Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Warden: Inbrekers teiken winkel sewe keer

In sy Vrystaatse tuisdorp steek die rondaweldakkies van Mosebenzi Zwane se ligroos “mini-’Kandla” net-net oor die sesvoetmuur uit, terwyl die res van Warden volgens sy mede-inwoners onder beleg is.

Die pad voor Mosebenzi Zwane se “Mini-’Kandla.” Foto: Deon Raath

Swak munisipale dienslewering en ’n afwesige polisiediens” is die hoekstene van inwoners se ongelukkigheid. “Hier by ons doen hulle catch and release-polisiëring,” sê ’n sakevrou wat anoniem wou bly. “Hulle vang mense, maar jy kry nooit ’n saaknommer nie en as jy weer hoor, is die saak afgehandel, maar niemand is tronk toe nie.”

Sakeondernemings loop die afgelope dekade onder nagtelike inbrake deur. “Amper almal in ons hoofstraat het al deurgeloop. Hulle breek snags deur die dak in, anders deur ’n hek en in een geval selfs deur ’n muur.”

Verlede week was dit die plaaslike Pep-winkel se beurt.

“Van my personeel het gehoor hoe grind die inbrekers op Pep en die polisie gebel. Toe hulle uiteindelik opdaag, was die rowers weg,” sê die sakevrou.

Gerhard Muller het ’n drankwinkel in Warden gehad. Ná sewe inbrake moes hy dit verkoop.

Joshua Ndladla, die assistentbestuurder by Pep, vertel: “Die mense het deur ons dak ingebreek. Hulle het agt selfone gesteel en ons kluis oopgebreek. Ons dink hulle het die polisie hoor aankom en toe gevlug, want hulle het ’n bietjie kontant in die kluis gelos.”

Hy sê dit was nie die eerste keer nie. “Daar was in die laaste drie of vier jaar seker vier inbrake. Ek weet nie van iemand wat al in hegtenis geneem is nie.”

Gerhard Muller het ’n drankwinkel gehad, maar verkoop nou vars plaasprodukte. “Ek het sewe inbrake gehad – soms deur die dak, soms deur die hek en die laaste keer sommer deur die muur.”

Hy het sy winkel in Junie verlede jaar verkoop. “Ek kon nie meer nie. Jy word leeggedra en moet elke keer van voor af begin.”

Volgens die sakevrou veg die polisie teen ’n oormag. “Daar is net twee polisielede op skof meeste aande. Een sluit homself binne die polisiekantoor toe terwyl die ander een met die polisievoertuig rondry. Die misdadigers bel die polisie en sê daar was ’n ongeluk op die snelweg, dan moet die buite-polisieman gaan kyk en terwyl hy weg is, het hulle die vryheid van die dorp.”

Mosebenzi Zwane

Rapport se verslagspan het Woensdagaand 22:00 by die polisiekantoor gaan aanklop. Die hek buite was gegrendel, maar nie gesluit nie. ’n Kantoorstoel se rugkant was binne onder die deurknop ingedruk. Binne minute het die enkele polisielid verskyn, die stoel verwyder en die deur oopgemaak.

Hy het Rapport na die polisie se provinsiale woordvoerder verwys. Brig. Sam Makhele, Vrystaatse woordvoerder, het die bewerings ontken. “As jy opgelet het, sou jy aan die nasionale misdaadstatistieke gesien het die inbrake by sakeondernemings is ’n nasionale patroon.” Hy ontken dat inwoners nie saaknommers kry nie. “As ’n saak geregistreer is, word ’n saaknommer outomaties gegenereer.” Ook die bewerings van “slegs twee lede op skof” is volgens hom onwaar. Makhele sê geen polisiekantoor se deur kan gesluit word nie.

Zwane het die afgelope week weer voor die Zondo-kommissie verskyn oor ’n R140 miljard-behuisingsprojek in die Vrystaat toe hy die LUR vir menslike nedersettings was. Die kommissie het vroeër gehoor honderde miljoene rand is aan kontrakteurs gegee sonder dat die regte tenderprosesse gevolg en huise gebou is. Zwane het die skuld op amptenare in die departement gepak.

Oor sy huis het hy aan Rapport gesê dis “rassisties” van inwoners om daarna as “mini-’Kandla” te verwys. “As ’n Van der Merwe ’n huis bou, sê niemand niks nie, maar dit is ’n swart man se huis. Om dit met Nkandla te vergelyk is rassisties. Dit het tien jaar gevat om my huis met my eie geld te bou en dit het tien jaar se vrae van die media veroorsaak. Ek droom van ’n land waar ons nie op grond van velkleur na mekaar kyk nie en wanneer my regte in my geboorteland gerespekteer sal word.”

Warden se meestal amper teerlose strate is gehawend, maar die straat voor Zwane se huis is al een met nuwe randstene en geen slaggate nie. Daaroor het Nomvula Malatjie, munisipale bestuurder van die Phumelela-munisipaliteit, gesê: “Dis is een van die hoofpaaie wat die dorp met die N3 verbind. Die hele straat maak deel van Warden se ingang uit en bevat ook die erfeniskerk en sy geskiedenis.”

Meer oor:  Mosebenzi Zwane  |  Warden  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.