Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Watson-familie verlig verslag dui nie op selfdood

Bronne na aan die Watson-familie sê hulle is verlig dat selfdood uitgeskakel is as ’n moontlike oorsaak van Gavin Watson se dood.

Volgens ’n voorlopige forensiese verslag was dié voormalige omstrede baas van Bosasa reeds dood voordat sy voertuig teen ’n pilaar gebots het.

Gavin Watson van Bosasa het in Augustus in dié Toyota Corolla by die O.R. Tambo lughawe verongeluk.Foto: Verskaf

Die Toyota Corolla wat Watson bestuur het, het op 26 Augustus in ’n betonpilaar van ’n oorhoofse brug by die O.R. Tambo-lughawe se ingang vasgejaag.

Kort ná die ongeluk het Watson se familie ’n forensiese ingenieur, wat in padongeluk-ondersoeke spesialiseer, asook ’n private patoloog aangestel om dieper te delf in hul soeke na antwoorde.

’n Familiebron, wat nie geïdentifiseer wou word nie, sê die ondersoek het nuwe vrae na vore gebring.

Dit volg nadat die Sunday World Sondag berig het oor sekere aspekte van die verslag.

Die bron het bevestig die inhoud van die artikel is korrek.

“Ons familie glo nie in selfdood nie en het geweet dit is nie ’n moontlikheid nie, maar is steeds verlig dat die verslag dit bevestig het,” het die bron Maandag aan Netwerk24 gesê.

Die bron het klem daarop gelê dat die verslag nog gefinaliseer moet word.

Gavin WatsonFoto: Verskaf

Volgens die verslag is daar “geen tekens van noemenswaardige trauma” op Watson se lyk gevind nie, ondanks die impak toe die motor die pilaar getref het.

Data van die motor, vasgevang op die ritopnemer in die laaste vyf sekondes vóór die ongeluk, het ’n snelheid van tussen 80 km/h en 100 km/h aangedui.

“Die motor het ’n konstante snelheid gehandhaaf en nie versnel soos sekere ooggetuies beweer nie,” het die bron Maandag gesê.

Die familie vermoed egter steeds gemene spel weens verskeie teenstrydige bevindinge in die voorlopige verslag.

Watson het weinig beserings aan sy gesig gehad en ook betreklik min kneusplekke aan die res van sy liggaam. Op die ongelukstoneel was daar ook minder bloed as wat verwag is.

Volgens die verslag het Watson ’n diep wond aan sy nek gehad en was sy aorta afgesny. Dié beserings kan vermoedelik weens die impak van die ongeluk wees.

Gegewe die spoed waarmee die lugsak uitgekom het en hoe skielik die voertuig tot stilstand gekom het, kan die spanning op die liggaam, selfs teen ’n laer snelheid, veroorsaak dat die aorta afgesny word.

Die wond aan die nek kan ook weens ’n veiligheidsgordel wees, sou Watson een gedra het, wat luidens berigte nie die geval was nie.

So ’n wond sou baie gebloei het veral in die lig daarvan dat Watson bloedverdunners gebruik het. Die klein hoeveelhede bloed wat op die ongelukstoneel en ook later in Watson se borsholte gekry is, dui daarop dat hy reeds dood moes wees.

Volgens die bron is dit ’n moontlikheid of andersins dat sy hart vóór die impak nie meer geklop het nie.

“Tot dusver kon ons nog nie vasstel op presies watter medikasie hy was nie. ’n Volledige toksikologiese verslag moet nog afgehandel word.”

Die familie probeer ook nog vasstel waarom Watson die dag van die ongeluk naby die lughawe was. Die vermoede is dat Watson dalk iemand vir ’n vergadering kon ontmoet het, maar niemand het nog na vore gekom om dié inligting te bevestig nie.

* Gavin Watson, grootbaas van Bosasa, deesdae African Global Operations, is dood ’n dag voordat hy in ’n ondersoek van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) oor Bosasa se geldsake moes getuig.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa wat al voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig het, het ook in die SAID se ondersoek getuig. Volgens sy getuienis het Watson ’n trustrekening in Guernsey, ’n eiland in die Engelse kanaal, oopgemaak en altesaam R500 miljoen daarin betaal.

Die Watson-familie het gesê dié getuienis is snert.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.