Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Weg in Burkina Faso: Familie vrees

Christo Bothma (53) het die laaste jare baie probleme te bowe gekom. Eers was hy lank in die hospitaal ná ’n ernstige motorongeluk en toe raak hy werkloos en verloor omtrent al sy besittings.

Amanda en Christo Bothma.

Toe hy vroeër vanjaar uiteindelik weer werk kry by die Inata-goudmyn in Burkina Faso, kon hy weer hoop. Maar nou vrees sy familie vir sy lewe nadat hy verlede Sondag vermoedelik ontvoer is.

“Dit is ’n baie emosionele tyd vir die familie en die onsekerheid is die ergste,” het ’n familievriend dié week aan Rapport gesê. Bothma is boonop ’n suikersiektelyer en as hy nie daagliks medikasie gebruik nie, kan hy in ’n koma raak en sterf.

Akoliya Patel, die eienaar van die Inata-myn, het telefonies aan Rapport gesê sy seun, Vikram (26), was saam met Bothma toe hulle net ná 08:00 Sondagoggend van Inata na die dorpie Djiba toe gery het. Inata is sowat 200 km noord van die hoofstad Ouagadougou in die land se “rooi gebied” waar terreuraanvalle deur Moslem-ekstremiste voorkom.

Die twee mans se motorbestuurder, net bekend as Zale, was saam met hulle. Sedertdien is geen taal of tyding van hulle ontvang nie, het Patel uit Ghana, waar die Balaji-mynmaatskappy se hoofkantoor is, gesê.

Balaji het die myn enkele maande gelede oorgeneem. Dit was toe dat Bothma ook werk daar gekry het, het die familievriend vertel.

’n Week voor Bothma se verdwyning is buitelanders wat in die land werk, gewaarsku dat daar iets broei in dié geweldgeteisterde land.

Paul Kaba Thieba, die premier, het ook in ’n boodskap op sosiale media gesê die land is onder beleg van vreemde aanvallers. Hy het bygevoeg dat die aanvalle nie op die regering gemik is nie, maar op almal in die land.

Die departement van interna­sionale betrekkinge het Bothma se familie gevra om nie met die media te praat nie.

Volgens Patel het hy nog geen kontak met die ontvoerders gehad nie en ook nie enige eise om lospryse ontvang nie.

Luidens mediaberigte is die vermoede dat die drie mans moontlik oor die grens na Mali, waar verskeie Al-Kaïda- en verwante terreurgroepe skuil, geneem is.

Drie Burkinese polisiemanne wat na Bothma-hulle gaan soek het, is luidens AFP Maandag in ’n skermutseling met gewapende milisies doodgeskiet. Nog agt Burkinese soldate is Woensdag in dieselfde gebied dood in ’n landmynontploffing.

Daar werk nagenoeg 100 Suid-Afrikaners in die land.

Meer oor:  Christo Bothma  |  Burkina Faso  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.