, is dat daar baie water spat en iets groot en donker.”

Dit was duidelik nie ’n dolfyn nie en almal het begin skree. Silke het die boot nader gestuur om die snorkelduikers op te tel. Almal was geskok en het probeer uitpluis wat gebeur het.

Maar dit was eers toe hulle weer veilig aan land was dat hulle besef het Schimpf was amper walviskos. Hulle monde het oopgehang toe hulle die foto’s sien.

Toperczer sê Schimpf het vir hom gesê hy het net drukking op sy heup gevoel. “Ons was so bly dat niks erger gebeur het nie. Die walvis kon dieper in die water ingeduik het,” sê Toperczer.

“Nie eens die kamera, wat Rainer in sy hande gehou het, is beskadig nie. En dit was heeltemal in die walvis se bek,” sê hy.

Schimpf was na dié insident so vol adrenalien dat hy weer die water in is – om na haaie te soek.

Meer oor:  Rainer Schimpf  |  Port Elizabeth  |  Noue Ontkoming  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.