Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weermag kry spioenasiebus

Die weermag se intelligensie-afdeling, Verdedigingsinligting (VI), het ’n spioenasiebus ter waarde van R30 miljoen uit China ingevoer, ’n voertuig wat die weermag die mobiele vermoë gee om selfoonoproepe te onderskep en af te luister.

Murray Hunter, nasionale koördineerder van R2K.

Rapport verneem van ingeligte intelligensiebronne dat die swart spioenasiebus net meer as twee maande gelede in die Durbanse hawe aangekom het. Die bus is uit VI se geheime fonds aangekoop.

Vrae word nou in die intelligensiegemeenskap gevra waarom militêre intelligensie die behoefte het aan tegnologie om burgerlike telefoonoproepe te onderskep. Daar word ook in sekere kringe gevrees dat die Chinese voertuig kan dien as ’n “Trojaanse perd” wat China in staat kan stel om op Suid-Afrika te spioeneer.

China is berug daarvoor om inligting op onderduimse wyse in die hande te kry. Dit kan – sou dit so gebruik word – daarop neerkom dat Suid-Afrika op sy eie mense en sake-ondernemings namens China kan spioeneer,” het Murray Hunter van die drukgroep Right2Know aan Rapport gesê.

Die weermag self wou by navraag geen woord rep oor hul Chinese aankoop nie, ook nie of groter samewerking met die Chinese op militêre gebied beplan word nie.

Hulle het wel bevestig dat daar tans ’n haalbaarheidstudie onderweg is vir ’n verskeidenheid van militêre inisiatiewe waarby Chinese finansiering en/of kundigheid ter sprake is.

Dit kan selfoon-oproepe onderskep.

“Sodra die studie afgehandel is, sal ’n finale besluit geneem word,” was al wat brig.genl. Mafi Mgobozi wou sê. Dié studies ondersoek waarskynlik die haalbaarheid van ’n Chinese klerefabriek in die weermag se Tek-basis in Centurion. Die fabriek sal uniforms vir soldate vervaardig. Daar is ook ’n aanbod op die tafel waarvolgens die Chinese by Youngsfield in Kaapstad ’n logistieke opleidingsentrum vir militêre gebruik wil oprig.

Dit is egter die spioenasiebus wat in intelligensiekringe die meeste ongemak veroorsaak – veral omdat niemand weet waar en vir watter doeleindes die bus gebruik gaan word nie.

Volgens Hunter is die weermag se mandaat eerstens om die land teen ’n eksterne bedreiging te beskerm. Die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) en misdaadintelligensie is verantwoordelik om binnelandse bedreigings af te weer. “Enige meeluistering of onderskeppings van telefoonoproepe is boonop onwettig, tensy dit deur ’n spesiale regter goedgekeur word.”

Hy sê in die verlede het VI omtrent nooit enige sodanige versoeke om meeluistering by ’n hof ingedien nie. “So, wat het intussen verander of het VI net die bus aangeskaf? Ek het ’n ernstige probleem met dié situasie.”

Sover vasgestel kan word, het die bus die vermoë om as ’n “mobiele selfoonmas” gebruik te word wat alle oproepe binne reikafstand na die bus se stelsels kan herlei.

“Dit kan selfs oproepe onderdruk of ontvangs beduiwel. Nie een van dié take val binne die mandaat van die weermag nie,” sê Hunter.

Volgens ’n oudlid van die SSA en deesdae ’n intelligensie-ontleder, wat weens sy werk anoniem wil bly, is daar eenvoudig niks wat so ’n bus se aanwending deur die weermag regverdig nie.

“Dit maak mens ongemaklik omdat mens nie weet tot watter mate dit in mense en sakemanne se kommunikasie kan inmeng nie. Kan dit byvoorbeeld vals e-posse stuur vir diskreditering in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing?”

Die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Lin Songtian, het aan Carien du Plessis gesê daar is ’n groot braakveld vir militêre samewerking tussen China en Suid-Afrika.

Daar is plaaslike militêre kundigheid waarby China graag wil baat vind.

“Ons is gereed om op alle vlakke saam te werk. Ons is goeie vriende,” het hy oor militêre samewerking gesê.

Meer oor:  Right2know
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.