Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Waterfront bekyk voorval waar Phumzile 'vuisslaan'
Phumzile van Damme, DA-LP.Foto: Jaco Marais

Die V&A Waterfront in Kaapstad ondersoek ’n voorval waar Phumzile van Damme, DA-LP, Dinsdag getwiet het dat sy in ’n onderonsie met ’n gesin was en uit “selfverdediging” ’n jong man met die vuis geslaan het.

Van Damme het om 13:20 ’n video getwiet waar sy ná die voorval met ’n bestuurder van die Waterfront praat en daarop aandring dat “mense soos dié nie toegelaat mag word nie”.

Sy het ook ’n foto van die gesin getwiet, waarby sy geskryf het dat ’n vrou haar afgeneem het. Iemand in ’n swart hemp het ook glo in haar gesig “voertsek” gesê en haar selfoon glo op die grond gesmyt.

“Hy het my met geweld gedreig. Ek het hom uit selfverdediging met die vuis teen die kop geslaan,” het sy die middag getwiet.

Donald Kau, woordvoerder van die Waterfront, het bevestig die bestuur neem kennis van Van Damme se twiets en hulle tree met haar en die veiligheidsbestuurder in gesprek om ’n “volle weergawe van die gebeure” te kry. Videomateriaal van die voorval word ook hersien.

“Ons verdra geen rassistiese dade by die V&A Waterfront nie, waar duisende mense van oor die land en wêreld heen die geriewe kom besoek en geniet. Ons sal enigiemand wat rassistiese gedrag op die perseel toon, onmiddellik verbied.”

Van Damme het om 14:00 ook in ’n twiet gevra dat die media ophou om haar te bel en dat sy “alleen gelaat word”.

“Verstaan julle hoe iemand ná so iets voel. Hoe dink julle voel ek? Oefen ’n bietjie sensitiwiteit uit, ek is nie hier om klieks op jou webwerf te gee nie.”

Dit blyk dat sy in ’n voorval met ’n vrou in ’n ry betrokke was en geëis het dat sy om verskoning vra, voordat ’n bestuurder opgedaag het.

In die video waar Van Damme met die bestuurder praat, sê sy dat sy nie in die vrou se pad was nie. Toe Van Damme uitloop, het “sy op ’n dreigende manier met haar familie gestaan”.

“Ek het na haar gegaan en gesê hoekom kyk sy dreigend na my. Toe sê sy ‘dis omdat jy swart is’. Toe het haar seun gekom en ‘voertsek’ in my gesig gesê. Ek het gevra wat gee hom die reg om dit te sê. Hy het gesê dit is omdat ek swart is, en jy, as ’n bestuurder van die Waterfront, het hulle laat gaan.”

Die bestuurder sê aan Van Damme dat hy redelik met haar probeer wees, waarop sy antwoord: “Nee, jy is nie redelik nie. Ek het vir jou gesê mense soos dié word nie in die V&A Waterfront toegelaat nie.”

Van Damme het ook getwiet dat die Waterfront dié gesin moet verbied “om te wys dat julle ernstig is”.

“Wanneer julle die kans gegee word, sê julle nie vir mense dat rassisme nie in jul winkelsentrum geduld word nie.”

Sy het getwiet dat indien “rassisme en rassiste” by die Waterfront toegelaat word, moet “dit vir almal aangekondig word”.

Sy het gesê sy sal niemand se rassisme teenoor haar duld nie.

Van Damme het laatmiddag aan Netwerk24 bevestig dat sy die inskrywings op Twitter gedoen het en gevra dat die media haar uitlos om ’n “pynlike ervaring te verwerk”.

“Ek het met die Waterfront gepraat en sal Woensdag gereed wees om te praat.”

Meer oor:  Phumzile Van Damme  |  Waterfront  |  Bakleiery  |  Gesin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.