Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Wat gaan jy sê as God vra oor Coligny?’

’n Predikantsvrou van Coligny vaar in ’n brief uit teen die “bose” vroue op die dorp wat haar man “beskinder en belaster” nadat ’n kollega rassistiese en vulgêre stemboodskappe van sy selfoon gestuur het.

Ds. Tewie Pieters. Foto: Elizabeth Sejake

Ds. Tewie Pieters het dié brief van sy vrou, Alicia, aan die kerkraad voorgelees waarin sy ook opkom vir Salome Hayes, wat die gewraakte boodskappe gestuur het.

Die herrie het einde verlede maand begin toe Hayes se boodskappe aan Elizabeth Price van Coligny ook op die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se WhatsApp-groep beland het. Hayes sê onder meer: “En gaan skreeu op ’n k****r in die straat want Tewie is beslis nie jou k****r op wie jy kan skreeu nie, hoor”. Sy sê ook: “Hou my naam uit jou p**sbek uit en sê dit maar vir jou f****n vriendinne ook. As ek jy is hou ek eerder my bek en hou op om jou bek te rek oor my.”

Hayes erken sy het die stemboodskappe gestuur. Volgens haar het sy ’n emosionele uitbars­ting gehad omdat Price beweer sy en die dominee het ’n seksuele verhouding.

Alicia het haar man gevra om haar brief aan die voorloper te gee wat hulle “beskinder en belaster” met die gedagte dat die ander vroue wat glo hierby betrokke is dit ook lees. Pieters het dit nog nie vir haar gegee nie, maar dit Donderdagaand vir die kerkraad voorgelees toe hy moes pa staan vir die gewraakte stemboodskappe.

Salome Hayes. Foto: Elizabeth Sejake

“Ek het dit vir die kerkraad voorgelees om perspektief te gee oor die saak. Ek het dit vir die kerkraad voorgelees sodat die gemeenskap kan sien waarmee hulle besig is.” Sy vrou skryf onder meer dat die vroue vir Hayes moet bid “wat deur die dorp vernietig word”. “Sy het al swaarder gekry as almal van julle se swaarkry saam,” lui die brief.

Alicia trek te velde teen “die­gene” wat haar man volgens haar beskinder en belaster.

Sy skryf: “Kruisig my man, beskinder en belaster hom, vergruis hom, bedank hom, help hom, bid vir hom. Jou keuse. Maak sy naam in die media dié van plus of van minus.

“Wat gaan jy antwoord die dag as God vir jou vra: Wat het jy met Tewie en Coligny en jou naaste gedoen? Hy gaan jou vra!

“Christus se woorde aan die kruis was: Vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Mag julle deur julle werk nooit hierdie woorde oor julle laat spreek nie.”

Sy skryf verder: “Ek omring elke dag my plek met ’n engeleskaar. Hulle dra ons, beveilig ons. En weer die bose in die vorm van mense van my en my man af.”

Sommige inwoners meen Pieters moet hom van Hayes distansieer, maar hy meen hy word geteiken. “Mense voer ’n aksie teen my. Hoeveel klappe moet ek nog vat?” Volgens hom steun al 13 kerkraadslede hom.

Pieters is in 2018 geprys vir sy versoenende rol om wit en swart gemeenskappe bymekaar te bring nadat Coligny in April 2017 weens ’n rassevoorval deur verwoestende onrus getref is. “Ek is die een dominee wat ’n storie het om te vertel van iemand wat ’n verskil probeer maak in ’n stukkende wêreld. Dit is ’n gegewe dat jy nie gespaar sal wees nie. Mense het al voor my huis vir my geskreeu dat ek ’n k-boetie is vir die werk wat ek doen.”

Pieters sê die polisie se plaaslike stasiebevelvoerder het as tussenganger opgetree om die vrede tussen hom, Hayes en Price te probeer herstel. Sowel Hayes as Price het tussentydse beskermingsbevele teen mekaar gekry wat hulle verbied om mekaar te dreig, teister of belaster. Price het ook ’n tussentydse beskermingsbevel teen Pieters verkry.

Pieters sê Price het met die stasiebevelvoerder ooreengekom om die beskermingsbevel te laat vaar nadat hy vir haar ’n werk by ’n kollege aangebied het “om te wys ek het geen kwade gevoelens teen haar nie”.

Pieters en Hayes was vroeër saam met Price en haar oorlede man, Brian, betrokke by die oprigting van ’n kollege om arm swart mense op te lei. Verhoudinge het versuur nadat Price se man weens Covid-19 dood is.

Price sê Pieters en Hayes het haar ná haar man se dood “uitgewerk”. Sy ontken dat sy gesê het sy sal die beskermingsbevel laat vaar. “Dit maak my só kwaad. Die bevelvoerder het my gebel om te sê Tewie wil vrede maak en jammer sê en dat hulle my nooit uit die kollege uitgewerk het nie. Ek het vir die bevelvoerder gesê as Tewie wil jammer sê en my wil terughê by die kollege, moet hy dit op skrif sit.”

Meer oor:  Salome Hayes  |  Tewie Pieters  |  Predikant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.