Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Wapenwet: Wêreldwye ideologie speel rol, meen kenner

’n Kenner meen die ideologie van ontwapening “speel waarskynlik ’n rol” in die beoogde wysings aan Suid-Afrika se Vuurwapenwet.

Adv. Christo de Koker, ’n Potchefstroomse regsgeleerde wat onder meer in vuurwapenregte spesialiseer, meen ook dat verdraaide statistieke oor skietvoorvalle in Amerika dikwels in Suid-Afrika gebruik om ontwapening te regverdig.

Sedert die beoogde wysigings Vrydag in die Staatskoerant vir kommentaar gepubliseer is, het meer as 17 000 Suid-Afrikaners reeds voorleggings gemaak.

Volgens Bheki Cele, minister van polisie, stroom die kommentaar steeds in.

Cele sê in ’n verklaring die wysigings is nie ligtelik gedoen nie en dat baie navorsing gedoen en belanghebbendes geraadpleeg is.

Die wysigingswetsontwerp moenie gesien word as ’n manier om burgers te ontwapen nie, sê hy.

De Koker sê die ideologie van ontwapening bedreig vuurwapeneienaarskap wêreldwyd. Dit is waarskynlik dat dit wel ’n groot rol in die beoogde wysings gespeel het.

In Nieu-Seeland het ’n enkele massaskietvoorval deur ’n buitelander daartoe gelei dat Nieu-Seelanders sekere van hul wapenregte verloor het.

Ontwapening in Suid-Afrika word ook dikwels deur die verdraaide statistieke oor skietvoorvalle in die VSA regverdig, terwyl meer mense hier met skerp voorwerpe – van skroewedraaiers tot tuisgemaakte dolke en messe – as met vuurwapens vermoor word.

Volgens Gun Free South Africa (GFSA) se eie statistieke word minder as 20 uit die 58 mense, wat daagliks vermoor word, doodgeskiet.

GFSA sê drie miljoen mense in Suid-Afrika besit vuurwapens vir selfverdediging. Dit is dié mense wat nou hul regte sal moet prysgee of misdadigers gaan word.

De Koker sê die feit dat vuurwapenregte nie deur die Grondwet erken word nie, kan ’n groot bedreiging vir vuurwapeneienaars in Suid-Afrika inhou.

Die konstitusionele hof het in 2018 in ’n hofuitspraak gesê vuurwapeneienaarskap is nie ’n grondwetlike reg nie, maar ’n voorreg wat deur die wet beheer word.

Hy sal wil sien dat die konstitusionele hof vuurwapeneienaarskap erken, maar dat individue om sekere redes soos misdadige optrede onbevoeg verklaar word om ’n vuurwapen te besit. Hy meen net ’n hof moet iemand van so ’n reg kan ontneem.

De Koker sê regslui bestudeer tans die wetsontwerp en dat van die wysigings beslis met die gemene reg en Romeins-Hollandse reg se beginsels bots.

Volgens hom speel die chaos waarin die sentrale vuurwapenregister gedompel is, moontlik ook ’n rol in die wetsontwerp.

Cele wil dalk op die manier ontslae raak van ’n reuseprobleem wat deur swak bestuur en administrasie geskep is.

De Koker sê die hele register kon al lankal gedigitaliseer gewees het en is al jare ’n gemors.

Cele het Suid-Afrikaners aangemoedig om van die kommentaarproses gebruik te maak om die Vuurwapenwet te help vorm.


Meer oor:  Vuurwapenwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.