Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wapen-amnestie ‘het nie dié vuurwapens in die oog’

Die beoogde amnestie waarmee die polisie onwettige vuurwapens uit die samelewing wil verwyder, sal nie die sowat 450 000 vuurwapeneienaars landwyd teiken wie se lisensies ingevolge nuwe vuurwapenwette nog nie hernu is nie.

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie. Foto: Parlement

Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het dié versekering Woensdag in die parlement gegee toe hy en die polisie se topbestuur goedkeuring vir ’n amnestie-periode van ses maande van die portefeuljekomitee oor polisie versoek het.

DA- en VF Plus-LP’s het erg kapsie gemaak en aangevoer dat die polisie met die amnestie eerder “eerlike, wetsgehoorsame” landsburgers in ’n “gevaarlike Suid-Afrika” as misdadigers wil ontwapen.

Dít nadat meesal wettige vuurwapens in die twee vorige vuurwapen-amnestie-periodes in 2005 en 2010 ingedien is.

Genl.maj. Maropeng Mamotheti, hoof van die polisie se sentrale vuurwapenregister, het Woensdag aan die komitee gesê dat die polisie slaggereed vir die jongste amnestie-periode is.

Sy het dit duidelik gemaak dat strenger veiligheidsmaatreëls ook getref is om te voorkom dat geen ingediende vuurwapens soos voorheen in polisiekantore gesteel of beskadig sal word of selfs verdwyn nie. Elke provinsie sal een spesifieke stoorplek vir ingediende vuurwapens hê.

Die amnestie is aanvanklik van 1 Oktober vanjaar tot Maart volgende jaar beplan, maar kon om verskeie redes nog nie begin nie.

Mamotheti het bygevoeg dit is in belang van die publiek dat onwettige of oortollige vuurwapens uit die samelewing verwyder word omdat die misdaadstatistieke toon dat dit in 80% van alle misdade, veral geweldsmisdade, gebruik word.

Ockert Terblanche, DA-LP, het egter gesê die polisie is nie “naby aan gereed vir hierdie amnestie nie”.

Volgens hom ondersteun sy party enigiets wat misdaad in Suid-Afrika sal laat afneem. Hy meen daar heers egter nog te veel verwarring oor die voortslepende hofgeding oor die hernuwing van die 450 000 vuurwapenlisensie. “Dit moet eers opgelos word voordat ’n amnestie verklaar word.”

Hy meen dit is die polisie se fout dat daar so baie onwettige vuurwapens is. “Die polisie moet eers sy eie huis in orde kry.”

Terblanche het bygevoeg dat die polisie eerlik met die publiek moet wees. “Suid-Afrika is ’n baie gevaarlike plek. Nou wil ons onskuldige mense ontwapen wat vrees dat hulle aangekla gaan word as hulle nie hul vuurwapens indien nie. Ons moet verseker dat ons eerlike mense help om in staat te wees om hulself in hierdie gevaarlike land te verdedig.”

Dit is nie waar dat dit die 450 000 vuurwapens teiken waarvan die lisensies nie hernu is nie.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het gesê die polisie het nie beheer oor vuurwapens in Suid-Afrika nie.

“Daar is groot kommer by die publiek oor die wyse waarop die polisie vuurwapens hanteer. En ons praat hier van meer as 400 000 vuurwapens.”

Mathale het verder gesê die doel van die amnestie is om onwettige vuurwapens te verminder.

“Dit is nie waar dat dit die 450 000 vuurwapens teiken waarvan die lisensies nie hernu is nie.

“Die indruk word geskep dat sodra die amnestie verby is, sal ons die 450 000 teiken. Dit is nie so nie.”

Volgens hom het mense in hierdie kategorie egter ook die reg om hul vuurwapens gedurende die amnestietyd in te dien.

Hy het bygevoeg dat die 450 000 vuurwapeneienaars se lot bepaal sal word as die hofproses daaroor afgehandel is.

Die datum waarop die amnestie sal begin, is Woensdag voorlopig deur die komitee as 1 Desember goedgekeur totdat dit wetlik bevestig word.

Meer oor:  Parlement  |  Polisie  |  Pieter Groenewald  |  Vuurwapens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.