Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Waterdood: Seun het as held gesterf, sê pa
Derrick Kleynhans het Sondag die lewe van sy lewensmaat Lisa le Roux gered toe hulle saam in hul motor in ’n fratsvloed buite Hartbeespoort in Noordwes vasgekeer was.

Sy middelkind, die grapgat met die goeie hart, was ook ’n held.

Só het Evert Kleynhans oor sy 30-jarige seun, Derrick, gesê wat Sondag verdrink het nadat hy sy lewensmaat gehelp het om uit hul motor in die vloedwater te ontsnap.

Derrick en Lisa le Roux, wat 14 jaar saam was, het hul sewejarige dogtertjie en een van haar oumas vroeër op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Kempton Park gaan afsien.

Evert het gesê Derrick wou Le Roux op haar familieplaas in die Saartjiesnek-omgewing gaan aflaai.

Derrick het tydelik by sy ouers in Rustenburg gewoon terwyl hy sy ambag as masjienmonteur voltooi het. Hy sou in Januarie klaargemaak het, het Evert gesê.

Die paartjie het Sondag omstreeks 18:00 probeer om ’n laagwaterbrug naby Estate DÁfrique, suid van die Hartbeespoortdam, oor te steek.

“Soos ek van Lisa verstaan, het ’n fratsvloed hulle getref net toe hulle op die brug was,” het Evert gesê.

Le Roux was so getraumatiseerd ná die voorval dat sy kalmeermiddels toegedien is.

Die oomblik toe Derrick glo besef het dat hulle in die moeilikheid is, het hy die ruit aan die bestuurder se kant vir Le Roux, wat agter die stuur was, gebreek. Sy is dadelik meegesleur nadat sy uitgeklouter het.

“Buiten vir die water, was sy boonop in digte bosse en sy het gesukkel om vastrapplek te kry,” het Evert gesê.

Terwyl sy gespartel het om staande te bly het die water die motor – nog met Derrick binne-in – meegesleur.

“Die water was só sterk dat die kar op sy dak gekeer is,” het Evert gesê.

Le Roux het gaan hulp soek by John Heinrich wat daar naby woon. Heinrich het vroeër aan Netwerk24 gesê sy was baie ontsteld toe sy by sy huis opgedaag het.

Volgens Evert het die nooddienswerkers Derrick en die motor sowat 300 m van die brug af gekry.

“Die motor was amper heeltemal onder die water en die mense het gesukkel om dit te vind,” het Evert gesê.

Derrick se lyk is in die motor gevind.

Sy gesin sukkel om sy dood verwerk.

“Hy het altyd die lekkerste grappe vertel . . . hy was gewild by sy vriende, en sou homself benadeel om iemand in nood te help,” het ’n hartseer Evert gesê.

“En nou, deur vir Lisa te red, was hy ook ’n held.”

Meer oor:  Hartbeespoortdam  |  Fratsvloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.