SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Watersuiwering oorweeg vir Oudtshoorn

Die Oudtshoorn-munisipaliteit sê die moontlikheid van ’n watersuiweringsaanleg word ondersoek weens drinkwater wat steeds troebel is ná onlangse reën.

Die Raubenheimerdam.Foto: Jackie Kruger

Volgens die munisipaliteit het die hoë intensiteit van die onlangse reën (75 mm in minder as twee dae) tot gevolg gehad dat modderige water by die Raubenheimerdam ingevloei en die water vertroebel het.

Die munisipaliteit sê in ’n verklaring volgens nasionale riglyne vir watergehalte is die aanbevole troebelheid minder as 1 NTu (die eenheid waarin troebelheid gemeet word).

Onder normale omstandighede wissel die troebelheid van Oudtshoorn se water van 0,5 tot 3 NTu, wat as aanvaarbaar beskou word. Direk ná die onlangse reën was die troebelheid 40 NTu, maar dit het intussen tot 30 NTu gedaal.

Volgens die munisipaliteit blyk die troebelheid af te neem en behoort die situasie binne ’n paar weke weer normaal te wees.

Die munisipaliteit sê die toename in troebelheid hou geen direkte gevaar in nie, maar kan wel die effektiwiteit van die chlorinering beïnvloed. Die water se gehalte word gereeld getoets. Toetse net ná die reën het bevestig dat daar geen tekens van E.coli in die water is nie. Die munisipaliteit raai mense nietemin aan om drinkwater te kook totdat die water se gehalte na normaal terugkeer.

Daar is geen wateraanleg by die Raubenheimerdam vir die suiwering van drinkwater nie. Die enigste behandeling wat tans gedoen word, is die ontsmetting van die water deur chlorinering met chloorgas. Vanweë die hoë gehalte van die rou water is dit die meeste van die tyd aanvaarbaar, volgens die munisipaliteit. Ná swaar reënstorms vertroebel die water egter soms. Die troebel water kan ’n paar weke lank voorkom.

Die enigste manier om die troebelheid uit die water te haal is deur filtrasie, sê die munisipaliteit. Die moontlikheid om ’n watersuiweringsaanleg te bou is al verskeie kere deur die munisipaliteit ondersoek. Met die laaste ondersoek in 2014 is bevind dat ’n aanleg teen ’n koste van sowat R100 miljoen benodig word. Die opsie en moontlike finansiering daarvan word tans weer ondersoek.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Wateraanleg  |  Watersuiwering  |  Reën  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.