Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Watson leef na aan God, hoor rouklaers

Gavin Watson, omstrede grootbaas van Bosasa, was ’n man wat na aan God geleef het, blyk uit huldeblyke wat Vrydag op sy gedenkdiens gelewer is.

Bosasa, deesdae African Global Operations, het oor die jare na bewering miljoene rande se omkoopgeld aan regeringsamptenare in ruil vir kontrakte van die regering betaal.

Watson het God die middelpunt van dié maatskappy gemaak, het Papa Leshabane, jarelange vriend en werknemer, op die diens by die Little Falls Christian Centre in Roodepoort gesê.

Nomvula Mokonyane, voormalige minister van omgewingsake, lewer haar huldeblyk aan Gavin Watson. Foto: Felix Dlangamandla

By Bosasa se hoofkantoor in Krugersdorp, onder Watson se bestuur, sou werkers elke werkdag bymekaarkom om te bid. Plaatjies met Bybelverse is oral op die perseel aangebring.

Die polisie ondersoek nog die omstandighede rondom die dood van Watson, wat Maandag by die O.R Tambo-lughawe verongeluk het.

Hy was ’n kranige sportman wat glo daagliks vroeg opgestaan het om lang tye te bid, selfs al was hy met vakansie.

“Hy sou omtrent elke oproep afsluit met gebed, selfs al sou ’n mens in die winkel besig met inkopies wees. Die afgelope tyd was baie erg vir ons gesin, maar dat ons ondersteuning van regoor die wêreld kry, wys hoe baie lewens hy aangeraak het. Hy was baie lief vir die Here,” het sy seun, Roth, in sy huldeblyk gesê.

Volgens hom is daar die afgelope ruk ’n aanval deur onder meer die media op sy pa geloods.

“Dit is nie net ’n aanval op Bosasa nie, maar ’n aanval op die Christelike geloof,” het hy gesê.

Linda Mti, voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, by Gavin Watson se gedenkdiens. Foto: Felix Dlangmandla

Baie mense het getuig Watson was ’n barmhartige mens wat ruim geskenk het aan welsynsorganisasies. In Orange Farm, ’n township in Gauteng, het hy meer as 30 kleuterskole geldelik ondersteun.

Volgens sy broer Valence het die familie destyds ’n groot opoffering in die stryd teen apartheid gemaak.

Gavin het saam met sy broers Cheeky, Ronnie en Valence in ’n toegewyde Christelike huishouding in die Oos-Kaap grootgeword. Sy pa was ’n boer en leke-predikant.

Die familie het destyds bande met verskeie vryheidsvegters opgebou.

“Liefde was die middelpunt van ons heelal. Op skool het ons agtergekom dat ons familie anders as ander mense was. Ons het nog altyd rassisme verafsku,” het Valence in sy huldeblyk gesê.

Volgens hom het die familie se Christelike oortuigings onder apartheid veroorsaak dat baie mense teen die Watson-familie gekant was. Ná apartheid het dit nie verander nie, volgens Valence.

Minstens twee politici wat betrek word by die beweerde ongerymdhede by Bosasa, Nomvula Mokonyane, voormalige minister van omgewingsake, en Linda Mti, voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, het die diens bygewoon.

Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, was nie by die diens nie.

Mokonyane het ’n huldeblyk gelewer, en onder meer gesê die Watson-familie sal nes Jesus Christus vervolg word, want hulle het geglo in ’n regverdige samelewing.

Sy is deur Bosasa-werknemers die “Energizer Bunny” gedoop. Sy het die beweringe dat sy geld van Bosasa ontvang het, ten sterkste ontken.

Sy het in haar huldeblyk belowe om kort voor lank haar weergawe van die gebeure oor die kwessie te vertel.

“Mag die engele jou verwelkom. Mag jou ouers jou aankoms in die Hemel inwag. Goeie nag, Gavin. Onthou om almal lief te hê en niemand te vertrou nie,” het sy gesê.

Watson se begrafnis sal na verwagting volgende week in Port Elizabeth plaasvind, waar ’n groot deel van sy familie woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.