Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weduwee hooferfgenaam in ‘nuwe testament’ van wynboer
Zurenah Smit, Stefan Smit se weduweeFoto: Jaco Marais

’n Tweede testament van Stefan Smit (62), die vermoorde Stellenbosse wynboer, wat wesenlik verskil van sy eerste testament, het nou aan die lig gekom, kan Netwerk24 vandag eksklusief berig.

Luidens Smit se testament wat in Desember 2018 deur hom onderteken is, erf sy twee dogters uit sy eerste huwelik, Louie Smit en Martine Smit, alles.

Dié testament is op Vrydag 14 Junie, enkele ure nadat ’n roudiens vir Smit in Stellenbosch gehou is, gelees.

Netwerk24 het die eerste testament onder oë gehad. Dit is volgens bronne verlede week by die kantoor van die meester van die hooggeregshof ingedien.

Stefan Smit se begrafnisbrief. Foto: Jaco Marais

Sy weduwee, Zurenah Smit (53), kry volgens die testament van Desember 2018 net verblyfreg in die Stellenoord 8-aftreeoord in Stellenbosch.

Daar is glo ook ’n bepaling in die eerste testament dat die “voordeel” teruggaan na die boedel sou Zurenah te sterwe kom. Zurenah mag glo geskenke hou wat sy by Smit voor sy dood ontvang het.

Enige lenings wat sy voor sy dood aangegaan het of aan haar gemaak is, moet aan sy boedel terugbetaal word.

Volgens die eerste testament kry Louie en Martine ’n buitelandse belegging van Allan Gray Buitelandse beleggings. Die belegging is glo etlike miljoene rande werd.

Die res van sy boedel is bemaak aan die Ribbok Heuwels Trust. Die begunstigdes van die trust is Smit se suster en sy twee dogters. Esmé Smit, sy eerste vrou en ma van sy twee dogters, is een van die trustees van dié trust.

Maar volgens bronne na aan die Smit-gesin, het daar ’n week nadat Smit ter ruste gelê is en sy eerste testament gelees is, ’n tweede testament te voorskyn gekom.

Volgens dié bronne weet die polisie van dié situasie en kan dit dalk deel van die ondersoek vorm. Die testament is glo ook op 12 Januarie vanjaar deur Smit onderteken.

Dié testament se inhoud verskil volgens die bronne wesenlik van dit wat in die eerste testament staan.

Stefan Smit se dogters, Louie en Martine, in Junie by sy roudiens. Foto: Jaco Marais

In die testament van Januarie 2019 is Smit se weduwee, Zurenah, glo aangewys as die eksekuteur én hooferfgenaam.

Zurenah erf volgens dié tweede testament kontant en bates ter waarde van sowat R7 miljoen.

Sy kry as “trougeskenk” glo ook die plaas Louiesenhof, en ’n kwartgedeelte van die plaas Nooitgedacht, wat op die Koelenhofpad buite Stellenbosch geleë is, se inhoud en inkomste.

Volgens die tweede testament hoef Zurenah ook nie geskenke wat sy voor Smit se dood by hom gekry het, terug te gee nie. Sy moet wel lenings wat sy voor sy dood aangegaan het of aan haar gemaak is, aan sy boedel terugbetaal.

Zurenah word glo ook in die testament in Esmé Smit se plek aangewys as trustee in die raad van trustees van die twee familietrusts.

In die nuwe testament word 30% van die Watergang Trust glo ook “spesiaal” aan Zurenah bemaak.

Netwerk24 het in Junie berig die egpaar is luidens dokumente by die aktekantoor in 2005 buite gemeenskap van goedere getroud. Die aanwasbedeling het volgens daardie dokumente ook nie betrekking op Smit se testament nie.

Die eerste testament het daarvolgens beteken dat Zurenah op geen winste van die verkoop van die plaas Watergang kon aanspraak maak nie. Smit het die plaas in Mei vanjaar aan die Stellenbosse munisipaliteit vir meer as R45 miljoen verkoop.

Die res van sy boedel word dan volgens die tweede testament in gelyke dele aan Louie, Martine en Zurenah bemaak.

Bradley van EynslendFoto: Facebook/Bradley van Eynslend

Volgens die tweede testament het die eksekuteur van die testament volmag om kontrakte en sake wat in belang van die boedel mag wees, aan te gaan.

Watergang is in Augustus 2018 deur agterplaasbewoners van Kayamandi beset. Die plaas grens aan Kayamandi buite Stellenbosch.

Smit het hom tot die hooggeregshof in Kaapstad gewend om ’n interdik te kry om die onwettige besetters van sy plaas af te kry en om nuwe besetters te keer om onwettige strukture daar op te rig. Hy en die munisipaliteit het in daardie tyd begin onderhandel oor die plaas.

Smit is op Sondag 2 Junie vanjaar in sy huis op die plaas Louiesenhof doodgeskiet.

Netwerk24 het vroeër berig dat drie onbekende mans die Sondag tussen 18:30 en 19:00 by ’n oop deur ingekom het terwyl Smit, Zurenah en ’n 71-jarige familievriendin aandete geëet het.

Smit is glo drie keer met twee vuurwapens van verskillende kalibers geskiet – een keer in die kop, een keer in die bors en een keer in die gesig. Die eerste skoot was glo in sy kop.

Die vermoede bestaan dat ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer gebruik is.

Zurenah was glo in die kombuis besig om tee te maak toe die mans deur ’n oop deur ingestorm het.

Die vooraansig van LouiesenhofFoto: Maygene de Wee

Bradley van Eynslend (47), ’n persoonlike lyfwag, wat sedert Augustus 2018 vir die Smit-egpaar werk, was ook in die huis, maar in die gedeelte waar hy woon.

Die twee woongedeeltes word slegs deur ’n deur van mekaar geskei. Van Eynslend, ’n voormalige polisiekaptein, is die eienaar van Uvulo Holdings, ’n onderneming wat onder meer private veiligheidsdienste lewer.

Hy het die Maandag ná die voorval aan Netwerk24 gesê hy het eers van die voorval bewus geword nadat een van die vroue glo aan die deur gehamer het wat die wooneenhede skei.

’n Week ná die moord het dit egter bekend geword dat daar glo nog twee mans saam met Van Eynslend in sy wooneenheid was. Dié twee mans is blykbaar ook voormalige polisielede.

Van Eynslend is in diens geneem kort nadat agterplaasbewoners van Kayamandi Watergang onwettig beset het.

Verskeie pogings is aangewend om Zurenah om kommentaar te nader. Die telefoon by Louiesenhof het net gelui.

Die polisie het by navraag gesê dat die ondersoek nog voortgaan en dat niemand nog in hegtenis geneem is nie.

Meer oor:  Testament  |  Stefan Smit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.