Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weermag volg nie eie regsproses

’n Soldaat wie se diens beëindig is nadat hy rassehaat op Facebook verkondig het, en nog een wat glo ’n luukse weermag-BMW in ’n rooftog gebruik het, se ontslag is nie kragtens die korrekte prosedure gedoen nie en kan daarom onregmatig wees. Dit kan beteken dat maj. Mageti Mohlala en kpl. Jacob Marakalla, wat steeds hul salarisse kry, hul “oneervolle ontslag” sou kon beveg, sê ’n weermagvakbond.

Maj. Mageti Mohlala

Albei kry volgens die weermag se interne personeelstelsel (Persol) steeds hul soldy; hulle is nog nie intern aangekla nie; en hulle het albei steeds dienende status (die weermag dui dit aan as “MC”). Ná ’n behoorlike ontslagproses word soldate op die Persol-stelsel as “NA”, oftewel nieaktief, gemerk.

Volgens adv. Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu) kan soldate net oneervol ontslaan word nadat ’n vonnis in ’n militêre hof deur ’n regter opgelê is.

’n Brief van genl. Solly Shoke, weermaghoof, waarin hy egter summier die diens van Mohlala beëindig het, is volgens Greeff genoegsame gronde dat Mohlala dié stap suksesvol as onregmatige ontslag in ’n siviele hof sal kan aanvat.

Kpl. Jacob Marakalla

“Die weermag pas nie sy eie regsprosesse en die bepalings van die Verdedigingswet toe nie. Shoke dank Mohlala af op grond van ’n gedragskode, wat nie ’n regsgeldige rede vir die stap is nie. Slegs die Reglement van Dissipline (RvD) kan gebruik word vir so ’n stap.”

Die RvD is die riglyne waarvolgens soldate ingevolge die Verdedigingswet in militêre howe dissiplinêr vervolg word. Die weermag het boonop omgeswaai nadat hy vroeër gesê het Mohlala word slegs berispe en gewaarsku weens sy rassehaat.

AfriForum het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, einde Maart gevra waarom nog nie opgetree is teen Mohlala nie nadat hy op Facebook oor ’n moord in Randburg geskryf het dat die aanvallers eintlik die slagoffer se oë ook moes uitgesteek en sy tong verwyder het uit wraak teen apartheid.

Ook die VF Plus het Mapisa-Nqakula in die parlement oor Mohlala se ligte straf – hy is aanvanklik net berispe – voor stok gekry. Art. 105(1) van die Nasionale Verdedigingswet van 2002 maak dit ’n misdaad vir enige soldaat om vyandigheid te openbaar teenoor enigiemand op grond van onder meer hul ras, geslag, seksuele oriëntasie, ouderdom of geloof. Dit is klaarblyklik nie waarom Mohlala afgedank word nie.

In die kort brief wat hy op 17 Mei van Shoke gekry het, word aangedui sy diens word beëindig omdat hy die weermag in oneer gebring het.

Die ander soldaat wat ontslaan word, maar steeds in aktiewe diens is, Marakalla (35), word aangehou nadat die polisie hom in April in Limpopo vasgetrek het. Hy was die bestuurder van lt.genl. Barney Hlatshwayo, hoof van gesamentlike operasies.

Marakalla het dié generaal se BMW 540i met militêre nommerplate in ’n winkelrooftog gebruik.

Die polisie het vooraf inligting opgevolg dat hy deel was van ’n groep wat ’n transitorooftog in die Dzanani-omgewing in Limpopo sou gaan uitvoer. Marakalla staan reeds tereg op ’n aanklag van poging tot moord nadat hy verlede jaar met sy dienswapen op ’n vrou geskiet het.

Ook Marakalla se status op die Persol-stelsel is steeds “MC”, al het Mapisa-Nqakula verlede week met haar verdedigingsdebat gesê hy is reeds oneervol ontslaan.

“Die weermag se regsprosesse is nie daar om misdadigers te beskerm nie, maar om te verseker iemand word nie dalk in ’n ander geval onskuldig ontslaan nie. Die proses wat die weermag nou volg, kan in sy gesig ontplof,” sê Greeff.

Siphiwe Dlamini, weermagwoordvoerder van die weermag, het dié week verseg om te verduidelik hoekom die weermag skielik Mohlala se betigting in ’n brief van ontslag verander het.

Meer oor:  Jacob Marakalla  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.