Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ware Mense’ het ’n lang geskiedenis
Bart De Graaff (links), skrywer van Ware mense, en Daniël Hugo, wat die boek uit die oorspronklike Nederlands vertaal het, Donderdag by Aardklop se ATKV Boeke-oase. Foto: Susan Cilliers

Die Nederlandse skrywer Bart de Graaff moes vindingryk te werk gaan in die twee jaar dat hy onderhoude met onder meer die Namas en Griekwas gedoen het om hul geskiedenis na te vors.

“Dit sou oneties wees om hulle te betaal, ek het dus ’n ruiltransaksie met hulle aangegaan: Ek sou vir hulle inligting gee oor hul voorsate se geskiedenis uit navorsing wat ek gedoen het in boeke van reisigers van die 1800’s. Dan sou hulle weer vir my vertel wat hulle van hul geskiedenis weet.”

Die resultaat is die boek Ware Mense, die Afrikaanse vertaling van die oorspronklike Nederlands, Ik, Yzerbek. Daniël Hugo het die boek in Afrikaans vertaal en Tafelberg gee dit uit.

Hugo, De Graaff en prof. Hans du Plessis, akademikus en skrywer, het die boek Donderdagmiddag by Aardklop se ATKV Boeke-oase in Potchefstroom bespreek.

De Graaff het vertel hoe hy Suid-Afrika en Namibië deurkruis het op soek na afstammelinge van die Khoi-Khoin. Dit beteken letterlik Mens-Mense, daarom die Afrikaanse titel Ware Mense. De Graaff, ’n historikus met ’n doktorsgraad in apartheid, het met onder meer die hedendaagse Griekwas, Namas en Koranas onderhoude gevoer oor hul geskiedenis en huidige situasie. “Daar is ’n stukkie kultuur, politiek en reis in die boek,” het dié skrywer wat al tevore boeke oor Suid-Afrika geskryf het, Donderdag vertel.

Ware Mense, die Afrikaanse vertaling van Ik, Yzerbek.

Die Nederlandse titel van die boek, Ik, Yzerbek, verwys na Goliat Yzerbek wie se grond naby Rietfontein deur sendelinge afgeneem is. “Hierdie mense het Afrikaans gepraat. Ek kon afstammelinge van die sewende generasie van Yzerbek vind. Hul van is nou Beck, nadat die owerhede die oorspronklike van verander het.”

De Graaff sê dit was ook moeilik om afstammelinge te vind van voorsate soos Frederik Vlermuis wie se geskiedenis met dié van die Dorslandtrekkers verweef is.

Nóg ’n interessante verhaal, wat in Ware Mense geboekstaaf is, is dié van die Nama kapt. Jozef Frederik wat in die 1800’s ’n stuk kuslyn langs die Atlantiese Oseaan aan die Duitser Adolf Lüderitz verkoop het. Die Namas was onder ’n wanindruk oor presies hoeveel myl hulle aan Lüderitz verkoop het en het baie meer verkoop as wat hulle aanvanklik gedink het.

“Hulle het nooit daardie grond van die Duitsers, Boere of die Swapo-regering teruggekry nie,” sê de Graaff. “Hulle sê dit voel vir hulle of hulle nou onder hul derde koloniale regering staan.”

De Graaff sê dis vir hom baie bevredigend om navorsing te doen oor die geskiedenis van ’n gemeenskap wat dit nog nie self gedoen het nie.

“Die term kleurling is vir hierdie mense onaanvaarbaar omdat hulle sê dit beteken hulle is iets van niks nie. Hulle voel ook swart mense se grondeise kry voorkeur bo hulle s’n, terwyl hul voorsate eintlik die eerste inwoners (van Suider-Afrika) was.”

Volgens prof. Du Plessis is onder meer die Namas, Griekwas, Basters en Koranas almal geneties en taalkundig verwant aan hul gemeenskaplike oervoorsate van sowat 1500 jaar gelede, die Khoi. Vandag is hul genetika ook vermeng met dié van Europeërs wat die afgelope sowat 400 jaar na Afrika gekom het.

Meer oor:  Skrywer  |  Boeke  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.